Covid-19-statistieke: Minder as duisend nuwe gevalle

(Argieffoto: Unsplash)

Die getal nuwe Covid-19-gevalle, die positiwiteitskoers en die koers waarteen toetse vir die koronavirus gedoen word, daal steeds en daar is volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) ʼn volgehoue daling in nuwe gevalle in alle provinsies.

Altesame 967 nuwe Covid-19-gevalle is aangemeld, wat die algehele getal laboratoriumbevestigde gevalle op 2 896 943 te staan bring. Die positiwiteitskoers staan op 5%. Altesame 2 760 093 mense het reeds van die virussiekte herstel.

Volgens Nios is nog 51 Covid-19-verwante sterftes bevestig en tot dusver het 87 052 mense weens die virus gesterf.

Meer as 17,5 miljoen toetse vir Covid-19 is reeds gedoen.

Terwyl die syfers bly daal, het KwaZulu-Natal steeds die meeste nuwe gevalle (28%), gevolg deur die Oos-Kaap (17%), die Wes-Kaap (12%), die Vrystaat (10%), Gauteng, Noordwes en die Noord-Kaap (8% elk), Mpumalanga (7%) en Limpopo (1%).

Die getal nuwe gevalle (967) is minder as ʼn dag tevore (1 634) en is ook laer as die gemiddelde getal nuwe gevalle per dag oor die vorige sewe dae (2 045).

Daar is tans 49 798 aktiewe gevalle van die virus en nog 56 mense is landwyd in hospitale vir behandeling van Covid-19 opgeneem. In hierdie stadium word sowat 7 100 mense in hospitale vir die siekte behandel.

Slegs 9 419 inentings teen Covid-19 is Sondag gedoen, wat die algehele syfer op sowat 16,8 miljoen te staan bring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Dit is verblydend dat die nuwe infeksies daal maar ons moet nog steeds waaksaam wees en nie gesondheidsprotokolle oorboord gooi nie.Die warm dae help ook baie aangesien die virus nie deur die lug kan beweeg nie aldus die slim mense.Daar kan verslapping van die regulasies wees maar ek voel groot byeenkomste moet nog beperk word en die dra van maskers moet nog verpligtendcwees.

Annelize ·

Baie bly as dit die geval is, want genade weet, ek wens my grootste vyand Covid nie toe nie. Ek is nou al twee weke post-Covid en is nog steeds nie 100% nie.

Dirk Mostert ·

Ek sou my grootste vyand eerder ‘n dubbel-Pfizer + booster toewens!

Dirk Mostert ·

Coronavirusse (L.W. meervoud) gedy nie in die somer nie. Laas Desember se golf/vlaag was in simpatie met die Noordelike Halfrond se winter.

Francois ·

Dis nou 2 weke sedert Ramaposa gepraat het en belowe het hy sal oor twee weke weer praat. Hulle probeer seker eers weer kyk waar hulle nog geld kan vat voor die krane toedraai

Renee ·

Kyk die gevalle na die verkiesing gaan baie meer wees want Desember is weer op hande.

Baardman ·

Dog hulle sou die situasie weer na 2 weke evalueer sedert die laaste gebrabbel op TV. Wil seker nog n naweek of 2 kans gee om onwettig drank te verkoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.