Covid-19: Soveel in SA nou siek

Lede van die afvaardiging op pad om Suid-Afrikaners uit Wuhan terug te bring.

Die getal persone in Suid-Afrika wat sedert Sondagoggend positief vir die nuwe koronavirus getoets het, het tot 62 gestyg.

Die mees onlangse geval is na berig word in die Paarl Mediclinic in die Wes-Kaap aangemeld. Die persoon het positief getoets vir Covid-2019, maar is nie in die hospitaal opgeneem nie. Tertia Kruger, woordvoerder van Mediclinic Suid-Afrika, het gesê die persoon is huis toe gestuur vir self-isolasie.

“Die hospitaal volg, in samewerking met die departement van gesondheid, tans op met alle persone wat met die pasiënt in kontak was. Mediclinic hou by die streng protokol soos bepaal deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes (Nios) en die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) om die oordrag van die virus in ons fasiliteite te verhoed en ons personeel te beskerm,” het Kruger bygevoeg.

“Maandagoggend is 62 gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld. Daar is waarskynlik meer gevalle, maar dit moet nog bevestig word,” het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandag gesê. “Ons wil ook noem dat twee moontlike gevalle van plaaslike verspreiding aan die Nasionale Sentrum vir Oordraagbare Siektes (Nios) voorgelê is. Dié gevalle moet nog bevestig word en ons is besig  om toetse uit te voer en te probeer vasstel met wie hierdie persone almal in kontak was,” sê Mkhize.

Die elf nuwe gevalle is oor die volgende provinsies versprei:

Argieffoto (Foto: skeeze/Pixabay)

Gauteng: 7 

  • ʼn 33-jarige man wat na Spanje gereis het
  • ʼn 68-jarige vrou wat na Oostenryk gereis het
  • ʼn 30-jarige man wat na Indië gereis het
  • ʼn 39-jarige man wat na Amerika gereis het
  • ʼn 43-jarige vrou wat na Amerika gereis het
  • ʼn 50-jarige man wat na Frankryk en Brittanje gereis het
  • ʼn 37-jarige man wat na Amerika, Dubai en Meksiko gereis het

Wes-Kaap: 2 

  • ʼn 39-jarige man wat na Kanada gereis het
  • ʼn 15-jarige seun wat na Frankryk gereis het

Limpopo: 1

  • ʼn 29-jarige man wat na Frankryk en Nederland gereis het

Mpumalanga: 1 

  • ʼn 55‑jarige man wat na Frankryk gereis het

Een van die kamers by The Ranch Hotel (Foto: The Ranch Resort)

Intussen het die vliegtuig met 114 Suid-Afrikaners aan boord, Saterdag uit Wuhan geland. Dié groep is nou vir twee weke by The Ranch Hotel in Limpopo onder kwarantyn geplaas. Volgens Mkhize is alle lede van die groep weer vir Covid-19 getoets en wag die departement nou vir die uitslae. “Vier van die Suid-Afrikaners wat opgedaag het om gerepatrieer te word, moes egter in China agterbly omdat hulle etlike van die simptome van die koronavirus getoon het. Dit is om te keer dat persone wat dalk die virus onder lede het, in dieselfde vliegtuig as gesonde burgers terugvlieg.” Mkhize sê die regering bly in kontak met dié Suid-Afrikaners, wat in kwarantyn in hul huise bly.

Mkhize sê twee van die burgers wat wel teruggekom het, toon net ʼn ligte hoes, maar sal ook in afsondering van die res van die groep gehou en fyn dopgehou word.

Die minister het ook beklemtoon dat Suid-Afrikaners met longkwale of wie se immuunstelsel nie so sterk is nie, meer vatbaar is vir die virus en erge simptome daarvan kan toon.

Hy sê net omtrent 1% tot 3% van persone wat die virus opdoen, sterf daaraan en sowat 15% moet gehospitaliseer word. “Die res moet net in kwarantyn in hul huise bly.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Geen land in die wereld het pasiente op staatskoste na ‘n luukse lodge toe gestuur nie ! Een vet leuen om geld uit te suig . Dis die waarheid .

Dries ·

Ek dink nadese gaan mense in elk geval baie skugter wees om by daai lodge tuis te gaan, so dit sal hulle nog inhaal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.