Covid-19: ‘Tekens van stabilisering’ in Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Armand Hough/ANA)

Daar is vroeë tekens dat die Wes-Kaap die piek van die tweede Covid-19-golf bereik het.

Die getal hospitalisasies en die sterftesyfer in die provinsie weerspieël die beduidende druk wat tans ervaar word, het Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Dinsdag tydens sy weeklikse aanlyn mediakonferensie gesê.

Die Wes-Kaap het teen 13:00 Dinsdagmiddag 41 285 aktiewe Covid-19-gevalle gehad, ’n totaal van 242 450 bevestigde gevalle met 192 683 mense in die provinsie wat reeds van die virus herstel het. Altesaam 8 482 mense is reeds in die provinsie dood.

Volgens Winde word 3 482 mense in hospitale vir Covid-19 behandel, van wie 381 in hoë sorg. Die positiwiteitskoers het van ’n piek van 50% tot ongeveer 35% op 7 Januarie afgeneem. “Ons het op 7 Januarie ook ’n afname van 26% in hospitalisasies aangeteken.”

Die aantal gevalle is ook besig om in landelike gebiede te stabiliseer, alhoewel daar steeds ’n toename in die Weskus en in die Sentraal-Karoo is. ’n Afwaartse trajek rakende die getal gevalle in die Tuinroete word steeds waargeneem.

“Ons is versigtig optimisties dat die tweede golf begin stabiliseer. Dit beteken egter nie dat ons ’n afname begin sien nie en ons moet voortgaan om voorsorg te tref om onsself veilig te hou.”

Winde het gesê hospitale in die provinsie verkeer steeds onder erge druk. Hospitale in die metrogebied het ’n gemiddelde besetting van 93%, hospitale in die George-gebied 61%, hospitale in die Paarl-gebied 74% en hospitale in die Worcester-gebied het ’n gemiddelde besettingskoers van 73%.

“Die provinsiale departement van gesondheid werk onverpoos om te verseker dat ons te alle tye voldoende beddens, personeel en suurstof het om die nodige versorging te kan voorsien.

“Ons hospitale en gesondheidswerkers werk onder uiterste druk om te verseker dat elke persoon wat ’n bed en versorging nodig het toegang het tot een, maar ons het almal ’n rol om te speel ten einde te verseker dat ons die druk verlig. Ons moet ons maskers dra, hande was, afstand hou en noue kontak en besige plekke vermy. Dit is die regte ding om te doen om onsself en ander te beskerm en om te verseker dat ons hospitale nie ’n punt bereik waar hulle oorweldig word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Welgedaan, Wes-Kaap en mnr Winde se regering. Julle stel voorbeeld aan die res van die land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.