Covid-19: Talle hospitale reeds vol

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Private hospitale in sommige provinsies bel verwoed rond na ander hospitale op soek na beskikbare hospitaalbeddens vir ernstig siek Covid-19-pasiënte.

Dit nadat die aantal nuwe Covid-19-gevalle die afgelope weke drasties in Gauteng, die Vrystaat en die Noord-Kaap toegeneem het.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê verskeie private hospitale in Gauteng sowel as private hospitale in Bloemfontein in die Vrystaat en Kimberley in die Noord-Kaap word reeds die afgelope twee weke met Covid-19-pasiënte oorval.

Maroela Media het verneem van verskeie pasiënte wat die afgelope paar dae noodgedwonge by hospitale weggewys is weens ’n tekort aan hospitaalbeddens. Dit terwyl ’n pasiënt meer as 24 uur lank in die ongevalle-eenheid van ’n Pretoriase hospitaal behandel moes word voordat ’n hospitaalbed eindelik beskikbaar geword het.

Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare, sê dié hospitaalgroep beleef beslis ’n toename in Covid-19-verwante hospitalisasies, hoewel die situasie daagliks verander.

Mediclinic het ook bevestig dat die derde vlaag infeksies reeds sy hospitale in Gauteng, die Vrystaat en die Noord-Kaap se kapasiteit beïnvloed. “Dit terwyl ons fasiliteite in ander streke ’n kleiner toename in toelatings ervaar,” sê dr. Gerrit de Villiers, hoof- kliniese beampte by Mediclinic Suid-Afrika.

Slegs kritieke pasiënte hiér opgeneem

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Mediclinic Midstream in Centurion is een van die private hospitale wat in dié stadium slegs kritieke Covid-19-pasiënte kan prioritiseer. Pasiënte in ’n stabiele toestand word na nabygeleë private hospitale met beskikbare beddens verwys.

“Dié besluit is geneem om te verhoed dat enige individu se sorg in gedrang kom weens ‘n vertraging in behandeling,” sê De Villiers.

De Villiers sê Mediclinic Midstream se ongevalle-eenheid is egter steeds beskikbaar om enige pasiënt in ’n noodgeval te stabiliseer. “Sodra die pasiënt se toestand stabiel is, sal die individu na die naaste  beskikbare fasiliteit verwys word.”

Die dogter van ’n 77-jarige Covid-19-pasiënt getuig hiervan.

Volgens die pasiënt se dogter, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gesels het, het haar ma se toestand oor die naweek versleg nadat sy vroeër positief vir die koronavirus getoets het. ’n Ambulans is ontbied en paramedici het aangedui dat haar ma se suurstofvlakke nog nie van só ʼn aard is dat sy met ’n ambulans na die hospitaal geneem kan word nie.

“Die hospitaal het gesê hulle vat net mense wat ventilators nodig het of kritiek is,” vertel die dogter.

De Villiers verduidelik dit is praktyk om ambulanse tydelik te herlei indien daar ʼn onaanvaarbare hoë werklading op personeel is of te min hulpbronne soos hospitaalbeddens is. Dié besluit word daagliks hersien soos die situasie verander.

Die dogter vertel haar ma het met verloop van tyd al hoe swakker geword en die familie is Maandag omstreeks 16:00 na Mediclinic Midstream. Hier moes haar ma tot 23:00 wag voordat ʼn eenheid by ongevalle oopgegaan het waar haar ma ondersoek kon word.

“Die personeel is só oorlaai,” vertel die dogter. “Jy kan sien hulle doen hul bes, maar daar is nie genoeg hande nie.”

Haar bejaarde ma is eindelik ondersoek en dit kon vasgestel word dat sy Covid-19-longontsteking opgedoen het. Haar toestand was egter steeds van so ʼn aard dat sy nie by Mediclinic Midstream opgeneem kon word nie.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar is rondgebel en die pasiënt en vier ander met Covid-19 kon eindelik Dinsdagoggend na die Botshilu- private hospitaal in Soshanguve in die noorde van Pretoria oorgeplaas word.

“Die dokter se woorde aan my was: ‘Mevrou, dit is die enigste beskikbare beddens in die hele Pretoria-area’,” vertel die dogter.

Haar ma is intussen in die waakeenheid van dié hospitaal opgeneem en is tans op suurstof.

’n Ander persoon vertel dat haar swaer, ’n 45-jarige man, ook Maandagaand na Midstream Mediclinic is nadat sy saturasievlakke gedaal het.

Die hospitaal het egter ook nie vir hom ’n bed beskikbaar gehad nie en hy kon Dinsdagoggend by ’n private hospitaal in Mabopane, sowat 40 km noordwes van Pretoria, opgeneem word.

“Dit is skrikwekkend,” vertel die man se skoonsuster. “Dit is jou geliefde en jy wil hê hulle moet so gou moontlik gehelp word, maar al die hospitale is net so ongelooflik besig en vol.”

