Covid-19: Suid-Afrikaners in Wuhan nié siek, sê minister

Dr. Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Die Suid-Afrikaners wat oor die volgende paar dae vanuit Wuhan, China, in Suid-Afrika land, toon geen simptome van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 nie.

“Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie mense nie siek is nie,” het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdag aan LP’s in die parlement gesê. Die minister het die portefeuljekomitee vir gesondheid op die hoogte gebring van die land se gereedheid vir Covid-19 sou die virus in Suid-Afrika uitbreek.

Volgens Mkhize sal die 151 Suid-Afrikaners wat binnekort teruggevlieg word, 21 dae lank in kwarantyn bly. Die minister verduidelik dat die mense slegs waargeneem sal word. Aangesien die virus ʼn inkubasietydperk van 14 dae het, sal die groep ná twee weke weer vir die virus getoets word, waarna die laaste week gebruik sal word om hulle te monitor en stelselmatig voor te berei om weer terug in die samelewing gestuur te word.

Sou sommige wel positief toets vir Covid-19, sal hulle na een van 13 hospitale in die land gestuur word wat toegerus is om pasiënte met die virus te behandel. “Alle provinsies is gereed om dié pasiënte te behandel,” sê die minister.

Dit is steeds nie duidelik wanneer die groep in Suid-Afrika sal land nie. Mkhize verduidelik dat die laaste logistieke kwessies soos permitte in dié stadium nog uitgepluis word voordat hulle na Suid-Afrika gebring kan word.

Foto: (Zoltan Balogh/MTI via AP)

Die minister sê veiligheidsmaatreëls is intussen ook by die land se grootste grensposte opgeskerp. Dit sluit in die verskaffing van die nodige beskermingsdrag vir personeel, asook ontsmettingsmiddels wat op die vloere en mure van grensposte gebruik word. Immigrasiebeamptes word ook nou toegerus met handskoene en maskers.

“Hierdie virus is besig om stadig maar seker in elke land kop uit te steek. Ek dink in ʼn kwessie van maande sal gevalle in letterlik elke land aangemeld word. Ons moet nou op lang termyn voorberei vir hierdie probleem.”

LP’s het vanoggend die departement van gesondheid geloof vir die veiligheidsmaatreëls wat ingestel is, sou die virus in Suid-Afrika uitbreek. Verskeie politieke partye het egter aangevoer dat daar steeds ruimte vir verbetering is. Geen bevestigde geval van Covid-19 is nog in Suid-Afrika aangemeld nie.

Lande waar gevalle wel reeds aangemeld is, spook om dié virus hok te slaan. Iran het intussen aangekondig dat hy 54 000 gevangenes tydelik uit tronke in dié land gaan vrylaat, in ʼn poging om Covid-19 in bedwang te bring. Die virus het reeds die lewe van 77 mense in dié land geëis, met 2 336 bevestigde gevalle in dié stadium aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sean ·

So as hulle simptome kry word hulle na 13 verskillende hospitale verskyf???? Slim gedink Die virus sal nie na 13 verskillende plekke in ons land versprei nie Nee o crap

Anoniem ·

Nog geen bevestigde geval in SA nie? Ons gaan lank wag om enige waarheid of bevestiging vanaf SA owerhede te kry. Waarheid en bevestiging is mos westerse begrippe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.