Covid-19-statistieke: Duisende terugwerkende gevalle bygewerk

(Argieffoto: Unsplash)

Nog 18 035 nuwe gevalle van Covid-19 is aangemeld wat die positiwiteitskoers op 28,9% te staan bring.

Vertragings met die aanmeld van nuwe gevalle weens IT-probleme het egter beteken nog 19 840 gevalle wat nie vantevore aangemeld is nie, is nou by die syfers ingesluit. Die algehele getal nuwe gevalle staan dus op 37 875.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê private laboratoriums, asook die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens, is verantwoordelik vir Covid-19-toetse in Suid-Afrika. Nios versamel die data as deel van sy waarnemingsbedrywighede oor openbare gesondheid. Hy maak staat op die private en staatslaboratoriums om daagliks nuwe Covid-19-statistieke te genereer en dit sluit in die getal nuwe gevalle, nuwe toetse en die positiwiteitskoers.

Volgens Nios het die IT-probleme by staatslaboratoriums tot die vertragings met die aanmeld van gevalle gelei.

Nios sê hy is verbind tot deursigtige verslagdoening en sal voortgaan om sy databasis by te werk terwyl die geraakte laboratoriums hul IT-probleme regstel. Dit gaan egter beteken dat terugwerkende data bygewerk word en tot ʼn toename in die gesamentlike getal toetse lei.

Volgens die huidige beskikbare data is altesame 62 414 toetse sedert die vorige verslag gedoen. Altesame 3 167 497 mense het reeds positief vir die koronavirus getoets en 2 913 232 mense het reeds daarvan herstel.

Nog 21 Covid-19-verwante sterftes is aangemeld wat die algehele sterftesyfer op 90 137 te staan bring.

Daar is in dié stadium 164 128 aktiewe gevalle van Covid-19 landwyd. Die meeste nuwe gevalle is steeds in Gauteng (42%), gevolg deur KwaZulu-Natal (16%), die Wes-Kaap (13%), die Oos-Kaap en Vrystaat (6% elk), Mpumalanga en Noordwes (5% elk), Limpopo (4%) en die Noord-Kaap (2%).

Die huidige positiwiteitskoers (28,9%) is hoër as ʼn dag gelede (16,4%) en die sewedaggemiddeld staan tans op 29,7%, ook hoër as die 24,4% van ʼn dag tevore.

Nog 96 mense is ook sedertdien in hospitale vir die behandeling van Covid-19 opgeneem.

Net 10 602 dosisse entstof is Sondag toegedien wat die algehele syfer op 27 090 975 te staan bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre ·

As meer as drie miljoen al positief getoets was, wonder ek hoeveel toetse is al gedoen? Dit moet die land ‘n aardige bedraggie kos.

Hennie ·

Die positiwiteitskoers kan net sowel uitgelos word. As daar heeltyd historiese gevalle bygewerk gaan word gaan dit die koers heeltemal skeeftrek wat dan nie ‘n ware uitbeelding is van die stand van sake nie. Alles lyk dus nou 100 keer erger as wat dit regtig is.

VaalDonkie ·

Ja en mens moet ook nog onthou dat ons nou die dag nog sowate 13000 toetse per dag gesien het, en nou trek ons by amper 70 000 per dag. So ons toets ook 5 keer meer mense as ‘n paar weke gelede. ‘n Positiwiteitskoers van 28% op 13000 sou ons maar iets soos 3500 gevalle per dag gehad het. Wat nog steeds 10 keer meer is as wat dit was, maar hulle het mos nou ander tipe toetse ook begin by-tel wat meer geneig is om positief te wees, want hulle word aangevra om positiewe PCR toetse te bevestig. Maar anyway, geniet maar die rit. Dit mag dalk nog ‘n rukkie wees.

bobmartin ·

Dan wil ek nie eers weet watse entstof beheer program of hoe hulle dit gaan beheer as daar al klaar IT-probleme en telling probleme is by hospitale. Ek sien al klaar hoe staan duisende in die rye by hospitale om hul volgende entstof of booster te kry sodat hulle pasboek op datum is om by die werk kan uitkom.

Mercia ·

Dan tel ons ewe skielik “rapid tests” by en dan is dit terugwerkende getalle. Spring dan sommer oornag na dubbel die getalle voordat die volle ” ingeënte” maar nou geinfekteerde president die land moet toespreek oor sy verskriklike kommer oor die stygende getalle.
Is dit die draaiboek van ‘n oorgeklankte drama? Daardie dramas waar die sin lankal klaargemaak het maar die lippe beweeg nog.

johan ·

Die Covid statistieke wereldwyd is ‘n reuse klug. Dis die enigste siekte waarvan hulle aanhou om alles bymekaar te tel nou al vir 2 jaar. Alle ander siektes en sterftes in die geskiedenis is en word jaarliks weergegee….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.