Covid-19-sterftesyfer styg verder

Die getal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika het die afgelope 24 uur met 91 van 2 415 tot 2 506 toegeneem. Sewe bykomende Covid-19-sterftes is sedert Dinsdag aangemeld, wat die totale syfer op 34 te staan bring.

Dié sewe sterftes het egter nie die afgelope 24 uur plaasgevind nie, maar is pasiënte wat tussen 9 en 13 April dood is en eers later met Covid-19 gediagnoseer is, het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdagaand verduidelik.

“Slegs een van die slagoffers, ʼn 50-jarige man, was van Gauteng. Die res was almal van KwaZulu-Natal en ook almal ouer as 70 jaar,” het Mkhize gesê.

Vyf van die sewe oorledenes het ook aan ander siektetoestande soos asma, hipertensie en diabetes gely.

Volgens die jongste syfers van die departement van gesondheid was die grootste toename in gevalle in die Oos-Kaap. Dié provinsie se getal Covid-19-gevalle het met 25 toegeneem van 174 gevalle Dinsdag tot 199 gevalle Woensdag. Dit kan grotendeels toegeskryf word aan die toename in toetsing van gevangenes en bewaarders in Oos-Kaapse tronke.

Gauteng se gevalle het met 21 toegeneem van 909 na 930. Dié provinsie het steeds die meeste bevestigde gevalle in die land.

Mkhize het sy medelye met die families van die oorledenes betuig en gesondheidswerkers bedank vir hul uitnemende werk te midde van die pandemie. Hy het Suid-Afrikaners aangemoedig om, in aanloop tot die winter, warm te bly, nie onnodig naby aan ander mense te beweeg nie en gebruik te maak van gesigsmaskers.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fred ·

Let mooi op die syfers vir sterftes wat genoem word in die artikel.
By verre die meeste sterfgevalle tel onder ou mense wat reeds erg siek was, baie min sterfgevalle onder jonger gesonde mense, ook wereldwyd.
Afgesien van die groot las op gesondheidssorg, is Covid-19 dan werklik so n dodelike bedreiging as wat van dit gemaak word?
Ek self is byna 70 jaar oud en kan net my kop skud vir die histerie.
Baie ander dinge in die lewe is veel gevaarliker, gaan kyk op die Internet…

Sean ·

En ek hoop oom gaan nog vir baie baie jare vir ons gespaar bly Hierdie verkoue skrik oom nie af sien ek

Fred ·

Dankie vir jou tong in die kies goeie wense!
Sover is die sterfpersentasie maar 1.3 %, en dit vir siek ou mense. Dit kan natuurlik meer word vorentoe, in die VS is dit 4.5%. Dit is seker meer as met gewone griep/verkoue maar veel minder vir gesonde mense.
Ek aanvaar natuurlik dat die simptone baie erg kan wees.

koos10 ·

In SA is net sowat 4% van die bevolking getoets en daar is 2500 gevalle en 34 stertes. As hierdie die maatstaf is vir wat ons weet dan kan dit beteken dat in SA daar 2 mij mense die siekte kan dra (4% van 50 mil mense) en as die sterfte koers 1.3% is beteken dit dat daar 26 000 mense kan sterf. Dis getalle wat ons gesondheid sorg infrastruktuur nie kan dra nie.

Fred ·

Ja dit is ook so, al was daar nie iets soos Covid-19 nie… Hopelik gaan ons gesondheidssorg nou goed opgeskerp word vorentoe, of hoop ek te veel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.