Covid-19-statistieke: Kommer oor Oos-Kaap

(Argieffoto: Unsplash)

Suid-Afrika het teen Woensdagaand altesaam 742 394 bevestigde gevalle van Covid-19 gehad en 2 140 nuwe gevalle is aangemeld.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het gesê nog 60 nuwe sterftes is bevestig. Hiervan was 24 in die Oos-Kaap, 19 in die Vrystaat, twee in Gauteng, een in KwaZulu-Natal, twee in Noordwes, ses in die Noord-Kaap en vier in die Wes-Kaap.

Dit bring die algehele sterftesyfer op 20 011 te staan.

Oos-Kaap

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand in sy toespraak gesê kommer bestaan oor die situasie in die Oos-Kaap, wat al hoe meer tekens van nog ʼn vlaag infeksies toon. In die afgelope week was die getal nuwe gevalle in die provinsie 50% meer as in die vorige week. Die algehele getal nuwe gevalle oor die afgelope 14 dae was boonop 145% hoër as in die vorige 14 dae.

“Die toename word gedryf deur enorme stygings in veral die Nelson Mandelabaai-metro en die Sarah Baartman-distrik,” het Ramaphosa gesê.

“Vir die afgelope maand was daar ʼn volgehoue toename in hospitaalopnames in die provinsie.”

Ramaphosa het gesê die stygings is moontlik veroorsaak deur uitbrekings by onderwysinstellings soos skole en universiteite, asook omdat mense groot byeenkomste bywoon.

Volgens die departement van gesondheid het die Oos-Kaap teen Woensdagaand 5 881 aktiewe gevalle van die virus gehad.

Die Vrystaat het met 9 751 tans die meeste aktiewe gevalle.

Toetse

Meer as vyf miljoen toetse vir Covid-19 is reeds in Suid-Afrika gedoen en 27 432 is sedert die vorige verslag gedoen. Die meeste van die toetse – altesaam 68% – is in die private sektor gedoen.

Ramaphosa het gesê daar word steeds gewerk om die getal toetse wat daagliks gedoen word, selfs verder te verhoog. Alle hospitale moet pasiënte vir Covid-19 toets.

Die regering gaan ook gemeenskapsiftingsprojekte verskerp en meer toetse in brandpunte doen.

Herstelkoers

Altesaam 686 458 mense in Suid-Afrika het reeds van Covid-19 herstel.

Dit bring die land se herstelkoers op 92% te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Geagte ANC, hoe akkuraat is die statistiek aangesien daar absoluut niks is wat julle kan reg doen nie?

Connie ·

Maak dan die Kaap toe en Ramaposa praat met jou ‘our people’ die meeste van hulle wat betoog en alles verniel dra nie maskers nie. Ja en kyk na jou puppets die eff doen dit ook. Ons ander is gehoorsaam maar as daar weer n lock down kom dan is dit seker weer Jan van Riebeeck se skuld, of die wittes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.