Covid-19: ‘Spesiale aandag’ vir kinders jonger as vyf

Die nasionale departement van gesondheid sê spesiale voorsorgmaatreëls word getref vir die hospitaalbehandeling van kinders wat Covid-19 opdoen. (Foto: Maroela Media)

Die departement van gesondheid sê spesiale aandag sal gegee moet word om hospitaalbeddens in pediatriese sale vir kinders voor te berei, te midde van ʼn skerp styging in gevalle onder kinders jonger as vyf.

Die Omikron-variant het die afgelope week gesorg vir ʼn aansienlike styging in die positiwiteitskoers onder dié wat vir Covid-19 getoets het, hoewel matige simptome tot dusver aangemeld is.

Bykomende data sal oor die volgende paar weke versamel word om te probeer bepaal waaraan die styging, veral onder kinders, toegeskryf kan word. Net in Gauteng word meer as 100 kinders jonger as vyf tans vir Covid-19 in hospitale behandel.

Dr. Waasila Jassat, verbonde aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê egter ʼn toename in hospitaalopnames van kinders kan moontlik toegeskryf word daaraan dat hulle in hierdie stadium nog aan die drempel vir opname voldoen.

“Dit is moontlik dat kinders as voorsorgmaatreël opgeneem word terwyl beddens beskikbaar is – dus word meer jong kinders opgeneem – terwyl hulle later in die vlaag nie meer aan die kriteria vir opname sou voldoen nie,” sê sy.

Daar is wel nie in dié stadium enige merkbare toename in die algehele opname van Covid-19-pasiënte in hospitale nie.

Kinders word moontlik ook vir ander mediese toestande of gekose prosedures opgeneem en dan vir Covid-19 getoets, selfs al toon hulle nie simptome nie, of is hulle nie ernstig siek nie. Jassat sê terwyl beddens beskikbaar is – anders as tydens die piek van ʼn vlaag wanneer daar groot druk op beskikbare hospitaalbeddens is – word kinders vir onder meer koorsbeheer of ontwatering en diarree in hospitale behandel.

Jassat sê ook die meeste kinders wat in hierdie stadium in Gautengse hospitale vir Covid-19 behandel word, se ouers is nié ingeënt nie. “Ouers wat ingeënt word, beskerm die kinders,” sê sy.

Vinnige toename in gevalle

Intussen duur die skerp styging in positiewe gevalle voort. Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, sê dit is nog nie ʼn bedreiging vir hospitale nie en in hierdie stadium word net minder as 3 000 mense landwyd vir die koronavirus in hospitale behandel.

Die minister waarsku egter dat gesondheidswerkers wat moet isoleer – selfs al is die meeste van hulle ingeënt en meestal ʼn matige vorm van infeksie opdoen – ʼn tekort aan personeel kan veroorsaak en druk op die stelsel kan verhoog.

Intussen het nuwe gevalle die afgelope week met 300% opgeskiet en die positiwiteitskoers staan tans op meer as 22%. Tydens die piek van die derde golf, het dié koers op 24% gestaan.

Die skerp styging het aanvanklik in die Tshwane-metrogebied begin, maar het nou na die res van die provinsies versprei en stygings word in alle provinsies – benewens die Vrystaat en Noord-Kaap waar die koers nog betreklik laag is – aangemeld.

“Die aanduidings is dat die [Omikron]-variant hoogs aansteeklik is en diegene insluit wat ingeënt is. Die infeksie veroorsaak nou nog matige siekte, veral in diegene wat ingeënt is,” sê Phaahla.

Die reproduktiewe koers van die virus het verlede maand boonop beduidend toegeneem. Dit beteken die getal ander mense wat iemand met Covid-19 kan aansteek, is nou hoër. In Gauteng staan dié syfer op twee infeksies per pasiënt, terwyl dit in ander provinsies net meer as een persoon per pasiënt is. Dit is die hoogste syfers wat nóg sedert die uitbreking van die pandemie aangemeld is.

