Covid-19: Só lyk situasie in land se private hospitale

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Met die tweede golf van die Covid-19-pandemie op hande toets baie meer mense positief vir die virus as vroeër. Die Tshwane-metro het tans een van die hoogste toenamekoerse en dit word verwag dat die getalle meer kan word namate inwoners in die volgende twee weke na die stad terugkeer van ander provinsies en lande ná die vakansie.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het vroeër die week gesê dat, hoewel die getalle in dié provinsie besig is om te stabiliseer, daar meer mense gehospitaliseer word as tydens die eerste golf van die pandemie. Die metro-hospitale, sonder veldhospitale, se besettingskoers staan tans op 99%. Daarom het die provinsie meer Covid-19-beddens beskikbaar gemaak.

Onsekerheid heers egter onder die publiek oor die stand van sake by private hospitale. Het hospitale die kapasiteit om die toevloei van Covid-19- en ander pasiënte te hanteer?

Private hospitale se plan

(Argieffoto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die drie groot privaathospitaalgroepe, naamlik Mediclinic, Life Healthcare en Netcare, beklemtoon dat hulle steeds gehaltesorg bied aan pasiënte wat nie weens Covid-19 opgeneem word nie, soos onder andere vir trauma, noodgevalle en swangerskap. Die noodgevaleenhede bly te alle tye oop om potensieel lewensbedreigende noodgevalle te assesseer en behandel.

Bykomende wagkamers of toetsstasies word na behoefte opgerig om die volume pasiënte wat opdaag te hanteer. Talle fasiliteite het soortgelyke tydelike areas soos tente, tydelike strukture en bykomende sale ingerig, soos die behoefte hom voorgedoen het.

Nienoodsaaklike operasies is uitgestel, afhangend van die vraag na Covid-19-beddens op ʼn gegewe tydstip. Noodgevalle en dringende operasies sal egter voortgaan.

Volgens dr. Gerrit de Villiers, kliniese hoof van Mediclinic Suid-Afrika, het Mediclinic-hospitale gewoonlik sowat 1 000 beddens en 850 beskikbare ventilators in hul hoësorgeenhede. Tans, met die tweede golf van Covid-19, word die algemene beddens 60% tot 90% beset, met ʼn  noemenswaardige aantal pasiënte in noodafdelings. Intensiewesorgbeddens en ventilators ervaar die grootste druk met sommige hospitale en ventilators wat tans volledig beset is.

Hy voeg by dat die bewerings in die media en op sosiale media dat ongevalle en noodgevalsentrums ongewoon stil is, bloot onwaar is. “Hoewel elke poging aangewend word om pasiënte te akkommodeer, insluitend Covid-19-pasiënte, is die realiteit dat ons hulpbronne, veral personeel, noodgevalsentrumkapasiteit en kritiekesorghulpbronne onder erge druk verkeer.”

Dr. Charl van Loggerenberg, algemene bestuurder van die Life Healthcare-hospitaalgroep se noodmedisyne-afdeling, sê dat die aantal beskikbare beddens by al die Life-hospitale aanpasbaar is en gereeld herevalueer word. “In hierdie stadium ervaar hoësorgeenhede in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Gauteng druk en die getalle neem ook in ander provinsies toe.”

Hy voeg by dat die kapasiteit in enige hospitaal om Covid-19-infeksies te bestuur op ʼn aantal faktore berus, nie slegs die aantal pasiënte en beskikbare beddens nie. “Alle hospitale moet hul beskikbare personeel – verpleegsters, spesialiste en ander gesondheidswerkers – balanseer met die behoeftes van ander pasiënte wat vir verskeie gesondheidstoestande anders as Covid-19 in die hospitaal opgeneem word.”

Netcare Pholoso-hospitaal.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van die Netcare-hospitaalgroep, sê dat die getalle Covid-19-gevalle wat in die hospitaal opgeneem is, besig is om ʼn plato te bereik of af te neem in die Oos- en Wes-Kaap. “Limpopo ervaar egter tans ʼn ongekende toename in hospitalisasie, met Netcare se fasiliteit in Polokwane, Netcare Pholoso Hospitaal, wat meer as 100% vol is,” voeg hy by.

