Covid-19-statistieke: Wes-Kaap skop vas oor inperking

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die Wes-Kaap gaan vasskop teen nog ʼn afsonderingstydperk. Premier Alan Winde sê die provinsie is ten gunste van gefokusde, plaaslike ingryping wat op wetenskaplike bewyse gegrond is.

Daar is toenemend kommer oor die Covid-19-situasie en die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) het Dinsdag vergader om die styging in gevalle in sekere provinsies – waaronder die Wes-Kaap – te bespreek. Die president vergader intussen ook Woensdag met onder meer die nege premiers.

Winde sê by hierdie vergadering sal die Wes-Kaap ʼn sterk argument teen enige “stomp instrument, soos afsondering” uitmaak.

“Ons moet eers alles moontlik deur ons individuele en gesamentlike optrede doen om te verseker die vlaag word gestuit en om te verhoed dat só ʼn strategie [soos die inperkingstyd] ooit weer gebruik word.

“ʼn Afsonderingstydperk gaan rampspoedig vir ons ekonomie wees, dit gaan groot werksverliese en ʼn menslike ramp veroorsaak en moet ten alle koste vermy word,” het Winde gesê.

Volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, was daar tot dusver 132 865 bevestigde Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap. Dit is 16,8% van alle gevalle tot dusver.

Winde sê wat nodig is, is praktiese, gefokusde en plaaslike ingryping om te verseker die gesondheidstelsel word beskerm en die verspreiding van Covid-19 gestuit – terwyl die ekonomie terselfdertyd so oopgestel moontlik bly. Hy sê dié ingrypings moet ook op wetenskap gegrond wees.

Winde sê hy gaan ʼn beroep op Ramaphosa doen om meer mag aan provinsiale regerings te gee om die ingrypings by spesifieke geografiese brandpunte in werking te stel.

Hy sê mense moet ook hul gedrag aanpas en dat die herleiding van polisiëringshulpbronne om die regulasies af te dwing, terwyl misdaad voortduur, uiters problematies is.

Mkhize het Dinsdagaand gesê daar is landwyd nou 792 299 bevestigde Covid-19-gevalle, nadat 2 295 nuwe gevalle aangemeld is.

Nog 109 Covid-19-verwante sterftes is ook bevestig. Hiervan was 36 in die Oos-Kaap, 12 in die Vrystaat, vyf in Gauteng, 12 in KwaZulu-Natal, 17 in Noordwes en 27 in die Wes-Kaap. Die sterftesyfer weens Covid-19 staan op 21 644.

ProvinsieSterftes
Oos-Kaap4 674
Vrystaat1 931
Gauteng5 014
KwaZulu-Natal3 355
Limpopo506
Mpumalanga614
Noordwes566
Noord-Kaap313
Wes-Kaap4 671
Totaal21 644

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dirk Mostert ·

Strenger inperking in Wes-Kaap sal Winde se skuld wees, weens sy oorentoesiastiese getoets. Meer toetse=meer “gevalle”.

Jacobus ·

Daar tref jy die teiken Dirk. So in die ANC se kraal. Hulle is besonder goed met drog weergawes van die werklikheid. Die stats wat vloei uit oordadige toetsing is bitter verdag. Die situasie in SA is ‘n samevloei van geknoei met syfers en gebruiklike ANC onbevoegdheid. Ek is nie ‘n siener nie maar het in die eerste maand van lockdown gesê dat wanvoeding, werksverliese en ramp ekonomie gaan die gevolg wees. Logika met meer as een breinsel was genoeg. Die olifant in die vertrek is/was onverantwoordelike mede-burgers.

Wilhelm ·

Winde, wat ons Wes Kapenaars wil hê is dat jy en die DA moet ongehoorsaam wees aan die ANC. Ons almal weet hulle is mal, en ons het nie vir hulle gestem nie. So hou op om ‘n ‘beroep te doen op Ramaphosa’ dat hy vir die provinsies meer mag sal gee, die sal NOOIT gebeur nie, jy weet dit tog seker al teen hierdie tyd. Die ander provinsies het vir die ANC gestem, ons het nie. Neem self die besluite, vat eenvoudig die mag sodat ons onsself kan bestuur. Luister na die inwoners en stemmers in die Weskaap, nie na ‘n regering wat minder as 30% stem in die Weskaap het nie.