Minder ernstig siek?

Phaahla sê daar is egter nog geen sekerheid dat die variant nié ernstige siekte onder sommige pasiënte kan veroorsaak nie, hoewel inenting steeds goeie beskerming bied.

In hierdie stadium kry die meeste mense nog ʼn redelik matige vorm van die siekte, maar dr. Michelle Groome, hoof van waarneming en reaksie by Nios, sê dat meer ernstige gevalle van die siekte gewoonlik eers later in ʼn vlaag, sowat ʼn week of twee weke ná die aanvanklike diagnose, opgemerk word.

Sy sê dit is nie moontlik om nou met sekerheid te sê of die Omikron-variant minder ernstige simptome gaan veroorsaak nie, maar dat bykomende data ook weldra meer duidelikheid hieroor sal gee.

Groome sê daar is vroeër aanduidings dat die nuwe variant die immuunstelsel tot ʼn mate kan omseil en die kans bestaan dat diegene wat reeds Covid-19 opgedoen het, weer geïnfekteer kan word – selfs al is hulle ingeënt.

In hierdie stadium is dit ook nie moontlik om te sê of spesifiek die Omikron-variant al enige sterftes veroorsaak het nie, omdat elke geval nie spesifiek daarvoor getoets word nie.”

Afsonderingsmaatreëls

Op ʼn vraag oor of inperkingsmaatreëls opnuut verskerp gaan word om die stygende infeksiegetalle in bedwang te probeer hou, sê Phaahla die nasionale koronavirusbevelsraad sal binne die volgende paar dae weer vergader om die situasie te oorweeg.

Belanghebbendes het verlede week ook vergader, maar pres. Cyril Ramaphosa het in sy toespraak Sondagaand geen strenger inperkingsvlak of strenger maatreëls ingestel nie.

Hy sê daar sal onder meer gekyk word na die druk op hospitale, of na gebiede waar daar ʼn spesifieke behoefte is om inperkingsvlakke te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Dit gaan my verstand te bowe dat siekes, of dit nou kinders, babas, oud of jonk is, geklassifisser word wie gehospitaliseer mag word en wie nie. Al daardie Miljoene rande wat verniet uitgelê was vir Covid 19 se eksterne hospitaal geriewe is nou vergete. Die wat die besluite neem moet ‘n slag in die betrokke familielede se skoene staan en dan sien ons wat gebeur.

Alida ·

Wanneer daar nie genoeg hospitaalbeddens of personeel is vir almal wat dit nodig het nie, moet daar noodwendig keuses uitgeoefen word. Daarom is dit belangrik om alle moontlike voorsorgmaatreëls te tref om te sorg dat die situasie nie ontstaan waar mediese personeel hoef te besluit watter een van drie of vier kritiek siek pasiënte die enkele beskikbare bed in die ICU moet kry nie, soos wel telkemale in die vorige covid-vlaag gebeur het. Daarom is inenting belangrik, nie om te keer dat niemand nooit ooit weer siek word nie, maar om mense uit die hospitaal te hou.

Alida ·

Ek wil net byvoeg by my vorige kommentaar dat dit nie help om mijarde rande se hospitaalgeriewe in te rig as daa r nie opgeleide personeel is om dit te beman nie. En personeel word nie binne ‘n paar maande voldoende opglei vir die vlak van sorg wat nodig is vir pasiënte wat kritieke sorg nodig het nie.

madels ·

Dis amazing hoe intelligent hierdie virus is wat besluit eers was dit die bejaardes wat geteiken was, toe die tieners en nou die kleuters en klein kindertjies, sjoe! Ek is totaal stomgeslaan!!!

Johan ·

Ouers van sulke jong kinders wat gan toelaat dat hulle kinder gejab moet word, weet nie watse probleme hulle vir daai arme kinder gan skep nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.