Covid-19-tenders: Ramaphosa moet self in parlement kom sê

Pres. Cyril RamaphosaANC (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

DA-leier John Steenhuisen het pres. Cyril Ramaphosa versoek om self in die parlement verantwoording te doen oor die beweerde toekenning van Covid-19-tenders aan mense met noue ANC-bande.

Steenhuisen het in ʼn brief aan die speaker van die Nasionale Vergadering ʼn blitsdebat in die parlement aangevra waar Ramaphosa antwoorde oor die Covid-19-tenders moet gee, asook moet sê hoe hy teen elke ANC-lid wat deel van die tenderkorrupsie is, sal optree.

“Ramaphosa moet verantwoording doen omdat hy net voor die instel van die landwye afsondering die nasie belowe het dat daar streng opgetree sal word teen dié soort korrupte en selfsugtige gedrag.”

Ramaphosa het op 23 Maart toe hy die land toegespreek het, gesê dat hy spesiale eenhede by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) opdrag gegee het om onmiddellik teen dié soort korrupsie op te tree en diegene daarby betrokke summier in hegtenis te neem.

“Ondanks sy leë beloftes het korrupsie reg onder ons neuse gebeur.”

Steenhuisen het na die onlangse gevalle verwys waar tenders glo aan familielede van ANC-hoës toegeken is. Hy het melding gemaak van Ramaphosa se seun, Andile, wat glo ʼn kontrak van R6 miljoen toegestaan is om minibustaxi’s in Gauteng só te omskep dat dit aan die Covid-19-regulasies voldoen. “Hy het die tender gekry, ondanks die kwessie van Bosasa se maandelikse betalings aan hom net nadat sy pa tot president verkies is.”

Hy het ook Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, se man, Thandisizwe, wat ʼn kontrak van R125 miljoen gekry het vir die verkryging van persoonlik beskermende toerusting (PPE), uitgesonder.

Soos vroeër berig het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se seuns, Tshepiso en Thato, ook na bewering voordeel getrek uit Covid-19-kontrakte in die Vrystaat, gesamentlik ter waarde van R2,7 miljoen. “Dieselfde seuns was ook betrokke by hul pa se bedrieglike onderhandelinge met die Guptas in die Vrystaat tydens die staatskapingsage, waaroor nóg Magashule nóg sy seuns rekenskap gegee het.”

Die voormalige kabinetsminister, Nonvula Mokonyane, se dogter, Katleho, het glo ook ʼn kontrak van R3 miljoen vir persoonlik beskermende toerusting ingepalm. Volgens Steenhuisen was haar maatskappy net ses maande oud toe sy die kontrak losgeslaan het. Hy sê Katleho het eens op ʼn tyd saam met Bosasa se Gavin Watson gewerk en het soos haar ma glo omkoopgeld geëis in ruil vir politieke invloed.

“Hierdie tenderkorrupsie wat by die ANC-hoës ontbloot is, laat ʼn mens bepeins of dit dalk verder in die provinsies en munisipaliteite kop uitsteek. Hierdie soort korrupsie is ingeëts in die ANC se DNS.”

In die Wes-Kaap word alle Covid-19-kontrakte volgens Steenhuisen maandeliks in ʼn verslag aangeteken om deursigtigheid te verseker.

Terwyl die res van die wêreld die Covid-19-pandemie moet beveg, voer Suid-Afrikaners ook ʼn stryd teen die epidemie van die korrupsie in die ANC-regering. Steenhuisen sê die aanhoudende korrupsie sal elke aspek van die regering en sy dienslewering beïnvloed.

“Die ANC het al herhaaldelik gewys hy kan homself eenvoudig nie keer nie. Waar daar staatsbeheerde geld is, sal hulle gryp waar hulle kan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos10 ·

John, hy weet nie, dit was nie hy nie, hy glo nie dat dit moontlik is nie, hy is nie beskikbaar nie, hy weet nie wat aangaan nie, maar wat hy wel weet is dat hy die ANC en sy kaders bo alles stel.
Moenie julle tyd mors om na hom te luister nie, hy lieg soos ‘n tandetrekker. Sy leuns en twee spalt stories is wyd al gesien en gehoor die afgelope 12 maande.
Kry hom en sy kaders in die hof, dat hulle daar hulle onskuld kan bepleit.

Anel ·

Net soos die goed wat oor die naweek in die Hennopsrivier gekry is.

Nie Verbaas ·

As Ramaphosa dink hy gaan die buiteland flous met lip service is hy in vir n reuse teleurstelling. As die lande besighede uit Suid Afrika ontrek is ons dadelik net nog n Zimbabwe.

Isabella ·

Di korrupsie en diefstal in ons land is erg dt klink te erg om waar te wees mar dt is wel di geval

marius ·

Hoekom sal hy ? Nes sy meesters is dit beplan om te gryp en te gryp en te gryp en niemand sal die gevolge dra nie . Welkom in die hool waaroor daar in 1990 gewaarsku is .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.