Covid-19: Teenliggame werk moontlik nie nuwe SA variant teen

(Argieffoto: Unsplash)

Navorsing toon dat teenliggame wat tydens vorige infeksies ontwikkel is, nie die nuwe variant van Covid-19 in Suid-Afrika kan stuit nie. Dit beteken dat die teenliggaampies van pasiënte wat die vorige variante van die koronavirus opgedoen het, moontlik nie die nuwe variant kan teenwerk nie.

Dít terwyl die departement van gesondheid bekend gemaak het dat Suid-Afrika se dosisse van Oxford-AstraZeneca se Covid-19-entstof teen ’n prys van 2,5 keer hoër as die meeste Europese lande aangekoop word.

Teenliggaampies en die nuwe variant

Dit was tot dusver onbekend ​​of die mutasies in 501Y.V2, die nuwe variant van Covid-19 in Suid-Afrika, die vermoë van bestaande teenliggaampies wat gevorm is om die vorige variant te beveg, beïnvloed.

Navorsing gelei deur dr. Alex Sigal van die Africa Health Research Institute (AHRI), prof. Tulio de Oliveira en dr. Richard Lessells van die KwaZulu-Natal Research Innovation and Sequencing Platform, het dit egter nou bewys. Die navorsing is Donderdag gepubliseer.

Die span navorsers het bloedplasma wat teenliggaampies bevat van mense wat herstel het van Covid-19 teen die nuwe variant getoets.

(Argieffoto: Unsplash)

Die span het vergelyk hoeveel plasma nodig was om die 501Y.V2-variant te neutraliseer of ondoeltreffend te maak. Hulle het vasgestel dat die teenliggaampies van pasiënte wat tydens die eerste infeksiegolf in Suid-Afrika met Covid-19 besmet is, aansienlik minder doeltreffend is om 501Y.V2 te neutraliseer as die vorige variante van Covid-19 in Suid-Afrika.

“Ons het tussen 6 en 200 keer hoër plasmakonsentrasie nodig gehad om 501Y.V2 in ’n laboratoriumomgewing te neutraliseer, as met die virusvariante van die eerste virusgolf. Dit dui daarop dat die mutasies in die nuwe variant moontlik veroorsaak het dat die virus ’n groot mate van sensitiwiteit vir vorige teenliggaam-immuniteit verloor het,” verduidelik Sigal.

“Die virus se vermoë om te ontwikkel, is moontlik onderskat.”

Volgens Oliveira bied dié navorsing belangrike nuwe insig in die sleutelmutasies wat in die 501Y.V2-variant gevind word.

Die outeurs van die navorsing sê hul data is “kommerwekkend”, maar benadruk wel dat meer navorsing nodig is voordat hulle sal kan sê wat dit vir mense se immuniteit teen 501Y.V2, asook die gevolge vir entstowwe wat ontwerp is vir die vorige variante, beteken.

“Die ligaam se immuunreaksie op virusse is verwikkeld en het baie verskillende fasette waarvan die teenliggaamreaksie slegs een komponent is. Entstowwe kan ook aanleiding gee tot ’n wyer verskeidenheid van teenliggaampies. Dit beteken dat die ander komponente van die liggaam se immuunstelsel steeds beskerming teen 501Y.V2 kan bied,” sê die outeurs.

“Inenting word absoluut steeds aanbeveel en is op die lange duur die enigste oplossing vir hierdie infeksie.”

Duur entstowwe

(Foto: Unsplash)

Suid-Afrika het minstens 1,5 miljoen dosisse van Oxford-AstraZeneca se Covid-19-entstof by die Serum Institute of India bestel. Dié entstowwe sal binne die volgende maand of wat toegedien word.

Anban Pillay, die adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het Donderdag aan AFP gesê die dosisse word teen $5,25 (sowat R79) elk aangekoop. Dit is byna 2,5 keer die bedrag wat die meeste Europese lande vir dieselfde entstof betaal.

“Die nasionale departement van gesondheid bevestig dat die prys van $5,25 aan ons gekwoteer is,” het Pillay per sms gesê, sonder om die prysverskil te verduidelik.

Luidens inligting betaal die Europese Unie maar 1,78 € (sowat R32) per dosis van die Oxford-AstraZeneca-entstof.

Die DA meen Suid-Afrika betaal meer as dubbel vir Covid-19-entstowwe weens swak beplanning en vertraagde onderhandelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

henndrik ·

Dit is die normale ding wat met tenders gebeur, iemand oes altyd

Anoniem ·

Vraag en aanbod, selfs tydens ‘n wêreldwye pandemie gaan dit net oor geld.

