Covid-19: Só maak Gauteng gereed vir vloedgolf infeksies

Argieffoto van Johannesburgse gesondheidswerkers. (Foto: Michele Spatari /AFP)

Sowat 91% van hospitaalbeddens in Gauteng se private sektor is tans vol terwyl die provinsie se staatsektor in dié stadium 61% van sy kapasiteit bereik het.

Dít te midde van die “tsoenami” infeksies wat Gauteng volgens die direkteur-generaal van gesondheid, Sandile Buthelezi, getref het.

Die provinsie se gemiddelde aantal nuwe Covid-19-hospitaalopnames oor ’n tydperk van sewe dae het teen 23 Junie op 631 gestaan. Dít nader nou die gemiddelde getal hospitaalopnames (649) wat gedurende die piek van die tweede virusgolf in Gauteng opgemerk is.

Dr. Ntsakisi Maluleke, verbonde aan die Gautengse departement van gesondheid, het Vrydagoggend gesê meer as 9 000 bykomende hospitaalbeddens is te midde van die derde golf in staats- en private hospitale bekom.

Dít nadat modellering getoon het dat tot 9 500 hospitaalbeddens in die private en staatsektor in Gauteng vir die derde vlaag benodig word. Die provinsie moes dringend planne beraam nadat modellering aanvanklik aangedui het dat die provinsie hoogstens 8 000 hospitaalbeddens sou benodig.

Nóg 4 050 ongebruikte staatshospitaalbeddens is sedertdien heraangewend om in die hoër as aanvanklik verwagte vraag na hospitaalbeddens te voldoen.

“Ons het aan die begin van hierdie golf 2 728 beddens [in staatshospitale] gehad. Nog 1 322 bykomende beddens is spesifiek vir Covid-19-gevalle tot die stelsel gevoeg,” sê Maluleke.

Dít terwyl Gauteng se private hospitale nog 5 635 hospitaalbeddens, waarvan 1 749 in waak- of hoësorgeenhede is, bekom het.

Die departement is ook genoop om sy begroting aan te pas en nog 5 000 mediese werkers is gewerf om die las op die provinsie se gesondheidstelsel te help verlig.

Maluleke het vanoggend daarop gewys dat die hospitale in Johannesburg, veral die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, tans steier. Die Tshwane-distrik wek ook steeds kommer ná uitbrekings in die distrik tussen ʼn week en twee weke gelede.

Die hospitale aan die Wes-Rand verkeer die afgelope twee weke onder meer druk en daar word vermoed dat pasiënte wat oorspronklik na die Charlotte Maxeke-hospitaal sou gaan, nou na dié hospitale stroom.

Hospitale in Ekurhuleni verkeer in dié stadium nie onder soveel druk soos dié in die provinsie se ander distrikte nie.

Maroela Media het vroeër berig Gauteng is in dié stadium steeds verantwoordelik vir die meeste nuwe gevalle (59%) met 12 806 nuwe gevalle sedert die vorige verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet parys ·

Hoe werf n mens mediese werkers.? KYK OF DIE UNIFORM PAS DAN HET JY DIE WERK? VAL HULLE NOU UIT DIE LUG SONDER OPLEIDING.

thejudge ·

NIKS omtrent Covid óf hierdie berig is snaaks of ‘n grap nie! Kom by Anel!

Marianna ·

Hospitale steier omdat daar nooit in die verlede opgegradeer is nie, nes Eskom. Daar is nie nuwe hospitale gebou nie. Die populasie het die afgelope 27 jaar gegroei maar geen nuwe hospitale, skole ens. nie. Wat verwag mens?

Adri ·

Presies! Wat het van die biljoene wat die regering ontvang het om o.m. hospitale te bou, geword?

Marie ·

Ek is elke dag sprakeloos oor die vlak van minagting wat heers vanaf die sogenaamde staatsdiensbeamptes in hoë posisies na die bevolking wat die belastinggeld moet betaal. Dit is waarskynlik te moeilik vir hulle om toe te gee dat hulle heel eenvoudig nie die kapasiteit het om hierdie probleem te behartig nie.

Peetjie ·

Help my asb reg..Is daar nie miljoene rande uitgegee op sogenaamde veld hospitale nie?… Wat het van hulle geword? Wat het van die toerusting geword wat daar gebruik was?
Moes daai veldhospitale nie gereed gestaan het vir die vlaag C19 nie? Hulle het tog al lankal “voorspel” dat die Delta virus erger sou wees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.