Covid-19: Strenger maatreëls binnekort verwag

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die nasionale bevelraad vir die hantering van kwessies rakende die koronavirus het Dinsdag vergader te midde van ál meer sprake van Suid-Afrika se dreigende derde virusgolf.

Verskeie kenners en belanghebbendes het vandag aan Maroela Media gesê hulle hoop en vertrou dat die regering uit die afgelope jaar se ervaring geleer het en nié weer ʼn vlak 4- of vlak 5-inperking ten koste van die ekonomie sal instel nie. Kenners voorspel egter dat die regering weer strenger maatreëls sal afkondig, hoewel ʼn verbod op drank en die sluit van skole nie verwag word nie.

Suid-Afrika het tans meer as 40 000 aktiewe Covid-19-gevalle, met tussen 2 000 en 3 000 mense wat daagliks positief toets vir Covid-19. Gauteng is tans die provinsie met die meeste aktiewe gevalle (11 108).

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), voorspel dat ál meer gevalle oor die volgende drie weke aangemeld sal word voordat die derde virusgolf in Junie en Julie sal tref.

Projeksies toon dat die golf dan moontlik sy kruin teen die einde van Junie en begin Julie sal bereik voordat Suid-Afrika teen Augustus oor die ergste behoort te wees.

Strenger afsonderingsmaatreëls

Dr. Nathi Mdladla, ʼn medeprofessor en hoof van die intensiewesorgeenheid by die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal en die Sefako Makgatho-universiteit, sê hy sal verras wees as die regering weer ʼn uiters streng afsonderingstydperk instel.

“As hulle dit doen, sal dit belaglik wees. Daar was reeds twee golwe. Ek werk in die intensiewesorgeenheid. Ek sien die lyding, die verlies … maar ek sien nie dat getalle tydens ʼn streng inperkingstydperk daal nie.”

Mdladla sê hy hoop die regering het lesse uit die vorige twee virusgolwe geleer. Hy wys daarop dat infeksies styg en weer daal wanneer dit ʼn kruin bereik en die instel van ʼn afsonderingstydperk kan dié keerpunt bloot uitstel.

Oor bespiegeling van ʼn hoër inperkingsvlak sê Mdladla dit gaan “afhang na wie die regering luister”.

“Die besluit moet gegrond wees op ʼn balans. Ons kan nie net aanhou sê dit gaan oor die red van lewens nie, want ons moet mense se inkomste ook red.”

Mdladla meen die beste roete om die verspreiding van die virus te keer, is vir mense om hul gedrag aan te pas.

Mulder vermoed dat Suid-Afrika binnekort na ʼn hoër vlak van inperking sal beweeg.

(Argieffoto: Ronny Hartmann/AFP)

“Die regering het net een knoppie om hierdie ding te hanteer en ek vermoed dat hy weer op daardie knoppie gaan druk.”

Barend Uys, navorsingshoof by AfriForum, sê daar is teen dié tyd genoeg inligting wat daarop dui dat inperking nié help om die verspreiding van Covid-19 te stuit nie.

Uys meen dit sal meer sinvol vir die regering wees om op die vroeë behandeling van Covid-19 te fokus en te verseker dat die nodige medisyne hiervoor beskikbaar gestel word.

Uys is ook gesteld op die verwoestende uitwerking van ʼn streng inperking op die ekonomie. “Ons kan nie ʼn besluit neem wat mense verhoed om werk toe te gaan nie, want dit gaan armoede tot gevolg hê en armoede is wat die heel meeste sterftes sal veroorsaak.”

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, glo op sy beurt dat strenger maatreëls tog in dié stadium oorweeg moet word. “Strenger beperkings moet eerder so gou doenlik ingestel word. Dit moet egter ʼn fokus op openbare gesondheidsbehoeftes wees en ekonomiese skade tot die minimum beperk.”

Prof. Alex van den Heever, ʼn gesondheidsekonoom verbonde aan Wits se Skool vir Regeringskunde, glo ook dat strenger afsonderingsregulasies die verspreiding van die virus kan beperk, míts die regering op openbare byeenkomste fokus.

