Covid-19: Sterftes in tronk aangemeld

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het bekend gemaak dat hy twee Covid-19-sterftes en ses nuwe gevalle by ʼn gevangenis in Oos-Londen in die Oos-Kaap aangemeld het.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, is daar nou altesaam 165 Covid-19-gevalle in die departement.

Nog ses gevangenes by ʼn gevangenis in Oos-Londen is met Covid-19 gediagnoseer terwyl twee gevangenes met onderliggende siektetoestande oorlede is.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan hul gesinne. Ons gaan voort om met die departement van gesondheid saam te werk en by al hul riglyne in die stryd teen hierdie pandemie te hou.”

Volgens Nxumalo is gesondheidsorgwerkers ontplooi om dienste te lewer. “Hulle is van persoonlike beskermende toerusting voorsien en monitor ook die situasie sodat diegene wat dringende mediese hulp benodig dit wel kan ontvang.”

In die Oos-Kaap het 65 gevangenes en 35 beamptes reeds positief vir Covid-19 getoets en is twee sterftes aangemeld. Volgens Nxumalo het 58 mense in die provinsie reeds van die virus herstel. In die Wes-Kaap het drie gevangenes en 49 beamptes al positief getoets en is een sterfte aangemeld.

In Limpopo het twee beamptes reeds positief vir Covid-19 getoets en het een personeellid van die virus herstel. In Gauteng het drie beamptes en agt gevangenes positief getoets. By die departement se hoofkantoor het een beampte positief getoets.

Die departement het vroeër sy misnoeë uitgespreek oor wat hy noem die belediging en stigmatisering van beamptes weens Covid-19.

“Die situasie raak nou ondraaglik, veral in die Oos-Kaap waar beamptes onmenslik behandel word wanneer hulle winkels en ander openbare plekke besoek. Sommige winkeleienaars verbied hulle toegang tot die winkels en in ander gevalle wys lede van die publiek vinger na ons beamptes in uniform,” het Nxumalo gesê.

“Hierdie soort optrede is ontmoedigend en het ʼn negatiewe uitwerking op ons beamptes wat ʼn noodsaaklike diens in moeilike tye lewer. Ons doen ʼn beroep op lede van die publiek om onmiddellik dié optrede stop te sit.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.