Covid-19: Streng regulasies geld nou vir hantering van oorskot

(Argieffoto: Oupa Mokoena/ANA)

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het bykomende regulasies in die Staatskoerant aangekondig wat die hantering van die oorskot van diegene wat weens Covid-19 sterf duidelik uitstippel. Dit sluit ook die hantering van ʼn liggaam in wanneer iemand tuis weens die virus sterf.

Een van die regulasies wat aangekondig is, bepaal dat oorledenes voortaan in ʼn sogenaamde massagraf begrawe kan word.

“Waar die drakapasiteit van die begraafplaas weens Covid-19-sterftes oorskry word, kan die munisipaliteit of tradisionele owerheid toelaat dat meer as een menslike oorskot, met ʼn maksimum van drie liggame, in dieselfde graf begrawe word,” lui die regulasies.

Ingevolge die regulasies moet munisipaliteite geskikte en gemagtigde lykshuise met geldige bevoegdheidsertifikate identifiseer vir die hantering van alle Covid-19-slagoffers se menslike oorskot en die verdere bestuur daarvan. Private en staatslykshuisoperateurs moet ook “bykomende lykshuiskapasiteit” beskikbaar stel en seker maak hulle gaan meer as een liggaam vervoer, sou dit nodig wees.

“Munisipaliteite en tradisionele owerhede moet grond identifiseer en beskikbaar stel vir , sou die behoefte ontstaan.”

Munisipaliteite en private begraafplaasoperateurs moet verseker dat die begrafnis of verassing van ʼn Covid-19-slagoffer in geskikte begraafplase of krematoriums plaasvind.

Die regulasies maak ook voorsiening vir wanneer iemand tuis weens Covid-19 sterf.

In só ʼn geval mag niemand die oorskot hanteer nie. Paramedici moet ontbied word om die persoon dood te verklaar en ʼn begrafnisondernemer moet die oorskot verwyder.

Die slagoffer se klere en ander items mag net met handskoene gehanteer word en dit moet gewas en ontsmet word.

Ingevolge die regulasies moet ʼn begrafnisondernemer eers op die oggend van die begrafnis – en nie al die aand tevore nie – die oorskot besorg en verseker dat dit geensins aangeraak word nie.

Die departement moedig ook die verassing van Covid-19-slagoffers aan.

Roudienste moet so kort moontlik wees en mag nie langer as twee uur duur nie. Roubeklaers moet ʼn sosiale afstand handhaaf en slegs nabye familielede word aangemoedig om die begrafnis by te woon.

ʼn Herrie het sowat twee weke gelede losgebars ná berigte dat meer as ʼn miljoen grafte reeds ter voorbereiding van Covid-19-sterftes in Gauteng gegrawe is. Die provinsiale gesondheidsdepartement moes vervaard vure doodslaan en het later ontken dat soveel grafte reeds gegrawe is.

Teen Maandagaand het die dodetal weens Covid-19 in Suid-Afrika op 5 173 gestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Dink nou dat verassing ‘n beter opsie is, as drie in ‘n graf. Jou oorskot kan dan maar by jou familie rus, of in ‘n muur van herinnering. As die pawpaw rerig die waaier slaan dan kan die regulasies verander na 15 in ‘n graf!

Johann ·

Ne? Se die een ons nou voor oor lewe en dood…sommer die hierna ook? En as hy stapel komplekse voorstel neem ek aan dis drie maal 50 per “oorskot”? Maw 150 gangers per graf? Maw twee VOL taxis?

Karin ·

Moenie namens ander mense besluit nie. Geloofsoortuiging speel ook ‘n rol.

Carina ·

Genade, soos hulle aangaan sou mens sweer die liggame is radio aktief!! Laas wat ek gelees het word die corona deur spuug versprei, hetsy nies of hoes. So ek sien geen rede hoekom die mense nou so “onmenslik” behandel moet word nie. As die liggaam mooi gewas is, is daar mos geen rede hoekom die familie nie hul eie begrafnis mag hanteer nie. Verassing is in elk geval die beste opsie, ons kan nie bekostig om nog vrugbare landbou grond af te staan vir grafte nie. Niemand besoek in elk geval meer grafte nie, dis te gevaarlik. Met verassing kan ek ten minste die as by my hou of in ‘n nis laat sit.

koos10 ·

Gaan kominisme nou selfs na die dood aan? As ek vir my graf betaal het, moet ek dit dan deel? Indien wel, mag van die die ander families vereis word om ‘n derde teen mark verwante pryse te betaal?

Pampoenboer ·

Verassing is enigste oplossing vir hoigs gevaarlike siektes. Jare van nou as daar nie meer plek is vir begrafplase nie word daai kiste op gegrawe en wragties daar begin die siekte weer

Peetjie ·

As daar nou drie saam begrawe word wie se loviale gedenksteen gaan daar pryk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.