Covid-19-tenderskandaal: Ondersoekeenheid bevries talle rekeninge

(Foto: pixabay)

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het ʼn tussentydse hofbevel bekom om die bankrekeninge van 40 maatskappye te bevries wat by beweerde tenderbedrog betrek word. Die tenders hou verband met die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE’s) aan die Gautengse departement van gesondheid.

Die maatskappy Royal Bhaca Projects, wat behoort aan Madzikane Diko, is een van dié maatskappye. Diko is die man van pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko.

Die bevel is laat Donderdag toegestaan en verhoed ook dat enige pensioenfondsvoordele aan die voormalige finansiële hoof van die departement, Kabelo Lehloenya, uitbetaal word. Hy word ook by die beweerde ongerymdhede betrek.

Die SOE ondersoek reeds verskeie bewerings van wanbestuur, wanpraktyke en korrupsie wat met die verskaffing van PPE’s aan die departement verband hou. Die bevel spruit uit een van dié ondersoeke.

Die hof het ook ʼn kontrak wat die departement op 6 April aan Ledla Structural Development toegeken het, opgeskort en die ander respondente in die saak belet om verder uitvoering aan die ooreenkoms te gee.

Die hof sal op 6 Oktober besluit of die voorlopige bevel permanent gemaak moet word.

Dieselfde bevel verhoed die uitbetaling van enige pensioengeld of aftreevoordele aan Lehloenya. Hy het vroeër onder ʼn wolk van omstredenheid bedank ná bewerings dat kontrakte vir Covid-19-toerusting aan polities gekoppelde indiwidue in Gauteng toegeken is. Dit sluit die kontrak aan Diko in.

Diko se maatskappy het ʼn tender van R139 miljoen ontvang wat later gekanselleer is nadat die Diko-egpaar hul betrokkenheid by die tenderproses as ʼn “oordeelsfout” bestempel het.

Die Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku, het glo vroeër aan ondersoekers van die SOE gesê die Diko’s, wat hy as familievriende beskou, het versuim om hom oor die kontrak in te lig en dat dit met Lehloenya aangegaan is.

Masuku is verlede maand op verpligte tydelike verlof geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek gaan nie asem op hou nie, maar ek wens so die hele spul gaan sit! O genade als is WEER ‘n oordeelsfout… As dit nie apartheid of Covid se skuld is nie dan word die kaart gebruik.

Wat van kopdoek en haar kinders huh?????

4ntj13 ·

Dis Gauteng. Hoe vorder SOE met die Magashule kinders se verskaffing van dringende voorraad?

Kalla ·

Ja als word ondersoek met geen gevolge. Pateties regering sonder ruggraat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.