Covid-19: Stappe gedoen oor vrou wat lieg, stemboodskap

whatsapp

Foto: Pixabay.com

Twee provinsiale departemente van gesondheid gaan onderskeidelik stappe doen teen ʼn vrou wat gelieg en gesê het sy het die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak onder lede, asook nóg ʼn vrou wat fopnuus oor die virus versprei het.

Die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid het gesê daar is met dissiplinêre optrede begin teen ʼn werknemer van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) in verband met ʼn stemboodskap wat vals en misleidende inligting bevat oor Covid-19.

In die stemboodskap, wat wyd op WhatsApp en ander sosiale media versprei is, sê ʼn vrou dat daar paniek heers weens ʼn aantal pasiënte met Covid-19 by die Prince Mshiyeni-hospitaal. Die stemboodskap is aan die NHLS-werknemer verbind waarna daar met dissiplinêre optrede begin is.

Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê dit is altyd kommerwekkend wanneer daar valse inligting versprei word wat ten doel het om paniek te saai.

“Die vervaardiging en verspreiding van vals nuus is ʼn wêreldwye probleem, maar dit is regtig onbetaamlik dat staatsamptenare hulself by dié soort kwaadwillige gedrag betrek. Hulle behoort van beter te weet.”

(Foto: pixabay.com)

Intussen gaan die Oos-Kaapse departement van gesondheid ʼn klag by die polisie indien teen ʼn vrou wat Saterdag by die Grey-hospitaal in King William’s Town aangekom en volgehou het sy is met Covid-19 besmet.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement, het gesê die vrou het beweer sy is ʼn werknemer van ʼn man wat onlangs van Italië met die dodelike virus teruggekeer het.

“Nadat daar met die vrou se familie gepraat is, is daar vasgestel dat die vrou die storie versin het aangesien haar familielede bevestig het sy is werkloos.”

Volgens Kupelo het personeel by die hospitaal wel die nodige toetse en stappe gedoen om die vrou te isoleer. “Die vrou se familie het ook aan die departement bevestig dat sy geen geskiedenis van geestesongesteldheid het nie, dus sal ons die polisie nader.”

“Daar doen ook ʼn stemboodskap die ronde op sosiale media wat beweer daar is ʼn bevestigde geval van die virus by die Life Beacon Bay-hospitaal in Oos-Londen. Dit is ook fopnuus.”

Volgens Kupelo sal die departement saam met die polisie werk om die persoon wat vir die stemboodskap verantwoordelik is op te spoor.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DieKriek ·

Ek wonder of mense in isolasie gratis kos en verblyf kry? Miskien dink die foppers so. Sover ek weet, moet sulke mense net tuis bly.

Mercia ·

Want sommige mense floreer op sensasie….dit laat hulle belangrik voel wanneer hulle lewens te faal begin raak????‍♀️ Destyds met droogtehulp hier in die WesKaap het daar vals stemboodskappe uitgegaan oor daardie trokke wat kwansuis gekaap is en het almal op hol gehad totdat dit weerlê is as ‘n leuen. ????‍♀️

Johan ·

Mooi so!!! maak n voorbeeld van hulle, hulle veroorsaak paniek en veroorsaak dat mense onnodige kostes aangaan.

sammy ·

Hierdie tipe “staatsamptenare” betrek hulself by die tipe van ding want hulle word betaal om te sit en niks doen nie! Teveel tyd vir kwaaddoen en nonsens uitdink! Ledigheid is die duiwel se oorkussing!

Karen ·

Die polisie moet ernsige misdaad eerder ondersoek ipv hierdie nonsens. Hulle moet seker “baklei” om hul (on)bevoegdheid te beskerm.

Mercia ·

Ek twyfel…..Behalwe vir die feit dat Covid-19 al heeltemal deur baie mense uit proporsie geblaas word, is so ‘n stemboodskap vanaf ‘n staatsamptenaar nie in elk geval oneties nie? Wetende wat mens nou weet van hoe vinnig massa histerie kan posvat is dit myns insiens uiters onprofessioneel en ondeurdag om ‘n stemboodskap aangaande ‘n aansteeklike virus te stuur. Sou dit in ‘n parallelle heelal dalk waar gewees het, is daar spesifieke prosedures en protocol om te volg….veral as jou hoofdoel mense se welstand is en nie om terug te sit en kyk hoe mense mekaar vertrap om met ‘n dosyn “kills 99.9% of germs on contact” spuitbottels en ‘n trollie vol “wipes”, gesigmaskers en toiletpapier deur die gange van winkelsentrums te “dice” nie.????

PETRO ·

Bly n hartseer saak as sulke ernstige gesondheids nuus so ligtelik en bespottend op gevat word, en as dit die dag regtig noodgeval is, neem niemand hulle ernstig op nie! You cry wolf too many times, and no one will believe you!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.