Hy meen egter ook dat die ekonomie hoegenaamd nié weer onder enige afsonderingsregulasies mag of kan ly nie. Die regering sal dus ʼn strenger inperking “deeglik moet oorweeg”, sê hy.

Sluit van skole

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, vermoed dat Suid-Afrika na vlak 2 van afsondering sal skuif. Hy glo egter nie dit sal nodig wees vir die skole om dan te sluit nie.

(Argieffoto)

Volgens Klopper het skole ná meer as ʼn jaar sedert die uitbreking van Covid-19 genoegsame maatreëls en protokol ingestel om die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker.

Hy wys ook daarop dat die verspreiding van die koronavirus deur middel van kontaksport nie meer ʼn probleem is nie, nadat alle kontaksportsoorte opgeskort is. Klopper noem wel dat die meeste Covid-19-infeksies onder leerders buite die skoolterrein plaasvind – veral onder hoërskoolleerders wat sosiaal verkeer.

Hy doen voorts ʼn beroep op die regering om die inenting van onderwysers te prioritiseer aangesien onderwysers in hul beroep aan “tussen 100 en 150 huisgesinne per dag” blootgestel word.

Nóg ʼn alkoholverbod

Volgens Sibani Mngadi, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Drankhandelsname (Salba), het die vereniging in dié stadium nog geen aanduiding van die regering ontvang dat nog ʼn alkoholverbod oorweeg word nie.

(Argieffoto: pixabay)

“Soos ons verstaan, het die ministeriële adviesraad nie ʼn algehele verbod op die koop en verkoop van drank gedurende die tweede golf voorgestel nie. Ons hoop dit bly so.

“Ons wil glo dat die regering nou al deeglik bewus is van die skadelike uitwerking van ʼn alkoholverbod op die ekonomie.”

Maroela Media het vroeër berig die ministeriële adviesraad se aantekeninge toon dat dié raad nooit ʼn algehele verbod op die koop en verkoop van drank oor Desember voorgestel het nie, maar slegs aanbeveel het dat drankverkope tot sommige dae beperk word.

Die regering het egter ondanks dié aanbeveling en pleidooie van rolspelers in die drankbedryf  besluit om ʼn algehele drankverbod van vyf weke lank oor die feestyd in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Johan ·

Dankie tog, die liggies begin aangaan “…die getalle neem nie af a.g.v streng inperkings nie” wat wel gebeur, is dat mense hongerly omdat hul nie kan werk nie. Anders as die wat so pro regulasies is leef die meeste mense in SA “van die hand na die mond”. As hy vandag werk in jou tuin, het hy vandag kos vir sy mense. Maar die paranoïes wat in vrees lewe wil dit nie hoor nie, hul is so bang dat hul vergeet om te dink aan die skade wat hul doen sonder om werklik n groot invloed op die virus te hê… Hou maar dop hoe gaan die bende weer hier toeslaan.

Eric ·

En so word die leun maar net daagliks herhaal totdat dit n feitelike waarheid is ne.

Vlooitjie ·

Ek dink nie enigiemand wat geregtelik verkies om nie die entstof te vat vra om bejammer te word nie

Fritz ·

Bejammer eerder diegene wat dalk by my gaan aansteek omdat ek nie die inenting gaan vat nie.

MakersMark ·

Nogal ‘n arrogante antwoord. Hopelik word die infeksie oorleef.

MakersMark ·

Wat die Dr. nie sê wat musiek vir domastrante ore is nie is dat die inperkings TE LAAT ingestel word. Meeste mesnse wat siek word en hospitaal toe gaan gaan tussen 7 en 10 dae na positiewe toets hospitaal toe. Waarom neem die infeksies dan af so 14 dae NA inperkings ingestel is ? Gaan kyk na die vorige golwe 1 en 2. Logika ontbreek baie mense……

Karen ·

Skole is oortrek van die virus? 27 skole vanaf Maandag gesluit vir sanitering, 2 kinders by my kind sê skool positief getoets, klasse in isolasie, en dit is maar net waarvan hulle weet?

