Covid-19: Só lyk verspreiding in Wes-Kaap

Premier Alan Winde

Die Wes-Kaap het teen vroeg Saterdagoggend 446 bevestigde Covid-19-gevalle gehad.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het gesê 23 mense word in hospitale vir Covid-19 behandel en dat nege mense in die intensiewesorgeenhede van hospitale is.

Winde het Vrydag tydens die bekendmaking van die jongste statistiek gesê die provinsie het 418 bevestigde Covid-19-gevalle. Die getal gevalle het dus in 24 uur met 28 tot 446 toegeneem.

“Ons begin ʼn toename sien in gevalle van plaaslike oordrag en ons verwag bykomende druk op gesondheidsfasiliteite en -werkers.”

Winde het intussen bekend gemaak dat toetsing reeds vandag in sommige gemeenskappe begin het. Die siftingsproses het reeds in Happy Valley en Ilitha Park begin en volgens Winde het die provinsie se gesondheidsdepartement nog ander gebiede geoormerk waar die grootskaalse siftingsproses sal voortgaan.

Daar sal Maandag met toetsing in Khayelitsha, Bishop Lavis, Philippi en Mbekweni in die Kaapse Wynlande begin word. In die Bo-Kaap sal Dinsdag met die proses begin word. Gesondheidsorgwerkers kan uitgeken word aan hul uniforms en identiteitskaarte.

Winde het intussen Saterdag aan ʼn virtuele vergadering van die presidensiële koördineringsraad onder voorsitterskap van pres. Cyril Ramaphosa deelgeneem.

“Tydens my voorlegging het ek ook van die geleentheid gebruik gemaak om my kommer uit te spreek oor voorvalle van polisiebrutaliteit. Hierdie voorvalle moet veroordeel word en ons doen ʼn beroep op al diegene met klagtes om dit by Opod (onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat) aan te meld.”

Volgens Winde het hy ook ʼn paar punte geopper tydens die gesprek oor die regulasies van die afsonderingstydperk. “Ek het ʼn benadering van gesonde verstand versoek wat byvoorbeeld sal toelaat dat toerusting wat benodig word vir e-leer vir studente tydens die afsonderingstydperk gekoop kan word.”

Winde het gesê hy het ʼn lys van kwessies wat daar duidelikheid oor nodig is aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gestuur. “Ons sien uit na verdere gesprekke sodat duidelikheid verskaf kan word.”

Die jongste beskikbare Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap:

Kaapstadse metro: Westelike voorstede (130), suidelike voorstede (116), noordelike voorstede (24), oostelike voorstede (19), Tygerberg (34), Klipfontein (15), Mitchells Plain (7) en Khayelitsha (2). Totaal van 347.

Tuinroete: Bitou (5), Knysna (10), George (12), Hessekwa (5), Mosselbaai (11) en Oudtshoorn (2)

Kaapse Wynlande: Stellenbosch (16), Drakenstein (6), Breedevallei (5) en Langeberg (1)

Overberg: Overstrand (9), Theewaterskloof (1)

Weskus: Saldanhabaai (1) en Swartland (2)

Ongeallokeerd: 13

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fedup

En hier begin die regte probleme nou.

Strandloper

Hoop van harte dit is korrek…scary as daar meer mense sterf aan die hand van die veiligheids magte as die virus…

Die Wolf

Ten minste word daar behoorlike statistiek met areas aangegee. Doet so voort. Iemand kan gerus leer

Die Wolf

Praat eerder met jou muur in die huis. Jy sal meer uitgerig kry.