Covid-19: Sóveel plek het Gautengse hospitale nog

Meer as 1000 Covid-19-pasiënte word tans in intensiewe- en hoësorgeenhede in Gauteng behandel. (Foto ter illustrasie: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

Dit blyk dat private én openbare hospitale in Gauteng te midde ’n derde Covid-19-vlaag beperkte hospitaalbeddens beskikbaar het. Boonop het dié provinsie, wat tans 19 877 aktiewe Covid-19-gevalle het, die afgelope week die skerpste toename in nuwe gevalle sedert die begin van die jaar getoon.

Luidens statistieke wat Vrydag deur die Gautengse provinsiale bevelsraad bekendgemaak is, het die provinsie nog net meer as 1 000 hospitaalbeddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar. Soveel as 15 291 mense het die afgelope week in dié provinsie positief vir die virus getoets.

Die meeste gevalle is in Atteridgeville, Laudium, Pretoria-middestad, Hercules en Danville aangeteken.

Die aantal positiewe Covid-19-gevalle in skole het ook toegeneem, met altesaam 2 068 bevestigde gevalle onder leerders, onderwysers en personeel in Tshwane, Johannesburg, die Wes-Rand, Ekurhuleni en Sedibeng.

Covid-19 in Gautengse hospitale

Altesaam 2 956 Covid-19-pasiënte word tans in ʼn hospitaal behandel, waarvan 753 in openbare hospitale en 2 203 in private hospitale.

Soveel as 116 pasiënte in staatshospitale en 841 pasiënte in private hospitale word tans in intensiewe- en hoësorgeenhede behandel.

Maroela Media het onlangs berig dat verskeie private hospitale in Gauteng tans probleme met kapasiteit vir die behandeling van Covid-19-pasiënte het.

Daar is ook van verskeie pasiënte verneem wat oor die afgelope paar dae noodgedwonge weens ’n tekort aan hospitaalbeddens by private hospitale weggewys is.

Volgens die statistieke is daar tans 2 728 funksionele Covid-19-hospitaalbeddens in die openbare sektor, waarvan 1 671 reeds in gebruik is. Daar is glo nóg 728 beddens beskikbaar, wat tans ingerig word.

Die Gautengse provinsiale regering se Nasrec-veldhospitaal wat in April verlede jaar oopgemaak het, het 1 000 beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar gehad, maar is in Februarie vanjaar gesluit “danksy die uitbreiding van die staatsgesondheidsorgstelsel.”

Tydens die eerste vlaag van Covid-19 was 3 260 beddens vir Covid-19-pasiënte in Gauteng beskikbaar en 4 093 tydens die tweede vlaag.

Toenemende waterprobleme weens die swak instandhouding van infrastruktuur het oor die afgelope weke tot verhoogde kapasiteitsprobleme by staatshospitale bygedra.

Statistieke dui aan dat dié tekort ’n reuse-impak op veral die Helen Joseph-, Chris Hani Baragwanath- en die Rahima Moosa-hospitaal het. Laasgenoemde beleef al weke lank ernstige probleme nadat watervoorsiening aan dié hospitaal en omliggende gebied op 19 Mei gestaak is.

Die noodlenigingsgroep Gift of the Givers het Woensdag begin om boorgate by dié hospitaal te boor in die hoop om die waterkrisis te verlig.

Boonop dien dié hospitaal as ’n voerhospitaal vir die tydelik geslote Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. Dié hospitaal is in April deur ʼn brand beskadig.

Charlotte Maxeke het luidens die statistieke 425 beddens vir Covid-19 beskikbaar, maar is sedert 17 April gesluit nadat ’n brand by dié hospitaal uitgebreek het. Dié hospitaal het nou slegs 182 Covid-19-beddens beskikbaar.

Die onkologiese afdeling by Charlotte Maxeke sal na verwagting Maandag heropen indien die nodige goedkeuring ontvang word.

Die Gauteng provinsiale regering het ook aangedui dat hy die afdelings wat nie deur die brand beskadig is nie “sonder verdere uitstel” wil heropen, hoewel ʼn datum nie verskaf is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johanna ·

Iewers kan iemand NIE die somme mooi uitwerk nie, daar word net van Gauteng gepraat maar die syfers werk nie uit nie. Dit klink soos die Polisie se misdaad statistiek wat ook nie sin maak nie.

MakersMark ·

Wonder waar is al die balhoriges en beterweteriges nou? 1000 mense in hoësorg en intensief in Gauteng alleen in die hospitaal agv CV19. Seker hul is daar vir ‘n rede.

Karel Kobus Kruger ·

Ons balhoriges is hier buite die hospitale, saam met miljoene asimptomatiese mense en mense met ligte simptome.

Fritz ·

Ek is hier by n helse groot binneshuise opskop saam met n swetterjoel ander mense. Skouer aan skouer. Nie n masker in sig nie.

MakersMark ·

Kyk seker na ‘n video van ‘n party waarheen jy nie genooi was nie…….

Thom ·

As dit die waarheid is , hoop ek dat julle almal sal kry wat julle verdien .

MakersMark ·

Dink dis spul snert, die wat groot mond is oor hul eie braafheid is gewoonlik die grootste lafaards.

Dirk Mostert ·

Sal nie verbaas wees as daar ‘n verband is tussen entings en nuwe gevalle in Gauteng nie, soos duidelik blyk in Indie se statistieke.

Sarel ·

Staatshospitale…wanneer laas het enige lid van die opposissie of selfs die MRK did Staztshospitalevin Gauteng besoek. Die plekke het glo nie water of ekektriseteit nie en Pasiente sterf a.g.v. gebrek aan basiese
Toerusting en geriewe.
Masr die MRK is vinnig om by ‘n skool in te meng

4ntj13 ·

Sewe dag gemiddeld van nuwe getalle per 100 000 inwoners…
Dis 37.4 vir Discovery lede in Wonderboom teenoor 64.9 vir lede in Bloemfontein. Ek sou eerder sê die toi-toi se effek begin in Bloem wys…

quartus ·

Hoe gebeur dit dat daar meer pasiente in privaat hospitale behandel word as in staatshospitale? Dit maak geen sin nie. Slegs n klein deltjie van die bevolking kan bekostig om na privaat hospitale te gaan.

Jedi Knight ·

So met n bevolking van 15.5 miljoen, is 99.994% van Gauteng se bevolking nie ernstig siek nie.

MakersMark ·

Maar 56000 mense in Suid Afrika is siek, en baie sal hospitaal toe gaan. Mense se lewens is nie persentasies nie, al word dit so voorgestel deur statistiek. Elke lewe tel, en vir baie maak dit nie saak hoeveel sterf nie “net solank ek ok is”. En sonder drastiese verandering in die Rambo gedrag van SA’nrs gaan nog meer siek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.