Jan ·

Daar is geen bewys dat enige van die maatreëls werk nie; inteendeel, bewyse van kollaterale skade is volop. Nogtans gaan die vals narratief voort dat maskerdra en isolasie deur gesonde mense noodsaaklik is. Dit gaan oor beheer en geldmaak, nie oor gesondheid nie.

MakersMark ·

Snert. Toe vlak 4 en 5 inperings ingestel is het infeksies afgeneem. Waar voorkomingsreëls verontagsaam is het infeksies toegeneem – dink Desember 2020 tuinroete super verspreider byeenkomste na matriek eksamen, begrafnisse ets. Kyk drie maande terug Indië met godsdienstige feeste – miljoen mense byeengekom op die banke van die Ganges, drie maande later 4000 dood ‘n dag. Data is beskikbaar vir almal om te sien. Net nodig om ‘n grafiek te kan trek. Maar dis weer ‘n nuwe uitdaging……

Thom ·

Ek sal persoonlik vra dat die volgende chirurg wat aan jou sny dit maskerloos doen sodat sy asem en speeksel-partikels oor en deur jou organe kan versprei , ons sit mos die goed op net vir die vertoning !

MakersMark ·

Die domastrantes en balhoriges is tipies die wat nie verder as hul voordeur gaan nie maar ander aanmoedig dis eintlik alles net ‘n grap.

Vlooitjie ·

Dit is die oorspronklike doel vanmaskers dra, jy is reg. Oor die res is jy nie.

Francois Le Cochon ·

Die talle wereldwye bewyse is net vir diegene wat dit begryp en verstaan. Dit is nie vir diegene wat dit nie wil verstaan nie. Dit geld ook vir covid statistieke.

MakersMark ·

Vir meeste domastrantes en balhoriges hier gaan dit oor hulself en hul eie inkomste. Suur oor die mediese industrie geld maak deur miljoene lewens te red. Wonder waar moet mediese dienste en tegnologie bekom word teen zero insetkoste. Oor die eeue heen het wêreld gebeure mense se inkomste impakteer. CV19 is net nog so gebeurtenis. Kortsigtiges kerm oor hul inkomste en “die wat geld maak”. Die met insig beskerm hul gesondheid en die van hul geliefdes. Alles gaan verby, CV19 ook. Beplan om te lewe na dit. Geld kan weer gemaak word, lewe en gesondheid kan nie teruggekry word as dit weg is nie.

Mallie ·

Dit is belaglik. Vertel bietjie vir ons die waarheid. Die regte waarheid, want daar is soveel foeifies dat niemand weet wat regtig aangaan nie. Daar word inligting versprei dat ons nie verplig kan word om maskers te dra of sosiale afstand te hou nie. n Mens raak so deur mekaar dat niks sin maak nie. Is daar nie iemand wat regtig weet wat aangaan en ons behoorlik kan inlig oor wat aan die gang is en wat om te doen nie, Groot asb.

Francois Le Cochon ·

Almal is behoorlik ongelig, maar nie almal wil dit inneem nie. Wetgewing moet gedien word, nie geinterpreteer word nie.

Karina ·

Kommunistiese regering, wil ons onder die duim hou. Nou is Mkize ook skuldig aan bedrog. Hulle moet almal verdwyn want alles word afgebreek. Wil ons die reg ontneem om onsself te beskerm. Sorg eers om al die onwettige vuurwapens te kry en vernietig. Soek al lankal rede om ons weer “toe te sluit”

KaRoOkWaGgA ·

Weet iemand dalk waar mens ‘n rooster kan kry wat deur die regering saamgestel is vir wanneer die virus vlae van stapel gestuur word? Ek dink dis darem elkeen se reg om te weet hoe die regering se beplanning werk. Ongelukkig is hierdie virus niks anders as ‘n wêreldse politieke speletjie nie, en landsburgers betaal die prys daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.