Stefan ·

Natuurlik betaal ons 2,5 keer soveel.
Dis die korrupte ‘kaders’ se standaard wins op als wat ons aankoop.

Alet ·

Ja want daar word reeds geskimp die belastingbetaler gaan betaal daarvoor. So die minimum mense wat werk moet vir die magter menigdom van die volk betaal soos gewoonlik en die skeppende hand is klaar daar.

4ntj13 ·

Die virus muteer vinniger omdat so verskriklik baie mense dit kry, en sommiges dit oor lang tydperke het. Dit maak inenting en stop van fopnuus báie dringender!

Europa se entstof word moontlik daar vervaardig, en nie in Indië nie. Ek vermoed Indië en SA se warmer klimate vereis baie duurder verpakking en vervoerkostes. Die Indiese oseaan skei ons van Indië, en lugvervoer is baie beperk. Boonop kan dit dalk albei dosisse insluit. Die verskil is dus dalk nie net die bemarker (of korrupte koper) se skuld nie. Astra Zeneca sal goed doen om die kwotasie en afleweringsdatum deursigtig te maak.

Eintlik het ek my hoop op Johnson & Johnson se ent: Enkeldosis; volledige S-proteïen se DNA-ekwivalent; uitstekende navorsingsresultate.

Francois Le Cochon ·

Goeie kommentaar. Oningeligtes en liggelowiges gaan egter nie met jou saamstem nie.

Mrs H ·

Ag hier kom weer n ondersoek span … Korrupsie!!! Die kaders kan dit tog net nie weerstaan nie.

Anel ·

Gelukkig hief ons familie se dosesse nie ingereken te word nie. Hou maar verby.

Francois Le Cochon ·

Moenie kla oor die kostes van ‘n entstof wat jou lewe kan red nie. Ons betaal al baie jare R1600,00 per kg. vir Panado, R6400,00 per liter vir Eye Gene, en R430,00 per liter vir Lennon Cough Mixure, en dit is die goekoopste medisyne beskikbaar. HIV medikasie kos R32,000 vir 30 tablette.

Kerneels ·

Francois, die verskil is dat ons nie Panado by die kilogram of oogdruppels/hoesstroop by die liter gebruik nie.

Kerneels ·

Waar kry jy jou prys vir ARV’s? Die duurder soorte (met minder newe-effekte) is +- R1000 vir ‘n maand se voorraad?

Charles ·

Die goeie dokters sê moes dan die entstof lyk nie of dit effektief is vir die nuwe variant is nie, wat is die doel dan van die huidige entstof?

Jacobus ·

Skrikwekkend. Nou dat Trump geneutraliseer is, is die kans dat China, WGO of van ander skuldiges aan pen gaan ry uiters skraal. Biden sal sorg dat hulle eerder wins gaan maak uit die situasie.

fs ·

so ja nou is die vraag…..wie het ‘n vinger in die pie hier? Wie kry daardie ekstra geldjie in die sak en wanneer begin die kommissie van ondersoek na die bedrog tydens die verkryging van die entstof? Ons sal dalk in die jaar 2080 ‘n antwoord verwag wanneer al die skuldiges dood en begrawe is en hul kinders, kleinkinders, agter kleinkinders en sommer die se vriende en familie ook in luukse lewe ten koste van lewens in SA

koos10 ·

Nee wat, na ‘n gesprek my my huis dokter hou ek ook verby. Hoe kan ‘n enstof binne 6 maande beskikbaar wees en dan nog werk ook? Ons weet klaar die endstof was net maks. 95% efektief en nou met die nuwe variant seker so 35%. Alle endstowwe word vir jare ontwikkel en getoets. Hier is ‘n moewiese slang in die gras.

Jan ·

Wanneer gaan ons wakker word vir die realiteite? Entstowwe is nie die oplossing nie maar wel net geldmaakfoefies. Teen die tyd dat een entstof ontwikkel is het die virus reeds gemuteer en is dit nutteloos. Ons moet ons immuniteit opbou en beskerm en angs, dra van maskers en isolasie breek immuniteit af.

Leon ·

Ek wonder vd Indiese kwotasies, het die van Gupta nog nie daar opgeduik nie? Die 2.5 keer duurder laat my dink daar is n slang ( ?) in die gras………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.