Covid-19-statistieke: SA ent stadiger as Zim in

‘n Gesondheidswerker ontvang verlede maand die Covid-19-entstof by die Klerksdorp-hospitaal. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die aantal nuwe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika daal steeds. Suid-Afrika het Saterdag 1 323 nuwe gevalle van die koronavirus aangeteken, effens minder as die 1 400 gevalle wat Vrydag aangeteken is. Die totale getal Suid-Afrikaners wat sedert Maart verlede jaar met dié virus gediagnoseer is, staan tans op 1 565 680.

Altesaam 48 bykomende sterftes is ook aangemeld. Die meeste hiervan is in KwaZulu-Natal (16) en Gauteng (13) aangeteken. Die Oos-Kaap het die enigste ander sterfte aangeteken.

Intussen wys syfers van Our World in Data die koers waarteen Suid-Afrika sy landsburgers teen Covid-19 inent, is van die laagste ter wêreld en veel laer selfs as die van ander Afrika-lande.

Our World in Data is ʼn digitale wetenskaplike publikasie wat internasionale data oor ʼn reeks onderwerpe invorder en publiseer.

Volgens syfers wat op 15 April bygewerk is, het ʼn skamele 0,5% van Suid-Afrikaners tot dusver ten minste een dosis van die Covid-19-entstof ontvang. Dit is minder as die gemiddeld vir die hele Afrika (0,7%) en die wêreldgemiddeld van 5,9%.

Dit is ook ver agter ontwikkelde lande soos die VSA (37%), Chili (39%) en die Verenigde Koninkryk (48%). Israel is die land waar die grootste aantal inwoners (62%) reeds ten minste een dosis van die entstof ontvang het.

Suid-Afrika het intussen die uitrol van sy entstofplan tydelik opgeskort nadat ses vroue wat dié entstof in Amerika gekry het, ʼn skaars bloedklont-toestand ontwikkel het.

Wat betref mense wat ten volle teen die virus ingeënt is (sommige inentings vereis meer as een dosis), het Israel steeds die grootste persentasie mense wat ingeënt is (57%), gevolg deur Bahrein (25%) en die VSA (23%). Suid-Afrika se syfer is dieselfde op 0,5%, aangesien die Pfizer‑ en Johnson & Johnson-entstof slegs een dosis vereis. Slegs 0,34% van die hele Afrika-bevolking is al volledig teen Covid-19 ingeënt.

Die gemiddelde daaglikse dosis wat in SA toegedien is voor dit gestaak is, was 2 884. Dit in vergelyking met ander Afrika-lande soos Zimbabwe (12 200), Angola (10 900) Kenia (35 000) en Nigerië (44 800). Amerika ent daagliks 3,3 miljoen mense in, China 4 miljoen en Indië 3,4 miljoen mense. Dié lande het wel ʼn baie groter bevolking as Suid-Afrika en ander Afrika-lande.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
MakersMark

Dis apartheid se skuld volgens ons president. “Vaccination apartheid”. Niks met die regering se totale onbekwaamheid uit te waai nie.

Jaco

Onthou net, driekwart van Zimbabwe se mense woon klaar in SA

Dirk Mostert

Dis omtrent die enigste ding van die regime om voor dankbaar te wees.

Hydi

Wat het ons verwag? SA het baie swak werkskultuur. Wanneer ons moet begin, drink ons eers tee en eet, wanneer dit lunch is dan bly ons bietjie langer en wanneer ons oor ‘n uur huis toe moet gaan dan begin ons nou al oppak en regkry. En wanneer jy toilet toe gaan dan sit en kuier jy eers op die selfoon vir halfuur of wat. In my werksplek’ rule’ die unies. Daar is’ n slap houding regdeur en werkers doen die werk op hul terme. En onthou, as daar mos nou per dag betaal word om in te ent gaan… Lees meer »

Francois

Wat verwag jy. Die swskste inenting in die wereld. Darm is ons eerste plek met die mees korupte regering