Covid-19-statistiek: Meeste nuwe gevalle nóg in een dag 

Grafika: Elsabe Erasmus.

Die getal Covid-19-gevalle het vir die eerste keer met meer as 800 in 24 uur gestyg.

Teen Saterdagaand het 14 355 mense in Suid-Afrika sedert 5 Maart positief getoets vir Covid-19. Dit is 831 meer gevalle as Vrydag. Die Wes-Kaap en Oos-Kaap het 91% van dié nuwe gevalle aangeteken. Dié provinsies het onderskeidelik 606 en 150 nuwe gevalle aangemeld.

Die syfers is Saterdag deur die nasionale departement van gesondheid bekendgemaak.

Veertien sterftes is ook sedert Vrydag aangemeld, wat die totale sterftesyfer op 261 te staan bring.

Grafika: Elsabe Erasmus.

Luidens die departement se verklaring het Suid-Afrika tot dusver meer as 10,7 miljoen mense vir Covid-19 nagegaan, 376 plekke is landswyd vir kwarantyn geïdentifiseer en 30 823 beddens is beskikbaar vir kwarantyn. “Ons sterftesyfer is steeds 1,8% van mense wat Covid-19 opdoen, wat baie laer is as die wêreldwye gemiddeld van 6,6%. Ons herstelkoers van 42,4% is ook bo die wêreldwye gemiddeld van 38%,” lui die verklaring. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Suid-Afrikaners bedank vir hul samewerking, wat daartoe gelei het dat die regering daarin kon slaag om die kurwe af te plat.

Die LUR vir gesondheid in Limpopo het intussen bekendgemaak dat 13 myners van die Marula-platinummyn in Burgersfort Vrydag positief getoets het vir Covdi-19. “Dit is verreweg die meeste myners wat in 24 uur positief getoets het. Ons het natuurlik geweet die aantal Covid-19-gevalle sou toeneem namate die afsonderingsregulasies verslap word en myne hul aktiwiteite weer hervat,” het dr. Phophi Ramathuba, die LUR, in ʼn verklaring gesê.

SA se herstelkoers. (Grafika: Elsabe Erasmus)

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se syfers het Suid-Afrika verreweg die meeste Covid-19-gevalle in Afrika. Algerië het Vrydag die tweede meeste gevalle aangemeld (6 630) en Ghana die derde meeste (5 638). Teen Vrydag was meer as 77 000 mense in Afrika met Covid-19 besmet. Altesaam 2 600 van dié pasiënte het weens die nuwe koronavirus gesterf.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Willem ·

Dit wat joernaliste en die anc nie wil noem nie.
Limpopo 8000
Noord kaap 5000
Noord wes 3500

Dis die aantal toetse gedoen vir infeksies soos op 15 Mei

Gideon ·

Willem sal jou omgee om jou bron vir die getalle bekend te maak? Hiervolgens is 16500 van die landwye 18005 in die drie provinsies gedoen. Dus is daar net 1505 toetse gedoen in Gauteng, WK, OK, Vrystaat, KZN en Mpumalanga.

Alleen Wolf ·

Ek vermoed hierdie syfers is ver van die waarheid en word so aangepas om ons te laat glo dat dit as gevolg van hulle goeie bestuur is, as ‘n eerste wereld land soos Engeland dit nie kon reg kry om syfers laag te hou met ‘n soortgelyke afsondering en tydperk en behoorlike finansiele bystand aan hulle mense, wat maak ons so spesiaal gesien in die lig van SA se sosiale ekonomiese situasie
Dan word die Kaap uitgesonder as die sondebok on DA bestuur?

Flip ·

Ek stem saam met jou Wolf. Ek vermoed dat daar in die Weskaap meer toetse gedoen is as in ander profinies en ook dat die DA die korrekte getalle bekendmaak.

Jan ·

Soos ek al gese het.. Hierdie telings wat hulle jou wys us n klug. Limpopo Vrydag telling 57 . Saterdag nuus 13 myners in limpopo toets positief. Nuwe teling 59??????. Ek moet terug gaan skool toe

Flip ·

Hehehe, mooi opgelet Jan, 10 uit 10 vit jou! Maar nou ja, 59 is wat mens kry met 30% vir n slaagsyfer.

Niklaas ·

Daar in digbevolkte plekke Japan en Indië is die syfers relatief laag en gering, vergeleke met die VSA. Wat doen hul dan reg om dinge daar skynbaar onder beheer te hou?

Neestemmer ·

Hulle toets net baie minder, onthou dat 75% mense nooit eers ‘n griepvirus kry as hulle blootgestel word nie en dat 80% net ligte simtome sal he en dus ongeveer 5% van alle mense hulle sal laat toets as daar nie verpligte toetsing is nie, dink dis hoekom VSA so baie positief wys hulle toets baie…

katerinadiekat ·

Wel die ander lande het nie sigaretverkope verbied nie. Dit help seker as miljoene mense nie heeltyd hoef rond te loop en ry op soek na onwettige sigarette nie!

Nell ·

katerinadiekat jy het dalk ‘n punt beet Namibië het ook nie sigaretverkope verbied nie…

capie ·

Verwronge syfers wat niemand kan sien of nagaan nie jaag die Weskaap se syfers so hoog op sodat hulle die volle weermag in die DA beheerde Weskaap kan ontplooi. Sodoende wil hulle dioe Weskaap breek om weer beheer oor te neem. Enigiemand wat dink ons gaan weer ‘n verkiesing hê, leef in ‘n droom. Miskien geredigeerde “vrye” verkiesings soos in Zimbabwe op die meeste. Selfs die regters is word al aangestel om hul saak te bevorder so hofsake is ook geldmors en vir hulle ‘n grap.

Jan ·

Hulle moet die screening en toetsing per dorp gee. So doende weet jy waar om weg te bly.

Jan ·

Kyk na die hele africa. 78000 gevale 2600 sterftes 25 000 gesond. Ons is nie ver agter die ander lande nie.

marius ·

Vergelyk dit met die res van afrika , want dit is die maatbeker wat gebruik moet word . Waar staan ons
dan ? Heel voor of heel agter ?

Andre ·

Hoekom sê hulle nie vir onw waar in die Weskaap nie? Dit sal interesant wees om vas te stel watter spesifieke areas betrokke is, en Kaapstad is nie genoeg nie, hier is 100e woonbuurte waarvolgens dit aangedui kan word. Ek glo egter hul sal dit nie doen nie…vir politieke redes, het mos die mense vertel dis n witmens siekte, hul hoef nie bekommerd te wees nie en die spannetjie vee mos hul af aan wetgewing, soos gewoonlik.

Nettie ·

Meeste gevalle in Wes Kaap kom van die taxi, s af wat na begrafnisse toe ry.

Jaco ·

Sterk styging in die Oos-Kaap. Vreemd. Meeste mense daar is dan our people. Dis seker maar net ‘n rookskerm; ‘n valse bewys dat die toetsing in daardie provinsie ook vinniger en meer gedoen word. Maar wag maar, uiteindelik gaan die Wes-Kaap die swaarste”gestraf” word. Corona gaan gebruik word om die enigste provinsie waar die “rassistiese” DA nog in beheer is, totaal te ruineer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.