Altesaam 164 werkers by AngloGold Ashanti se Mponeng-myn naby Carletonville het positief vir die nuwe koronavirus getoets. Die myn is as ʼn voorsorgmaatreël gesluit.
Die mynmaatskappy sê hy het 650 toetse sedert verlede Donderdag gedoen. Heelparty van die werkers het hulle vrywillig aangebied om getoets te word.
“Die proses het 164 positiewe gevalle opgelewer met net ʼn handvol toetsuitslae nog uitstaande,” het die maatskappy Sondag in ʼn verklaring gesê.
Die meerderheid van diegene wat positief getoets het, was asimptomaties. Almal wat positief vir Covid-19 getoets het, word in ooreenstemming met nasionale gesondheidsprotokolle in afsondering gehou.
Mponeng gebruik elektroniese moniteringstoestelle as veiligheidsmaatreël om vermiste mynwerkers in geval van nood op te spoor en dié stelsel word nuttig gebruik om primêre of nabye kontakte van diegene wat positief getoets het op te spoor.
Die maatskappy sê die departemente van gesondheid en minerale hulpbronne en energie, asook die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS), streeksgesondheidsowerhede en vakbonde word op hoogte van verwikkelinge gehou.
Die Mponeng-myn werk in dié stadium op 50% van sy gewone kapasiteit en is as voorsorgmaatreël tydelik vrywillig gesluit. Die besluit is geneem sodat alle primêre kontakte van diegene wat positief getoets het opgespoor kan word en die werksomgewing ontsmet kan word.
AngloGold Ashanti sê hy het twee hospitale in Noordwes en Gauteng vir openbare gebruik beskikbaar gestel as deel van sy pogings om die verspreiding van die virus te help stuit. Die maatskappy het ook R20 miljoen tot Suid-Afrika se Solidarity Fund bygedra.
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
Snaaks die myn is nie in die Wes Kaap nie