Covid-19: Studie wys paniekaankope veroorsaak tekorte

Volgens ‘n studie spook talle Suid-Afrikaners om weens paniekaankope basiese items aan te koop. (Foto: Maroela Media)

Die internasionale navorser Finder het bevind meer as die helfte (56%) van Suid-Afrikaners kon die afgelope maand weens paniekaankope nie sekere basiese benodigdhede aanskaf nie.

“Dit is ʼn geraamde 21,6 miljoen mense wat nie items soos handontsmettingsmiddel, vars kos, medisyne en toiletpapier kon koop nie,” het die navorsers bevind.

Volgens die navorsing is handontsmettingsmiddel vir talle mense in dié stadium skaarser as hoendertande en meer as ʼn derde van diegene wat aan die studie deelgeneem het, kon dit in die afgelope maand nie aankoop nie.

“Dit lyk asof mense vergeet het dat om die verspreiding van ʼn wêreldpandemie te stuit álmal se hande skoon moet wees.”

Weens die Covid-19-pandemie is toiletpapier een van die basiese items wat mense sukkel om in die hande te kry. (Foto: Christel Cornelissen)

Een in vyf Suid-Afrikaners het gesê hulle kon nie toiletpapier te koop kry nie en 21% van die deelnemers het aangedui dat hulle nie vars kos kon aanskaf nie. Altesaam 19% van die deelnemers kon nie medisyne koop nie en 18% het gesukkel om droë produkte in die hande te kry.

Finder het ook bevind dit is veral jonger Suid-Afrikaners wat spook om basiese benodigdhede in die hande te kry. Meer as 60% van diegene in die ouderdomsgroep 18-24 jaar het gesê hulle kon die afgelope maande minstens een noodsaaklike item nie in die hande kry nie.

Suid-Afrikaners ouer as 65 jaar het volgens die studie die minste gesukkel.

Bykans 60% van vroue het gesukkel om basiese items te koop, in vergelyking met 54% van mans wat aangedui het dat hulle sekere produkte nie kon aanskaf nie.

Die studie is ook in die VSA, Kanada, Ierland, Hongkong en die Filippyne gedoen. Die Filippyne (58%) het die meeste gesukkel om basiese items te koop, gevolg deur die VSA (56%), Suid-Afrika (56%) en laastens Hongkong (43%).

(Foto: Maroela Media)

In die VSA is die soektog na toiletpapier selfs erger as hier – een uit elke drie Amerikaners het gesê hulle sukkel om toiletpapier in die winkels te kry. Volgens die navorsing dui dit daarop dat dit ʼn gewilde item is om tydens ʼn paniek-inkopietog in groot maat in jou winkeltrollie te gooi. Dit is egter ook moontlik dat die aanvraag die aanbod weens ʼn ander rede oorskry.

Amper ʼn derde (32%) van Amerikaners en 30% van Kanadese sê hulle voer ʼn stryd om ʼn toiletpapier aan te koop, terwyl 16% van mense in die Filippyne, 17% van mense in Hongkong en 18% van mense in Ierland aangedui het dat hulle nie toiletpapier kon koop nie.

Uit al die lande waar die studie gedoen is, het Suid-Afrikaners die meeste gesukkel om toiletware – toiletpapier uitgesluit – te koop.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vonnie ·

daar hoef nie eens ‘n studie gedoen te word nie, dis logika!

JC Venter ·

Per die Sunday Times
“Our children’s cries of hunger are forcing us to violate lockdown rules’: informal settlement residents.

Jacobus ·

Produkte word volgens mark kragte verskaf, vervoer en vervaardig. Nie eers die president se uitvaardigings kan mark kragte manipuleer nie.

Strandloper ·

Dit is tog net menslik om voorbereid te wees…of moet ons nou almal die african way aanvaar…ek glo nie!

Oros Soros ·

Is alle oormatige aankope paniekaankope? Ek weet van persone wat meer aangekoop het met die doel om glad nie met die buite wêreld in aanraking te kom gedurende die tydperk van afsondering nie. Die aankope was nie uit paniek nie, maar om maksimale self-isolasie toe te pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.