’n 69-jarige vrou moes intussen meer as 24 uur in die ongevalle-eenheid van Mediclinic Kloof in Erasmusrand in Pretoria behandel word voordat ’n hospitaalbed in ’n ander saal beskikbaar geword het.

“Dit lyk of die Pretoriase hospitale propvol is,” vertel die pasiënt se dogter aan Maroela Media. “’n Mens besef nie die realiteit van hoe baie mense nou Covid-19 het nie.”

Minder beddens beskikbaar

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Coetzee meen private hospitale het met dié rondte waarskynlik minder beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar aangesien ander siekte toestande ook nou aandag moet geniet.

Coetzee vermoed dat hospitale nog vir twee maande onder groot druk kan verkeer en voorspel dat provinsies soos KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap se hospitale binnekort kan begin volloop weens dié provinsies se groot bevolkings.

Mediclinic en Netcare het albei die publiek daarvan verseker dat hul hospitaalpersoneel voorbereid en daartoe in staat is om in die behoeftes van hul Covid-19-pasiënte te voorsien.

Maroela Media het ’n navraag aan die departement van gesondheid gerig rakende die stand van sake in die land se staatshospitale en wag nog op terugvoer.

Coetzee sê daar kan maar aangeneem word dat ook staatshospitale onder druk begin verkeer.

Coetzee, De Villiers en Du Plessis het vandeesweek ’n beroep op die publiek gedoen om Covid-19-maatreëls streng na te kom om te verhoed dat al meer Suid-Afrikaners siek word en kritieke sorg benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Dan is daar Steeds maroela lesers wat se covid 19 is net nog n griep
Of die regering gebruik dit om ons lewe te beheer
Mense Dink net hoe voel die naasbestaandes van die mense in die artikel
Ons regering in my oe is te bekommerd oor hoe ons voel oor Lockdown levels
Sit ons op level 5, geen drank en curfew ure van saans 8 tot soggend 4 mag niemand buite wees nie
Verhoog die inentings so ver as wat Hulle kan
Na n maand hersien die level, hoe Meer proaktief hoe beter vir almal
Die wat nie inentings Wil he nie, maak staat op die wat bereid is, so in my oe is Hulle rugryers
Want hoe Meer inentings vat hoe minder raak die kanse vir infeksies vir die wat te bang is

Anoniem ·

Dink jy vir een oomblik dat “our people” hulle hieraan gaan steur? Die LUR vir gesondheid in Gauteng wat die inenting ontvang het en ‘n paar weke daarna Covid 19 opgedoen het is sekerlik nie ‘n rugryer nie. Ek persoonlik ken mense wat 2 keer binne 4 maande Covid opgedoen het, wat het van die natuurlike immuniteit geword? Niemand ontken dat Covid wel ‘n werklikheid is nie, maar die vrae rondom dit raak te veel.

Hendrik Marthinus ·

Stem met jou Manie
Niemand het gese dat jy nie weer die virus Kan optel nie
Maar dus n bewys dat jy nie sommer Sal sterf nie
Selfde soos griep inspuiting jy Kan dit kry maar jy gaan nie ernstig siek word nie
Wil jy vir my se die hele werled se mediesie wat aan hierdie inentings werk is so Dom dat Hulle iets Sal voorstel wat nie Sal help nie?

Anoniem ·

Die jaarlikse griep inenting is oor etlike dekades nagevors en ontwikkel, terwyl die Covid 19 entstof oor die verloop van ‘n paar maande ontwikkel is. Daar is vir my persoonlik nog net te veel onsekerhede om dit as die goue lepel te aanvaar. Ietwat van die punt af, ek praat Maandag met my tandarts en hy reken dat dit verstommend is hoeveel meer mense deesdae mondhigiëne/tande probleme ondervind. Hy het dit nie in soveel woorde gesê nie, maar ek kon aflei dat dit deur die gedurige dra van maskers veroorsaak word. Daar is meer bakterië in ‘n mens se mond as sy agterwêreld.

MakersMark ·

Tand probleme agv maskers…? Seker dit was nie ‘n veearts nie ?

MakersMark ·

Waarom worry jy oor our people sekere goed kan jy nie verander nie so as hul die wet nie gehoorsaam nie gaan jy ook nie ?

Samuel ·

Die regering voel vere. Ons is nie almal deel van our people nie.

MakersMark ·

As jy hou by die voorkomings maatreëls is die kanse skraal dat jy sal siek word. En na inenting het jy geen bekommernis nie.

Hendrik Marthinus ·

Jys reg hoe vinniger ons land inent en hoe Meer deel gaan wees om die inenting te vat, hoe vinniger Kan ons sonder vrees vir Covid 19 lewe

Jedi Knight ·

As ek so in die algemeen na kommentare en op- en afduime kyk, gaan jy nog n hele ruk in vrees leef.

