Covid-19: Toegang tot hooggeregshowe beperk

Mense wag Dinsdag in ‘n ellelange tou om toegang tot die hooggeregshof in Pretoria te kry. Toegang word weens Covid-19 beperk.

Gautengse regter-president Dunstan Mlambo het Maandag ʼn direktief uitgevaardig dat slegs regters en hofbeamptes wat dringende sake of sake wat reeds op die hofrol geplaas is, moet hanteer, toegang tot hooggeregshowe in die provinsie sal verkry. Dit is om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

Mlambo se besluit kom na pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand ʼn ramptoestand weens die uitbreking van Covid-19 afgekondig het. Streng maatreëls om die verspreiding van die nuwe koronavirus te beperk, geld dus nou ook by howe.

Die bepalings geld voorlopig tot 14 April, wanneer die nuwe hoftermyn begin.

ʼn Ellelange ry het Dinsdagoggend om die hooggeregshof in Pretoria gekronkel waar regslui en lede van die publiek gewag het om toegang tot die gebou te kry. Veiligheidsbeamptes het seker gemaak diegene wat die hof wil binnegaan, voldoen wel aan die nuwe bepalings.

Ingevolge die bepalings mag “geen regspraktisyn, bode of lid van die publiek ʼn hofgebou binnegaan om ʼn nuwe saak te liasseer nie”.

Mlambo het ook alle lede van die publiek verbied om hofsake, siviel of strafregtelik, as toeskouers by te woon. Slegs regslui, getuies en beskuldigdes word toegelaat.

Die regter-president het regslui gevra om op uitsteldatums ooreen te kom. In sake wat weens die voorskrifte uitgestel is, kan die regter-president later genader word vir ʼn bespoedigde, nuwe hofdatum.

Indien moontlik, moet regslui per e-pos met die registrateur se kantoor korrespondeer.

Regsverteenwoordigers is gevra om nie regters in hul kamers te besoek en geen regter sal met ʼn regsverteenwoordiger blad skud nie.

Regters wat nie in dié tyd hofsittings behartig nie, moet in die tyd ook van die huis af werk, het Mlambo beveel.

Waar individuele sake bestuur moet word, sal dit telefonies of via Skype tussen die betrokke partye en ʼn regter gedoen word.

Mlambo het ook afdelingshoofde opdrag gegee om te bepaal wat die minimum getal algemene hofwerkers is wat vir diens moet aanmeld om te verseker die hof kan steeds na behore funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Hulle mag die die hof binne gaan nie, maar staan in lang tou om die hof. Daar mag ook nie meer as 100 mense bymekaar kom nie. Nou wat is die veskil? Ek kan maar net.lag vir hierdie absurditeit. Mense is besig om mal te word!

marius

Hoe werk ‘n regter van die huis af agbare slim ?