Covid-19: Terugvoer oor water, welsynstoelaes

Mediese professionele persone van Kuba kom in Suid-Afrika aan (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die 44 rioolpompstasies in die Vaalrivier in die omgewing van Vereeniging is uiteindelik oop, skoon en funksionerend, het die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, Woensdag aangekondig.

Sy het tydens ‘n voorlegging oor die verloop van die stryd teen die koronavirus gesê die 44 pompe is herstel en werkend, maar dat ‘n beter rioolverwerkingsaanleg in elk geval vir die gebied beplan word.

Sommige van die 44 reusagtige pompe was maande lank, en ander jare lank, buite werking, wat beteken het massiewe hoeveelhede rou riool het die Vaalrivier besoedel. Die weermag en ander rolspelers het maande lank gewerk om die verstopte pompe en gemors skoon te maak.

Voorts het Sisulu gesê haar departement het reeds meer as 16 000 watertenks afgelewer in gebiede sonder watertoevoer, maar nog net 9 000 is geïnstalleer want die departementele beplanning het aanvanklik nagelaat om sement en ander benodigdhede vir installasie in te sluit. Boonop is ‘n paar van die watertenks gesteel.

Sisulu het gesê watervoorsiening is nou gesentraliseer en dat enigiemand sonder toegang tot water die nommer 0800 200 200 moet bel om dit aan te meld.

Welsynstoelaes

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het Sassa-bevoordeeldes daaraan herinner dat die kindertoelaag vir die maand Mei met R350 per kind verhoog word, en van Junie tot Oktober met R500 per versorger.

Alle ander welsynstoelaes word van Junie tot Oktober met R250 per maand verhoog en van die middel van Mei af sal ‘n tydelike werkloosheidstoelaag uitbetaal word.

Om daarvoor te kwalifiseer moet mens ‘n Suid-Afrikaanse burger wees, permanente verblyfreg hê of oor geregistreerde vlugtelingstatus beskik. Voorts moet die persoon ouer as 18 jaar wees, werkloos wees, geen inkomste genereer nie, geen welsynstoelaag ontvang nie, nie bevoordeel word deur die Werkloosheidsversekeringsfonds nie en vir die toelaag registreer. Skakel 0600 123 456 om te registreer.

Zulu het voorts gesê 14 000 haweloses word tans landswyd op 163 plekke deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gehuisves.

Die minister het benadruk dat sowel grondgrype as uitsettings tydens die afsonderingsperiode onwettig is.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karlahari ·

En wat gebeur as grond gryp en onwettige oprigting van strukture tydens inperking plaasvind?
Mag strukture dan verwyder word of gaan hulle dan na inperking verblyf reg en elektrisiteit eis?

Kokerboom ·

Ek sluit aan by Dawie Roodt nl daars niks so permanent soos dinge wat tydelik toegelaat word. Dis nou die ideale tyd vir “point scoring”….die munisipale verkiesings is op hande.En Min Sisulu: hoekom nou presteer?Die probleem bestaan al baie lank. Watter onderhoudsversekering bestaan op toerusting?Ek wens uit my hart dat die regerende regime wil ophou politiek speel en ‘n slag eerlik en verantwoordelik optree!!

Gerhard ·

Eerlikheid en verantwoordelikheid in Afrika loop nie hand aan hand nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.