Covid-19-statistieke: Herstelkoers steeds hoër

Ten spyte van stygende Covid-19-gevalle gee talle Suid-Afrika steeds nie gehoor aan basiese maatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp nie. (Foto: Zanele Zulu/ANA)

Suid-Afrika se herstelkoers vir Covid-19 het teen Dinsdagaand op 69,8% gestaan en altesaam 363 751 mense het reeds van die virussiekte herstel.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het aangekondig dat Suid-Afrika nou 521 318 bevestigde Covid-19-gevalle het – ʼn styging van 4 456 gevalle sedert die vorige syfers ʼn dag gelede bekend gemaak is.

Altesaam 345 bykomende Covid-19-sterftes is bevestig. Hiervan was 43 in die Oos-Kaap, 116 in Gauteng, 89 in KwaZulu-Natal en 97 in die Wes-Kaap. Dit bring die sterftesyfer op 8 884 te staan.

Gauteng is met 183 090 (35,1%) bevestigde Covid-19-gevalle in hierdie stadium steeds die provinsie met die hoogste Covid-19-syfer. Die Wes-Kaap het 97 261 (18,7%) bevestigde gevalle van die virussiekte en KwaZulu-Natal het 85 986 (16,5%).

Inentings 

Mkhize het Dinsdag ook gesê die departement van gesondheid neem met kommer kennis dat kinders se inentings nie gedoen word nie uit vrees dat hulle Covid-19 by ʼn gesondheidsfasiliteit gaan opdoen.

“Talle van dié siektes waarteen ons ent, soos masels, polio en meningitis, is veel gevaarliker vir kinders as Covid-19.”

Die minister het tydens ʼn aanlyn viering van wêreldwye borsvoedingsweek gesê gesondheidsfasiliteite het ʼn stelsel waarvolgens pasiënte met verkouesimptome eenkant gehou word om te verseker dat toegang tot gehaltesorg nie tydens die pandemie in die gedrang gebring word nie.

Borsvoeding

(Foto: Wes Hicks/Unsplash)

Mkhize het ook benadruk dat die virus nie deur borsmelk oorgedra kan word nie. “Ek kan julle verseker dat Covid-19 nie in borsmelk gevind is nie en navorsing wys dat die virus nie oorgedra word deur borsmelk of melk uitgepomp van ʼn ma wat Covid-19 het of vermoedelik onder lede het nie.”

 

Mkhize het gesê talle gesinne, ma’s en selfs sommige gesondheidwerkers het vrae oor of die virus deur borsmelk oorgedra kan word en hoe hulle hulself en hul babas kan beskerm.

Volens hom word ma’s, gegrond op studies wat daaroor gedoen is, aangemoedig om steeds te borsvoed terwyl hulle goeie higiëniese gewoontes volhou. Dit sluit in die dra van ʼn masker, hande was en die ontsmetting van oppervlakke.

“ʼn Baba se immuunstelsel is nog nie ten volle ontwikkel nie en benodig immuunbeskerming van borsmelk. Die beskerming red lewens en is tydens die Covid-19-pandemie belangriker as ooit.”

Mkhize het gesê slegs een uit elke vier kinders in Suid-Afrika word eksklusief geborsvoed en dat dié syfer nie goed genoeg is nie. Volgens hom moet babas minstens vir die eerste ses maande eksklusief geborsvoed word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.