As deel van die rampbestuurbeplanning het die Netcare-groep ʼn tydelike eenheid ingerig wat tot 80 pasiënte kan huisves. Dit sal die druk op die nooddepartement by die hospitaal verlig en sal personeel in staat stel om pasiënte te stabiliseer voordat hulle in die hospitaal opgeneem word.

“Die ten volle lugversorgde eenheid funksioneer van 7 Januarie af en beskik oor suurstof, ablusiegeriewe en veilige areas waar verpleegsters en dokters hul beskermende toerusting kan aan- en uittrek. ʼn Bykomende 60 personeellede is na die hospitaal verplaas.”

Dr. Friedland voeg by dat Netcare-fasiliteite in KwaZulu-Natal ʼn toename in aanvraag vir beddens ervaar en dat dit na verwagting vir die res van Januarie so sal voortduur. In Gauteng ervaar die hospitale ook ʼn toename in Covid-19-pasiënte, ʼn situasie wat na verwagting vir die volgende twee weke sal voortduur.

Netcare het 10 411 hospitaalbeddens beskikbaar en is konstant besig om nog beddens gereed te maak vir die verwagte getalletoename in Gauteng. Om die druk op die nooddepartmente te verlig en die lang wagperiodes te verkort, word ook bykomende kliniese eenhede binne bepaalde hospitale ingerig.

Probleem van personeeltekorte

‘n Gesondheidswerker in Johannesburg maak gereed om ‘n Covid-19-toets te doen. (Foto: Luca Sola/AFP)

Al die private hospitale het ʼn beroep op personeel gedoen om vroeër van hul verlof terug te keer waar moontlik en nie lang verlofperiodes in hierdie tyd te neem nie sodat hulle beskikbaar is om ʼn gemeenskap in nood te help.

Sommige hospitale het ook sleutelmenslikehulpbronne na brandpuntgebiede geskuif en bykomende opleiding aangebied om personeel van ander eenhede in staat te stel om by die hoësorgeenhede te help. Verskeie dokters en kliniese medewerkers is gewerf om die hospitaalpersoneel by te staan, en ʼn aantal maatskaplike werkers is in diens geneem om pasiënte en hul families te ondersteun sodat die kliniese personeel uitsluitlik op hul kliniese pligte kan fokus.

“Ons het ook advertensies geplaas vir studente om op ʼn deeltydse basis te help,” voeg Friedland by.

Die Wes-Kaap is midde-in ʼn veldtog om meer as 1 300 bykomende gesondheidswerkers aan te stel en het toestemming van president Cyril Ramaphosa gekry om mediese personeel van die weermag in diens te neem vir bykomende ondersteuning.

Volgens Van Loggerenberg  het die eerste en tweede Covid-19-golf enorme druk op werknemers, ondersteuningspersoneel, verpleegsters en dokters geplaas, maar hulle bly gefokus op hul pogings om sowel pasiënte met Covid-19 as dié met ander kwale te versorg. “Ons moedig mense aan om as eerste stap hul huisdokters te besoek, wat die beste pad vorentoe vir hospitaalopname of behandeling kan vasstel,” sê hy.

De Villiers voeg by dat die situasie vloeibaar bly en op ʼn gereelde basis geëvalueer word. “Tog wil ons dit op die publiek se harte druk om hul eie gesondheid te bestuur en hul gedrag aan te pas om hul risiko vir infeksie te verlaag. Dit sluit in die dra van ʼn masker, sosiale afstand en gereelde handontsmetting. Maak ook alle oppervlakke gereeld skoon en vermy alle groot sosiale byeenkomste buite jou eie direkte familiekring. Dit is van kardinale belang dat enige iemand wat nie gesond voel nie, by die huis bly om sodoende die risiko vir gemeenskapslede te verlaag.”

“Ons wil die publiek daarvan verseker dat ons voortdurend ons beste doen om alle pasiënte wat by enige van ons fasiliteite vir gesondheidsorg aanklop, by te staan,” voeg Friedland by. “Die doeltreffendste manier om ʼn humanitêre krisis te vermy is vir almal om Covid-19 uiters ernstig op te neem en nog meer op hul hoede as ooit te wees. Bly asseblief waaksaam en beskerm sodoende jou geliefdes, jouself en die gesondheidsorgstelsel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.