Covid-19-statistieke: Meer as 350 000 toets positief

Die Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld het aangekondig dat sy positief vir Covid-19 getoets het.

Suid-Afrika het teen Saterdagaand meer as 350 000 bevestigde Covid-19-gevalle gehad, het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, in sy daaglikse bywerking van die statistieke gesê.

Altesaam 13 285 bykomende mense het in die voorafgaande 24 uur positief vir die virus getoets.

Gauteng het in hierdie stadium 36,7% (128 604) van alle gevalle in Suid-Afrika gehad, gevolg deur die Wes-Kaap met 24,3% (85 411).

Suid-Afrika het tot dusver 2 422 741 toetse vir die virus gedoen, met nagenoeg 64% van toetse wat deur die private sektor gedoen word.

Nóg 144 nuwe Covid-19-verwante sterftes is bevestig wat die gesamentlike dodetal op 4 948 te staan bring.

Die land se herstelkoers staan op 182 230 – wat beteken nagenoeg 52% van mense wat die virus opgedoen het, het reeds van die siekte herstel.

Die meeste sterftes is in hierdie stadium steeds in die Wes-Kaap (2 593). In Gauteng het 956 mense van die virus omgekom.

Virusvoos

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Mkhize het Saterdag ook by Suid-Afrikaners gepleit om nie virusvoos te raak en hul waaksaamheid te verslap op ʼn tydstip wat infeksies die hoogte inskiet nie.

“Ons sien swak of geen sosiale afstandhandhawing nie in gemeenskappe. Maskers word weggegooi of nie behoorlik gedra nie en daar tree laksheid in wat betref die gereeld was van hande.

“Dit gaan ʼn direkte uitwerking op die styging in getalle oor die volgende twee weke hê.”

Mkhize het gesê die regering het reeds elke hulpbron ontplooi om in te gryp teen die verspreiding van die virus. “Die regering kan dit egter nie eensydig doen nie. Elke liewe Suid-Afrikaner moet nou konsentreer om te voldoen aan aanbevelings oor nie-farmaseutiese ingrypings,” het die minister gesê.

“Ons het nie ʼn entstof of geneesmiddel nie. Ons vermoë om die siklus van infeksie te breek berus op ons gewilligheid om gefokus en gedissiplineerd te bly en nie-farmaseutiese ingryping ernstig op te neem. Ons kan die pandemie saam te verslaan. Ons het dit reeds tydens die afsonderingstyd bewys.

“Dit is in elke burger se hande om familielede, kollegas en vriende wat weier om aan maatreëls te voldoen wat die verspreiding van die virus beperk, tereg te wys.

Sangeres toets positief

Die gewilde Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld het intussen op sosiale media aangekondig dat sy positief vir Covid-19 getoets het.

“Ek gaan nou bietjie afsonder in my spaarkamer. Dis erg vir my om nie by my babatjie te slaap en hom vas te hou nie en hy verstaan dit ook nie, maar prys God. Hy is in alles wat ons deurmaak. Nou kan pappa Joe en die kids lekker bond, en hy kan nou sien ons baba slaap nie al van dag 1 af deur nie.”

Van Jaarsveld het geskryf sy gaan baie vitamien C en sink inneem.

“My ergste simptoom is moegheid. Verder is ek net grieperig en heel okay…! Amper gedink eks weer swanger.”

Sy het mense gevra om nie vir haar jammer te voel nie en gesê daar is baie erger dinge in die lewe en mense na wie omgesien moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Sien die ANC in Gauteng wil nou eers na 110 dae begin om veld hospitale te bou. Ouens die DA in die Wes-Kaap(waar julle dankie tog nie regeer nie) het al met hulle veld hospitale op die 27de Maart begin. Moenie bang wees om vir die DA hulp te vra hoe om Covid-19 te beweg nie. Hulle weet. Julle moes vir Lesufi in bevel gesit het van veld hospitale bou. Hy sou soeveel gebou het as wat hy al nuwe skole gebou het! Ummmm ook net….is daar geen ander “celebs” in SA behalwe vir Karlien van Jaarsveld, en moes ons nou almal weet dat sy het Covid-19? Kan nou verwag word dat daar ‘n 10 page spread in Huisgenoot sal wees van Karlien van Jaarsveld se Covid-19?

JJ ·

Genoeg is genoeg. Stop nou die sinlose vreesinboeseming. Begin met dankbaarheid verkondig dis lekker om te leef. Basuin uit dat die son skyn en dat dit dit moeite werd is om te leef. Verban asseblief hierdie telbord – dit is betekenisloos.

Pieter ·

Jammer om te se. Maar Karlien moet eers haar toetse wys, want sy hou te veel van reklame. Dink sy is volgende week weer in huisgenoot. God is groot kyk hoeveel is al gesond. Die is maar net n manier om mense wat nie in God glo bang te maak, want my God het geen vrees gebring nie.

Eiervrug ·

Ek stem Pieter. En as sy nie wil hê ons moet haar jammer kry nie, hoekom dan fotos neem en op sosiale media uitblaker (instagram). Sy is maar ‘n aandag vraatjie…. Sy gaan sukkel om vir volgende 14 dae haar eie naels en hare te doen…. (en dis seker hoe sy die virus opgedoen het). ‘n “celeb” kan mos nie hulle eie naels verf soos ‘n gewone mens nie. Dit moet erens gedoen word en dan moet daar baie fotos geneem word…

Stefan ·

God is groot, praat sy nog van dieselfde God waar sy voor die kansel gestaan het en ewige trou belowe het aan haar eerste man?

Eugene ·

Voor die einde van die maand is ons sterftes ver meer as Swede wat geen lockdown gehad het nie.

Scalla ·

Wie is sy, daar is duisende wat aansteek en die virus opdoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.