SwartBees ·

Ek stem ten volle saa met jou. Ook net vir die rekord, ek het nie gestem dat my provinsie deur die ANC regeer word nie.

Wonder net ·

So wat stel jy voor @Dirk? Volstruis sindroom… moenie toets nie dan sal daar nie positiewe gevalle wees nie? Hoeveel siek mense gaan dan onbewustelik daar buite rondloop en ander mense siek maak, mense wat hulle self actually oppas? As elkeen net sy klein deeltjie bydra dan sal dit n groot verskil maak. Maar dit is tipies mens… elkeen trek in sy eie rigting en dan wonder hulle hoekom staan mense nie saam nie. Elkeen probeer sy eie resultate op sy eie manier kry, waar as almal saam staan sal die reultaat soveel groter wees en die risikos soveel minder.

Marius ·

Dit is nie inwoners van die Wes Kaap wat die syfers op jaag nie , maar mense wat van die Oos Kaap af gebring word omdat hulle hospitale nie in staat is om hulle te versorg nie . Elke prov vir homself en kyk hoe lyk die syfers dan .

Deon ·

Mnr Winde, ek persoonlik ken geensins enige van julle hoog geplaasde politieke manne nie, ek kan wel in die media sien dat die res van jou kollegas”premiers” in die land nie regtig in beheer van hulle pligte is nie, en so lank as wat jy jou werk reg doen en hulle doen hulle sin nie noodwendig reg nie is jy die ‘odd one out’ so as jy nie saam met die stroom swem wat jou gaan versuip nie is jy verkeerd, al is jy reg…… Ek weet jy wil sover moontlik die regte dinge doen vir die regte redes en regulasies en reels volg, maar jy is die enigste een onder die lot wat dit wil doen. Een van jou ander nadele is dat jy n ander party is, die ANC staan teen jou. Jy wil gaan redeneer met mense wat nie n clue het wat om hulle aangaan nie, ek hoop nie jy mors jou tyd nie. Ek kan sien hoe die regering julle boelie….. Ek hoop jy kry reg wat jy wil doen, maar ek hou nie my asem op nie, jy is een hulle is agt…. Baie sterkte

Marius ·

Deon – Die regering sal enige iets doen om die Wes Kaap in n slegte lig te plaas , dit is hoekom hulle mense van ander provinsies stuur en die syfers op jaag .

Robert ·

Die ekonomie kan nie weer beskadig word deur inperkings nie, armhoede lei tot meer sterftes.

thejudge ·

Meer as 2000 nuwe gevalle bevestig lui die opskrif. MAAR het julle gehoor dat daar meer as 1600 nuwe “recoveries” aangemeld en bevestig is? Miskien moet die media met ‘n meer positiewe aanslag lei.

Jaco ·

Dit het die DA in die Wes-Kaap nou van hulle alewige toets toets toets vir corona. Dit stoot net die corona syfers onnodig op. ‘n Verhoogde vlak van inperking in die Wes-Kaap gaan nie net wees om Corona te keer nie. Dit gaan ook ‘n gerieflike lat vir die ANC wees om die Wes-Kaapse DA kiesers te straf omdat hulle nie ANC stem nie en om die Wes-Kaapse wit mense te straf vir apartheid.

Ali ·

Gaan lees so bietjie oor die “25 rules to take over the world” , en dan so bietjie oor Ida Auken se 2030 plan, sy was die ex eerste minister van Denemark, en dan miskien so bietjie oor die Rothchild gesin en as jy dan bietjie meer wil lees kan jy onder politifact.com gaan kyk hoeveel van die wereld daai een gesin besit… Julle kan self besluit, maar hopenlik is daar mense wie se oe sal begin oopgaan en sien wat regtig aangaan…

katerinadiekat ·

Bly om te sien nog iemand hier weet van die dinge.

Karel Kobus Kruger ·

Daar moes van dag een af geen inperking gewees het nie. As die virus jou net effens siek maak, bly tuis. As jy ernstige simptome toon, gaan hospitaal toe. As al die hospitale vol is…..o wel, dan beteken dit seker maar jou tydjie op aarde is verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.