Covid-19: Stroom gratis konsert met Afrikaanse sangers

Jan Tuiskyk se karretjie was nog nooit só aanloklik nie!

Op Saterdag 21 Maart kan Afrikaanse gehore wêreldwyd inskakel vir die Atterbury-teater en Optog! se eerste e-konsert.

Amanda Strydom, Jannie Moolman, Jak de Priester, Ricus Nel, Theuns Jordaan, Corlea Botha, Johrné van Huyssteen en Kevin Leo het goedgunstig ingestem om deel van dié reusekonsert te wees wat regstreeks uit die Atterbury-teater in Pretoria uitgesaai word.

E-konserte word tans regoor die wêreld as ’n veilige alternatief tot vermaak gebied. Dié konserte bied kykers die geleentheid om aanlyn in te skakel in die gerief en veiligheid van hul eie huis.

“Wat ons doen is nie uniek nie,” sê Matthys Maree, wat in 2018 die Optog!-projek begin het. Die projek toer landswyd met teater- en musiekproduksies.

“Daar is wêreld ʼn omwenteling aan die gang. Almal wat belangstel of betrokke is by die kunste, neem kennis van die verandering.”

Maree verduidelik dat daar egter in der haas tegniese toerusting aangekoop moes word.

“Ons stromingstoerusting het gister van Amerika af aangekom,” vertel hy. “Dit is vandag opgestel en is reeds aan die gang.”

Die Atterbury-teater. Foto: Facebook

Binne die eerste uur nadat die konsert se skakel geaktiveer is, het mense in ongeveer 12 lande aangetoon dat hulle gaan inskakel. Dit sluit lande soos Australië, Amerika, Roemenië, Burkina Faso en Nieu-Seeland in.

“Saam met die krisis is daar ook positiewe aspekte hieraan verbonde. Mense wat op die platteland of elders in die wêreld woon het in elk geval nie so maklik toegang tot kunstefeeste en konserte nie,” meen Maree.

Die krisis waarin die koronavirus (Covid-19) die wêreld dompel het verreikende gevolge, maar Maree beklemtoon dat daar ook iets positief hiervan kan kom.

“Dit is nie bedoel om ʼn blink gepoleerde, fênsie konsert te wees nie,” sê Maree. “Dit gaan eintlik nie oor wát ons doen nie, maar hóé ons dit by die mense uitkry.”

Die e-konsert skop môreaand om 19:00 af. Kykers kan hier kliek om saam te kyk.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Amatambo

Ek sal beslis daarna kyk!!! Sterkte en dankie aan sulkemense wat dit moontlik maak!!!

Leonard

Awsome. Musiek is ‘n universele taal. Dit raak almal. Dit beur op, skep hoop, maak kalm en trek vele mense tot ‘n rustige eenheid in die gemoed. Ja in die tyd trek baie kunstenaars swaar wat nie meer daarbuite hulle talente voor ‘n vol gehoor kan uitleef nie, MAAR dankie vir hulle wat op die manier ons mense steeds vermaak in hierdie onsekere tyd.