Covid-19-statistieke: 176 000 aktiewe gevalle

Laboratoriumtegnikus Taariq Mather, van Mullah-laboratoriums, berei sy toerusting voor om ‘n Covid-19-monster te neem by ‘n deurrytoetssentrum by Wits in Johannesburg. (Foto: Luca Sola/AFP)

Suid-Afrika het in hierdie stadium 176 356 aktiewe gevalle van Covid-19, die meeste daarvan in KwaZulu-Natal, het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, Dinsdagaand gesê.

KwaZulu-Natal met 71 178 aktiewe gevalle, word gevolg deur die Wes-Kaap met 41 924 en Gauteng met 31 681 aktiewe gevalle.

Nog 14 410 Covid-19-gevalle is bevestig, ʼn positiwiteitskoers van 30% van diegene wat getoets is.

Sedert die uitbreking van die pandemie is 1 127 759 gevalle van die virus in Suid-Afrika bevestig en meer as 6,8 miljoen toetse is vir die siekte gedoen. Byna 48 000 toetse is sedert die vorige verslag gedoen, die meeste daarvan in die private sektor.

Mkhize het ook nog 513 Covid-19-verwante sterftes bevestig.

Hiervan was 124 in die Oos-Kaap, 14 in die Vrystaat, 64 in Gauteng, 92 in KwaZulu-Natal, drie in Limpopo, 14 in die Noord-Kaap en 202 in die Wes-Kaap. Suid-Afrika se sterftesyfer weens Covid-19 staan tans op 30 524.

Tot dusver het 920 879 mense reeds van die virus herstel, ʼn koers van 81,6%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.