Covid-19: Só lyk situasie in die Wes-Kaap

Dr. Keith Cloete. Foto: Armand Hough/African News Agency (ANA)

Die Tuinroete-distrik, een van die eerste distrikte om tot ʼn brandpunt verklaar te word, het die piek van sy tweede golf van Covid-19-infeksies bereik en toon nou ʼn volgehoue afwaartse trajek rakende die getal gevalle.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het gesê daar was egter ʼn toename in die getal sterftes in die distrik in vergelyking met die vorige week. In die Weskus-distrik is daar ʼn toename in gevalle met alle landelike distrikte wat tekens van stabilisering toon.

Die westelike subdistrik van die Kaapse metro het ʼn daling van 35% in Covid-19-gevalle aangeteken, wat volgens Cloete ʼn vroeë teken kan wees dat die gebied sy piek bereik het.

“Dit dui daarop dat die Wes-Kaap besig is om die piek van die tweede golf te nader en daarmee baie vroeë tekens van stabilisering, hoewel dit nog te vroeg is om seker te wees,” het Cloete gesê.

Die gesondheidsorgfasiliteite in die provinsie is steeds onder uiterste druk aangesien die tweede golf meer hospitalisering tot gevolg gehad het as die eerste, maar meer beddens is vir Covid-19-pasiënte beskikbaar gestel.

“In die Wes-Kaap het ons in die openbare sektor 7 537 beddens vir akute sorg,” het Cloete gesê. “Ons ervaar ook aansienlik meer sterftes in die tweede golf as in die eerste golf”.

‘n Saal in een van die Wes-Kaap se nuwe veldhospitale in Mitchells Plain. (Foto: Wes-Kaapse regering)

Daar is tans 3 290 Covid-19-pasiënte in hospitale vir akute sorg, 2 052 in openbare hospitale en 1 238 in private hospitale. Metrohospitale, veldhospitale uitgesluit, is tans gemiddeld 99% vol, terwyl hospitale op George 65% vol is, in die Paarl 70% en in Worcester 75%.

Gespesialiseerde Covid-19-fasiliteite soos Brackengate het 307 pasiënte en het ʼn totale kapasiteit van 336. Mitchells Plain se Hospitaal van Hoop het 64 pasiënte en het kapasiteit vir 200. “Die Wes-Kaapse departement van gesondheid bestuur sy gesondheidsorgkapasiteit as ʼn enkele platform, wat toelaat dat pasiënte van besige hospitale na minder besige hospitale verskuif kan word, en daarom moet die reaksie as ʼn enkele stelsel beskou word,” het Cloete gesê.

Daar is ook ʼn paneelbord ontwikkel waar die beskikbaarheid van hospitaalbedkapasiteit daagliks dopgehou kan word. Dit sal gekoppel word aan die beskikbaarheid van personeel en suurstofkapasiteit.

Cloete het gesê die gesamentlike gebruik van suurstof in openbare en private hospitale in die provinsie kom te staan op 76,4 ton.

“Ons betree ʼn onbekende terrein rakende suurstofgebruik in hierdie provinsie.” Hy het gesê gegewe die huidige gebruik sal die openbare en private sektor, insluitend militêre hospitale, die beskikbare aanbod van Afrox oorskry.

“Daar is noodplanne om te verseker dat hierdie toevoer tot 95 ton per dag verhoog word. Dit sluit vyf groot suurstoftenkwaens in wat hierdie week suurstof sal aflewer,” het Cloete gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.