Covid-19: Taxi’s mag vol wees mits passasiers maskers dra

‘n Taxi-staanplek in Durban word afgespuit. (Foto: Bongani Mbatha, AP)

“Vervoer is die grootste verspreider van virusse. Die nuwe koronavirus het deur die lug [deur middel van vliegtuie] na Suid-Afrika gekom. Dit gaan nou deur middel van taxi’s, treine en roekelose optrede versprei.”

Só het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Woensdag gedurende ’n mediakonferensie by ’n taxi-staanplek in Johannesburg gesê nadat hy met belanghebbendes in die taxibedryf vergader het.

Tog het die departement van vervoer nou die regulasies effens verslap vir taxi’s wat noodsaaklike werkers en begunstigdes van maatskaplike toelaes die volgende drie weke moet vervoer. Aanvanklik is bepaal dat minibustaxi’s nie meer as drie persone op ’n slag mag vervoer nie. Mbalula het egter Woensdag gesê taxi’s mag tot hul volle kapasiteit laai, mits passasiers hul hande ontsmet en maskers gedurende die rit dra. Die regering sal die taxibedryf oor die komende dae van maskers en handontsmettingsmiddel verskaf. Hulle mag egter steeds net ’n bepaalde tyd van die dag op die pad wees.

Taxibestuurders wat nié hul passasiers van maskers en handontsmettingsmiddel gedurende ’n rit kan voorsien nie, mag die voertuig tot 70% van die voertuig se kapasiteit laai.

Pendelaars ontsmet hulle hande in Johannesburg. (Foto: Themba Hadebe, AP)

Dit beteken dat minibusse wat die kapasiteit het om tien passasiers te vervoer, slegs sewe passasiers sal mag vervoer. Minibusse met 15 sitplekke, mag dan slegs tien passasiers vervoer en minibusse met 22 sitplekke, slegs 15 passasiers, het Mbalula verduidelik.

Volgens Mbalula moet alle taxi’s ook deurgaans ontsmet word– selfs ná die afsonderingstydperk. Taxibestuurders is ook verantwoordelik daarvoor om ʼn behoorlike afstand tussen passasiers in ’n taxi te handhaaf. Die minister het juis omstanders gedurende die mediakonferensie gevra om verder van mekaar weg te beweeg.

Mbalula het dit duidelik gestel dat slegs ’n beperkte mate van openbare vervoer tussen 05:00 en 09:00 en 16:00 tot 20:00 beskikbaar gestel word vir noodsaaklike werkers wat gedurende die algehele afsondering na hul werkplek vervoer moet word.

Die diens word ook vandeesweek uitgebrei op grond van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se betaaldae. Dit beteken dat taxi’s tot Vrydag begunstigdes vanaf 05:00 tot 20:00 mag vervoer om sodoende hul maatskaplike toelae by betaalpunte te gaan afhaal. Geen taxi’s mag na 21:00 in die strate gesien word nie, het Mbalula gesê.

Die minister doen ’n beroep op burgers om winkels in hul omgewing te besoek. Dit is dus nie nodig om ’n taxi te neem om kos te gaan koop nie, het die minister gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Willem ·

Ek kan my vrou en 6 kinders van allae voorsien. So mag ek hul almal inlasi?

donsie ·

Ek stem saam dat taxi’s nie in die aand op die paaie moet wees nie, maar ek werk by ‘n voedsel fabriek en ons nagskof begin 22h00, dit beteken nou dat die mense wat van nagskof af kom on 21h45 nie kan huis toe gaan nie, Mnr die minister dit is algemeen dat skofte vanaf 06h00 tot 14h00 en dan van 14h00 tot 22h00 en dan weer van 22h00 tot 06h00 loop, dalk moet jy bietjie kyk na die tye

Anoniem ·

Dit maak nie sin. Een berig se dat die drae van maskers dra meer by tot die oordrag van die virus en dan se hulle weer jy moet n masker dra. Wat moet jy nou doen?

Jaco ·

Jip dis soos die geval ook nou met ibuprofen, sommige nuusbronne sê jy moet dit ten alle koste vermy indien jy die virus optel en ander sê weer iboprofen sal jou niks maak nie. So dis seker nou maar inkie pienkie ponkie wat maskers en ibuprofen aanbetref of is daar iemand wat in diepte kennis het hiervan?

JC Venter ·

Diékant is dit taxis met maskers op, in die ander berig slaap dit in die pragtigste rye wit tonneltente op groen rugbyvelde, speel sokker en wat nog dat die biesies bewe. As hierdie 21 dae verby is gaan hulle sukkel om die mense weer op straat te kry. As ek daar moet wees sal my ook nie kan ‘moove’ nie.

Wondergraag ·

So elke rap wat taxi het gaan nou weer jaag. Wat van ons los die 21 dae dan. Die maatskappy wat wel oop is, moet vervoer kies om hulle mense te vervoer en dan maatreels daar instel. Wie gaan die taxis nou oppas. Die speedcop wat onder die bome sit en slaap en eet.

J ·

Die ANC Regering maak van die volwasse landsburgers, afhanklike “kinders”, deur alle besluitnemingsbevoegdheid van die burgers weg te neem na die regring toe.

In Nederland sê die Eerste Minister hy laat die COVID 19 diskresie in die hande van die individue want die burgers is volwasse en verantwoordelik. ‘Nederlanders is trotse volwasse burgers wat medeverantwoordelikheid dra vir die demokrasie!”

In SA word die burgers toenememd soos onvolwasse, onverantwoordelike KINDERS behandel deur die staat.

Dit maak my bekommerd!

Henk ·

Ons is al daar . Hulle vertel vir ons hoeveel suiker en sout ons mag inneem .

Dana ·

Ek moes gister veearts toe en het by Menlyn Mall verbygery. Daar was heelwat taxi’s wat passasiers op en af gelaai het. Ek dink die SAP moet bietjie ‘n oog daar gooi.

Janc ·

Een…. ek kry die mense bitter jammer wat moet werk in hierdie moeilike tyd. Twee…. Kan die staat nie eerder die Tshwane Busse gebruik as publieke vervoer vir mense wat moet werk nie? Die kans dat die bus vol gaan wees is so skraal weens net ‘n handjie vol mense wat moet werk en verminder die risk! ‘n Taxi sit mens basies op ‘n ander se skoot en is dit high risk. Ons besigheid staan ook stil maar ons vat dit dag vir dag en het volle vertroue dat ons Vader sal voorsien waar ons tekort kom.

Michael 1 ·

Wat op dees aarde is nou verkeerd om te sê hulle moet die taxi’s toelaat om langer ure te werk en meer passasiers te vervoer?

Fedup ·

Hoe gaan hulle die drywer en passasiers distansieer? Gaan iemand op die dak sit? Eerlik. No commen sense at all. Maar dis reg. Versprei die virus en kry klaar.

Alida ·

Hoe gouer CR ontslae raak van daardie nar wat nie weet wat hy doen nie hoe beter. Die arme pendelaars word elke dag anders beveel oor hoeveelhede in taxis. Wat makeer hom? Hy laat hom voorse van die taxibase. Die reels is gemaak en ons moet ALMAL daarby hou. Groot nar daai een.

J ·

Maak al die taxis ‘winkels op wiele’ en laat die mense by hul huise bly!!!

Vat die ‘winkels’ (kos) na die mense (woonbuurte) toe … om die VIRUS te stop!

Soos die ‘smouse’ in die ou dae!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.