Covid-19: Stadige styging dalk stilte voor die storm

Foto: (Chinatopix Via AP)

Kenners meen dit is onmoontlik dat die algehele landswye afsondering nou al ʼn positiewe effek op die aantal Covid-19 gevalle in Suid-Afrika sal hê, soos die minister van gesondheid beweer. Hulle bevraagteken ook of die aantal bevestigde gevalle tot dusver ʼn akkurate voorstelling is van die werklike verspreiding van die koronavirus in die land.

Teen Donderdag is altesaam 1 462 bevestigde gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld. Die getal gevalle het in ʼn kwessie van ʼn dag met 82 (6%) toegeneem. Die sterftesyfer weens Covid-19 staan tans op vyf met nog twee sterftes wat nog bevestig moet word. Verlede week het die getal gevalle daagliks met tussen 20% en 40% toegeneem.

“Ek dink nie die syfer [van getal gevalle] is akkuraat nie. Dit maak nie sin nie. ʼn Algehele landwye afsondering het eers ʼn impak twee of drie weke nadat dit ingestel word. Ons sien dit in ander lande,” het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Mulder glo Suid-Afrika sal teen die einde van volgende week ʼn skerp toename in bevestigde gevalle van Covid-19 beleef weens ʼn verbetering van Suid-Afrika se vermoë om vir die virus te toets. Al meer mense wat moontlik in kontak was met Covid-19-pasiënte, word ook nou opgespoor.

Volgens Mulder lê die uitdaging ook daarin dat talle pasiënte met Covid-19 asimptomaties is (geen simptome wys nie) of slegs matige simptome toon en dus nie hulself vir Covid-19 laat toets nie. Dit sluit mense in informele nedersettings in.

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Dr. Anqelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), is ook bekommerd dat te min mense hulself laat toets. “Baie Suid-Afrikaners wat in die eerste paar weke van die uitbreking soortgelyke simptome as dié van Covid-19 getoon het, het hulself noodgedwonge vir die virus laat toets. Daarom het die getal gevalle aanvanklik vinniger gestyg. Coetzee verduidelik dat Suid-Afrikaners egter nou nie meer so paniekerig voel nie, omdat hulle nou meer afgesonder is. “Daarom laat al minder mense hulself toets.”

Sy meen talle mense wat in informele nedersettings woon en matige simptome toon laat hulself ook nie toets nie. “Diegene wat hulself moet laat toets word nie getoets nie. Sowat 80% kan ligte simptome toon, maar dit is dié 80% wat die 20% aansteek wat ernstig siek word.”

Sy sê wel die agterstand in toetsuitslae by Suid-Afrikaanse laboratoriums is nie meer so ʼn groot probleem soos dit aanvanklik was nie. “Ons was baie agter met toetse maar die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het intussen hulp aan private laboratoriums verleen om op te vang.”

Volgens Coetzee is laboratoriums dus nie meer vyf dae agter met toetsuitslae nie, maar eerder net sowat 24 uur.

Mulder glo die aantal sterftes weens Covid-19 is in dié stadium akkuraat, hoewel hy meen dié syfer sal ook ongelukkig teen volgende week styg. “Die departement van gesondheid het aangedui dat sowat 30 000 mense binnekort daagliks vir Covid-19 getoets gaan word. Dit beteken dat ons al meer gevalle en sterftes gaan sien,” sê Mulder.

(Foto: Leon Lestrade/ANA)

Nicholas Babaya, analis by die Instituut vir Rasseverhoudings, meen op sy beurt dat Covid-19-syfers nooit 100% akkuraat gaan wees nie, tensy die hele land se bevolking vir die virus getoets word. Dít is natuurlik nie moontlik nie weens ʼn tekort aan toetstoestelle.

Volgens Babaya gee die huidige syfers tog ʼn aanduiding van hoe vêr die virus verprei het. “Ek glo dat ons eers gaan sien of die afsondering gewerk het wanneer die tydperk verby is,” sê Babaya.

Coetzee beaam dat Suid-Afrika teen volgende week op die vroegste sal weet wat die land te doen staan wat Covid-19 betref. “Ons het meer tyd nodig as een week.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het by geleentheid toegegee dat dit te vroeg is om behoorlike gevolgtrekkings te maak. Volgens Mkhize kan Suid-Afrika nie op sy louere rus totdat die departement ʼn duidelike begrip het van wat in die land se digbevolkte gebiede, veral die townships, aangaan nie.

“Die afsondering kan Covid-19 nie stop nie. Dit kan nie. Al stop die afsondering die virus, gaan dit net weer uitbreek. Die doel is om sy verspreiding te verlangsaam. Jy wil hê dit moet soos die griep word, wat steeds met tye voorkom, maar waarvoor daar ʼn entstof is,” sê Mulder.

Volgens Mulder moet die kurwe afplat sodat die land se gesondheidsorg kan bybly.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC Venter

Die ANC (die minister en die president) vertel ons van meet af hoe paraat die regering se dienste is, hulle spin die goeie storie van die resultaat wat die afsondering lewer, omdat hulle van meet af die virus met die boek gegooi het, ook is daar te veel retoriek en lofprysinge, dit laat hulle goed lyk.

Maar lees ek hierdie artikel lyk dit of ons kniediep in die moeilikheid is, daar word GEMEEN dat daar hordes mense in afgeleë gebiede en nedersettings is wat reeds besmet is.

Michele

Baie mede- Suid Afrikaners steur hulle nie aan afsondering. Ons president het korrek opgetree. As almal nie saam isolasie gehoorsaam is RSA in diep moeilikheid. My volgende vraag is al ons buurlande eerlik soos ons?

Jan

Om getoets te raak kos ook n paar rand as dit privaat is en staat soek tenminste 3 simtome voor hulle jou toets

netekalleen

Ek se van die begin af ons statistieke is nie akkuraat waar dit die virus aangaan nie. Nou is my vraag, as die lockdown verby is hoeveel mense wat wel hulle aan die reels van die lockdown gesteur het gaan nie siek raak agv die wat nie aan reels steur nie? Nou gaan duisende gehoorsame burgers blootgestel word aan die virus

JC Venter

Lees ek hierdie artikel lyk dit of ons baie kniediep in die moeilikheid is, daar word egter ‘gemeen’ dat daar hordes mense in afgeleë gebiede en nedersettings is wat reeds besmet is. Dit is seker nie onmoontlik nie, aangesien derduisende mense oor die land heen, juis daardie in nedersettings en afgeleë gebiede, wat so te sê teenaan mekaar woon en wat nie werklik afgesonder of in isolasie is nie, die praktiese op daardie plekke leen hom net nie daartoe nie. Ook bly daar bes moontlik nie net twee of drie mense in daardie woning nie.