Covid-19-statistieke: Hospitaalopnames bly laag

(Argieffoto: Unsplash)

Die Covid-19-positiwiteitskoers bly daal, terwyl die persentasie mense wat sterf of in die hospitaal opgeneem word, laag bly.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het Vrydag 5 244 nuwe Covid-19‑gevalle aangeteken, wat ʼn positiwiteitskoers van 13% verteenwoordig. Dit is laer as Donderdag se 14,3% en ook laer as die sewedaggemiddeld van 15,4%.

Net 274 mense is boonop die afgelope 24 uur in die hospitaal opgeneem. Dit beteken ongeveer 5% van mense wat positief toets, word in die hospitaal opgeneem.

Volgens die Gautengse departement van gesondheid se weeklikse statistieke benodig bitter min van dié mense boonop intensiewe sorg en suurstof.

Altesaam 2 665 mense is die afgelope week met Covid-19 in ʼn Gautengse hospitaal opgeneem. Minder as ʼn kwart van dié pasiënte (amper 500) word in ʼn intensiewesorg‑ of hoësorgeenheid behandel, die res is in algemene sale opgeneem. Sowat 70 pasiënte het suurstof nodig en 101 is aan ʼn ventilator gekoppel.

Nog 59 mense het ongelukkig weens Covid-19-verwante siektes gesterf. Dit is wel net 1% van mense wat positief toets.

Die meerderheid van nuwe gevalle is weereens in die Wes-Kaap aangemeld (1 389), gevolg deur Gauteng (1 061) en KwaZulu-Natal (984). Die Vrystaat het die minste nuwe gevalle aangeteken (218).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Madeleine ·

Meer as 95% van mense herstel.
Daars geen ramp.
Als n hoax… . Vaccine gaan ons beheer en siek maak.
Mense wat dit nou nog nie besef nie, Sal seker nooit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.