Covid-19-sterftes in Gauteng styg in enkele week met 155%

Gautengse premier, David Makhura. (Foto: Twitter)

Die aantal daaglikse nuwe Covid-19-gevalle in Gauteng het oor die afgelope week verdubbel en hospitalisasies verdriedubbel. Covid-19-verwante sterftes het ook verlede week met 155% toegeneem vergeleke met die vorige week.

Só het die Gautengse premier, David Makhura, Dinsdag gewaarsku.

Die provinsie se infeksiekoers het die afgelope week skerp toegeneem met meer as 45 500 aktiewe gevalle teen Dinsdagaand. Makhura het egter waarsku dat die ergste nog voorlê en die piek van die tweede vlaag nog nie bereik is nie.

Sterftes

Kommer bestaan ook oor ’n toename in Covid-19-verwante sterftes in die provinsie.

Volgens Makhura het Gauteng se Covid-19-verwante sterftes in die laaste week van Desember met 123% toegeneem waarna dit die daaropvolgende week, die eerste week in Januarie, met 155% gestyg het.

Gauteng het gedurende die eerste infeksiegolf in Julie verlede jaar soveel as 200 sterftes per dag aangemeld.

“Ons is nog nie daar nie,” het die premier verduidelik.

’n Gemiddeld van 433 sterftes per week word in dié stadium in Gauteng aangemeld en die provinsie se algehele sterftekoers staan op 1,8%.

Hospitaalopnames  

Volgens die premier gaan Gautengse staat- en private hospitale tans gebuk onder ’n toename in opnames oor die afgelope sewe dae.

Teen die begin van die maand was daar sowat 700 Covid-19-pasiënte in Gauteng se staatshospitale. Die syfer het sedertdien tot meer as 2 400 toegeneem voor dit weer effens gedaal het.

Sowat 1 300 Covid-19-pasiënte was teen gister in ’n staatshospitaal in Gauteng, in vergelyking met die 2 787 pasiënte in private hospitale in die provinsie.

(Argieffoto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Altesaam 4 128 pasiënte is in dié stadium in ’n hospitaal in die provinsie weens Covid-19, van wie  220 aan ʼn ventilator gekoppel is. Altesaam 384 pasiënte ontvang tans suurstof.

Makhura het die versekering gegee dat die provinsie se hospitale die kapasiteit het om Covid-19-pasiënte te behandel. Die provinsie het voor die Covid-19-pandemie altesaam 1 925 beddens in sy hospitale gehad en nog 2 419 hospitaalbeddens is sedertdien bekom.

Nog 525 hospitaalbeddens sal nou teen die einde van Januarie in Gauteng beskikbaar gestel word in die lig van die tweede golf infeksies.

Al die beddens (sowat 1 000) by die Nasrec-veldhospitaal sal ook weer beskikbaar gestel word vir pasiënte wat kritieke sorg gedurende die tweede infeksiegolf benodig.

Volgens Makhura is Tshwane tans die dryfveer van die tweede golf nadat meer as ’n duisend matrikulante van dié stad ná die Ballito Rage positief getoets het vir Covid-19. Ander superverspreider-byeenkomste het natuurlik ook daartoe bygedra.

Die premier het gevra dat jong mense versigtiger moet optree aangesien die nuwe variant van die koronavirus wat verlede maand kop uitgesteek het, daartoe gelei het dat ook talle jongmense nou in die provinsie se hospitale opgeneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Stefan ·

En dan kry mens nog steeds mense wat aangaan asof daar niks aangaan.
Was laas Vrydag op ‘n begrafnis (nie Corona verwant nie) en minstens die helfte van die 50 aanwesiges het nie mond doekies opgehad nie en wou net almal druk en het my snaaks aangestaar as ek weier want hulle kom nie uit ‘n hotspot area nie.
Die kans is goed dat ons oor ‘n paar weke weer by elkaar kom vir ‘n begrafnis.

Piet ·

Dan kry mens steeds mense wat nie maskers dra nie want “dis net griep”

Vettiemaragartos ·

Sit ek nou hier by myself en dink ……. Mense maar ons het ‘n slim regering! Kan in die toekoms sien. Die 2de vlaag het nog nie sy piek bereik nie? Daar is ‘n 3de vlaag oppad!!!

Sekere van binnelandse sake se dienste word opgeskort sodat die sterftes geregistreer kan word???

Nee regtig hierdie anaconda gaan baie mense insluk.

Danie ·

Dink nie jy hoef in die toekoms te kan sien om te weet dat daar nog vlae oppad is nie. Common sense…..

Snowball ·

Maar jy weet mos Danie, Common Sense is a flower that does not grow in everybody’s garden…

Genis ·

Hierdie Covid is erenstig, baie ook.. ek moet bieg ek was ook n bietjie skepties..tot dit ons huis getref het…. en n vriend verloor het.. dis eindelik skrikwekkend…

Pieter ·

Praat julle wat nie graad twee op skool klaar gemaak het nie. Waar kry julle die syfers en wie doen die wiskunde.

Andries ·

Daar was 1300 kinders by die rave en ‘n whopping 1000 van pretoria. Wie moet hierdie belaglike syfers glo

Grys Uil ·

Ons is van Mpumalanga en was verlede Woensdag in Pta vir sjirurgie. Ons was geskok oor die aantal taxis waarin nie die bestuurder of enige pasassiers maskers dra nie. Dit was in Pta Oos omgewing em meeste was gemerk as lede van die Menlyn Taxi Association.

Adele ·

Daar gaan groot gemors kom want nou lyk Tswane na die episenter, maar soos met ‘n vorige berig, is daar BAIE pasiente van ander provinsies wat hiernatoe kom vir hulp. So nie alle Covid sterftes is afkomstig van Gauteng nie, maar nou maak die syfers dit so laat lyk.

Karlahari ·

Ek glo nie die syfer het meylt 155% gestyg nie. Die getalle word bloot nou akkuraat deur gegee.
Teen Dinsdag was die steef persentasie tov positiewe toetse in die Wes Kaap 3.44%.
In die Oos Kaap 4.8% en Vrystaat 3.45%.
KZN 2.07%.
Gauteng egter het op 1.83% gestaan wat nie inlyn is met wêreld wye en landswye gemiddeldes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.