Karel Kobus Kruger ·

Party mense sterf aan covid.
Party mense word ernstig siek.
Vir party is dit soos n verkoue of griep.
En vir die asimptomatiese mense is dit selfs minder as n verkoue.

alice ·

Hiedie berig is kommerwekkend. Was laas week by ‘n Staatshospitaal (nie as ‘n pasiënt nie), dit was rof daar.

Cindy ·

ek was die naweek by ‘n privaat hospitaal in Benoni, selfs daar gaan dit rof – hulle spartel klaar om beddens beskikbaar te maak vir mense wat dit brood nodig het….

Willem ·

Mense die ding is ernstig. Vriende van ons se vrou gister oorlede aan Covid. Asseblief wees ernstig

MakersMark ·

Stem ken ook baie gesonde mense nou oorlede agv CV19. Hoop die rambos en grensvegters hier neem kennis.

Cora ·

willem stem saam. Mens is soo siek . jy voel sterf is beter. Het Ivermectin gekry en op 79 kan ek weer dans.

MakersMark ·

Daar is geen salf aan sekeres hier te smeer nie hier sê ‘n persoon wat vriende verloor het agv CV19 mense moet dit ernstig opvat. Twee afduime. Lyk my daar is net genoeg grys stof om die af tekentjie te verstaan.

Adri ·

Moet tog net nie dat Kopdoek dit hoor nie, dan sluit sy weer die drankwinkels en kuierplekke asof dit ‘n noemenswaardige verskil gaan maak.

MakersMark ·

Sal goed wees as dit sluit SA”nrs steek mes en rol karre met drank saam dan is al die ongevalle vol en CV19 pasiënte wat hulp nodig het kry dit nie.

Hendrik Marthinus ·

100% reg MakersMark
Ek begin al hoe Meer Dink dat drank is vir sekere mense die Alfa en Omega
Dus bewys dat drank misdaad laat styg, ongelukke veroorsaak etc
Ramaphosa moes drankwinkels al vir n jaar terug toe gemaak het
Ons ekonomie kon al herstel het by die tyd
Maar drank rules in plaas van mense lewens
En die dag as hy besluit om drankverkope te heroorweeg, gee hy Steeds alkholiste genoeg tyd om te koop
Want hy se tog vir hulle oor 2 Dae middernag sluit ons drankwinkels
Hy gee Hulle Steeds 2 Dae om op te vul
Wat help dit?

MakersMark ·

Baie mense hier is suur of oor die drank inperkings of oor dat mense/maatskappye geld verdien uit dienste en medisyne gelewer tydens die pandemie. En dan is hul kwaad vir die logiese mense wat by die reels hou. Dan is daar nog die domastrantes wat dink CV19 is eintlik net ‘n mite. Maar dis ‘n ander argument.

Ovelia ·

Kom ons vra hoekom die covid so styg? Mense dra nie maskers nie. Hou begrafnisse met geslagte beets en skape Self troues steur hul ni aan afstand nie taxis is VOL sonder n enkele masker. Die anc kan probeer oom iets daaraan te doen???

Samuel ·

Die hele gedoente rondom die pandemie is net een te veel. Mense moet asseblief maskers dra, hande was en sosiale afstand handhaaf. Dit is kamstig ‘n kriminele oortreding om nie ‘n masker in die openbaar te dra nie, maar pffft, waarom word die oortreders nie vasgevat nie?? Daar is nie die politieke wil nie. Ons sien hoeveel mense geen maskers dra nie.

Hendrik Marthinus ·

Samuel
Sluit die polisie Hulle toe of gee fines, Dan is die polisie weer die sleg in die verhaal
Sodra die polisie iets doen Dan swaai die hele storie om
Die individu moet mos weet wat is reg om te doen in die pandemie
Die covid 19 is al amper 1en n halwe jaar deel van ons lewens, en Steeds Dink mense dus n griep en n grap
Kyk en lees net die kommentaar, Dan besef jy hoe Dink seker mense oor dit
Hierdie virus is nie net in SA of Afrika nie, dus wereldwyd, so dit alleen spreek boekdele
Ander lande vat dit ernstig, kyk na NZ en Aus daar is dit nie Jan Alleman wat moan oor werk en Ekonomie nie, dus leiers wat namens jou en ek besluit want dus tog ek en jy wat Hulle in beheer gesit het
Hoekom is bogenoemde lande se Ekonomie Dan nie van sprake nie
Ek Sal jou se, want Hulle tree daadwerklik op en die Ekonomie Kan vinniger herstel
Ons speel met die ding so ons Ekonomie gaan jare vat om te herstel

Helizna ·

Hoe lyk die wat met ivermectin en hydroxychloroquine behandel is? Of mag mens nie dit vra nie?

MakersMark ·

Vir ‘n begin het hul ten minste nie ingewands parasiete nie res weet ek nie…..

henndrik ·

Iets maak nie vir my sin nie, as die gevalle rondom 4000 per dag is, hoe kan die hospitale vol wees? Met die vorige golf was daar in die omgewing van 10 000 per dag. Ek begin wonder of die werklike totale deurgegee word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.