Covid-19: Stad Kaapstad voorspel groot finansiële verlies

Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad het ‘n spesiale kwarantynafdeling vir pasiënte met Covid-19. (Foto: Ian Landsberg/ANA)

Die Stad Kaapstad doen ’n beroep op sy inwoners om hul munisipale rekening getrou te betaal aangesien die Stad nou miljoene rande se ekstra uitgawes het weens die Covid-19-pandemie.

Die Stad het Woensdag in ’n verklaring gesê hy moet nou maandeliks R40 miljoen meer opdok om gesondheidswerkers en skoonmakers van beskermende drag te voorsien. Die Stad verwag ook om binnekort op te dok om bykomende ondersteuning vir sy gesondheidstelsel te bied.

“Afhangend van hoe dit bestuur word, sal die Stad ʼn maandelikse tekort van tussen R1 miljard en R3 miljard hê,” lui die verklaring.

“Die stad is afhanklik van inkomste uit tariewe en dienste om dienslewering te verseker. Betaal asseblief jou rekening om ons te help om Covid-19 te beveg,” het Ian Neilson, adjunkburgemeester van Kaapstad, gesê.

“Ervaring toon dat dit baie moeilik is om agterstallige betalings later te verhaal, omdat inwoners wat agterstallig is, nie op ʼn later stadium meer kan betaal om op datum te kom nie. Dit lei tot onstabiele en dikwels verwoeste munisipaliteite, soos ons kan sien uit die talle voorbeelde in Suid-Afrika,” het Neilson gesê.

Argieffoto (Foto: Aloysius/Pixabay)

Luidens die verklaring kan die Stad dit ook nie waag dat dienslewering in die slag bly nie. “Water word reeds gratis aan 40% van die stad se inwoners verskaf om ʼn bietjie van die finansiële druk te verlig. Ons kan egter nie beduidende finansiële steun bied met ʼn begroting van R50 miljard nie.” verduidelik Neilson. “Met dié begroting moet ons seker maak dat basiese dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie steeds te midde van die pandemie gelewer word.”

Beperkings op openbare vervoer, soos MyCiti-busse wat minder passasiers vervoer, help ook nie die situasie nie aangesien dié diens nie inkomste genereer nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Betaal tog asb julle rekeninge anders gaan ons weer gebuk gaan onder drastiese verhogings

Jaco ·

Jip, ek gaan nog hierdie maand getrou betaal, en nog volgende maand, maar afhangende van hoe ver my onderneming gaan “tank”, weet ek nie of dit oor n paar maande meer moontlik gaan wees nie, meeste van ons entrepreneurs se noodfondse is ook maar beperk. As geld op is, is dit op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.