Covid-19-spesialis vertel: ‘Keuse tussen lewe en dood’

Dr David Stead (Foto: GroundUp/Johnnie Isaac via ANA)

“Gelukkig is ons nog nie op daai punt waar ons moet besluit wie suurstof kry en wie nie. Ons grootste vrees op hierdie stadium is dat ons suurstof kan opraak.”

Só vertel dr. David Stead, ʼn spesialis in oordraagbare siektes in die Oos-Kaap, wat as gesondheidswerker die negatiewe uitwerking van die provinsie se gebroke gesondheidstelsel tydens die Covid-19-pandemie ervaar. Hy moet daagliks lewensbelangrike besluite neem by die Covid-19-sale by die Cecilia Makiwane- en die Frere-hospitaal in die Oos-Kaap, wat pasiënte se kans op oorlewing kan bepaal. Hy het self ook al die virus al opgedoen.

As senior spesialis is Stead verantwoordelik vir besluite wat pasiënte in die Covid-19-sale se kans op oorlewing kan bepaal. Van die besluite behels watter pasiënte meer as net suurstofmaskers benodig, watter kritieke pasiënte na die intensiewesorgeenheid geskuif moet word, asook die aantal pasiënte wat in die Covid-19-sale opgeneem kan word. Hy moet ook toesig oor junior dokters hou.

Stead sê die provinsie se gesondheidsektor wat besig is om in duie te stort en die groot tekort aan personeellede dra by tot die druk wat gesondheidswerkers in dié provinsie se hospitale ervaar. Hiermee saam styg die aantal Covid-19-gevalle daagliks.

“Indien pasiënte se toestand met ʼn suurstofmasker vererger, moet hulle na ’n hoër versorgingsvlak skuif, en kapasiteit is op die oomblik baie beperk,” sê Stead. Hy sê van die pasiënte het meganiese ventilators nodig, maar toegang tot dié ventilators is uiters beperk by die provinsie se gesondheidsfasiliteite. Hy sê hulle kan ook nie altyd die nodige intensiewe sorg aan pasiënte gee nie.

Stead sê die beplande veldhospitaal by die Mercedes-Benz-aanleg in Oos-Londen en die voortgesette opknapping van die Cecilia Makiwane-hospitaal om ruimte vir bykomende beddens te skep, sal druk op gesondheidswerkers en die -stelsel verlig.

Hy sê talle gesondheidswerkers in die provinsie het ook reeds positief vir die virus getoets, wat bydra tot die tekort aan personeel. Paniek het ook onder personeel ontstaan weens die virus wat so vinnig onder personeellede versprei het. Van die eenhede in die hospitale was ook gesluit weens die groot tekort aan personeel. “Dit was buitengewoon uitdagend,” sê Stead.

“Ons het al meer as 150 personeellede by Cecilia Makiwane-hospitaal gehad wat positief getoets het, hoewel sommige van hulle reeds herstel het en weer teruggekeer het,” sê hy. Stead sê personeellede by albei hospitale waar hy betrokke is, het ook al weens die virus gesterf.

“Covid-19 het ʼn werklikheid vir ons almal geword toe ons van ons kollegas verloor het.”

Stead het self ook die virus in die hospitaal opgedoen. “Al het ek die veiligheidsmaatreëls streng gevolg en my beskermingsklere gedra, het ek dit steeds gekry. Ek was in noue kontak met Covid-19-pasiënte en ook kollegas wat positief getoets het.” Stead het saam met sy vrou en drie kinders tuis geïsoleer.

“Ons kry heeltyd te doen met pasiënte wat aan Covid-19 sterf. Dit veroorsaak baie druk vir verpleegsters, veral diegene wat baie na aan die pasiënte gewerk het en nou hul dooie liggame moet toemaak, ” het Stead gesê.

Stead sê die personeellede het ook meer gemaklik geraak om met Covid-19-pasiënte te werk nadat hulle daagliks daarmee gekonfronteer was.

Stead sê hy glo die stryd teen Covid-19 sal op gemeenskap- en persoonlike vlak gewen word. Hy waarsku ook dat mense nie losbandig moet raak nie en die veiligheidsmaatreëls streng moet volg.

“Dit kom daarop neer dat elke individu verantwoordelikheid moet neem om nie Covid-19 te versprei nie. Mense begin kanse waag deur by hul vriende te kuier en partytjies te hou. Ek dink hulle verstaan nog nie hoe ernstig die virus is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lorna

Baie dankie DR vir jou harde werk en dankie dat jy die besluite moet neem en nie ek nie

Wielspore

Dit is werklik iets besonders as iemand kan bydrae lewer tot die oorlewing en toekoms van mense wat Covid 19 opgedoen het. Goeie werk gaan nooit ongesiens verby, ek dink ek praat namens baie Suid Afrikaners as ek Dr David bedank vir sy goeie werk.
Die grootste verantwoordelikheid is by elkeen van ons om te verseker dat familie en vriende nie onnodig blootgestel word aan die virus. Gee om vir die mense deur voorsorg te tref, binnekort gaan dit beter dan kan ons weer saam kuier.

Sarel

Dit is die Provinsie wat geld gehad het om ( a.g.v. Apartheid) Motorfietsambulanse aan te koop?

Sarel

Dank en erkrnning aan ons Mediese Personeel wat ten spyte van alles nog hulle werk doen.

Henk

Die twee Amish manne staan bymekaar en praat oor die covit 19 en die een vra hoekom dit hulle nie affekteer nie , sê die ander een ; dis omdat ons nie televisie het nie .
Ek voel nogal soos hy .