Covid-19: Toetsagterstand in Wes-Kaap opgelos

(Argieffoto)

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het gesê hy verwelkom die stappe wat gedoen is om ʼn afname in die agterstand van toetsing in sy provinsie te verseker.

Die Wes-Kaap het in die begin van Mei die agterstand met pres. Cyril Ramaphosa en gesondheidsminister Zweli Mkhize bespreek. “Provinsies het in daardie stadium al hoe meer toetse begin doen en die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste het ʼn tekort begin ervaar aan toetsstelle en reageermiddels,” het Winde in ʼn verklaring gesê. Dit is vererger deur die wêreldwye aanvraag na dié belangrike items.

“In ʼn stadium het 27 000 toetse van die Wes-Kaap in ʼn bottelnek vasgesit en die provinsie moes ʼn risikogewysigde toetsstrategie toepas om seker te maak dat die persone, wat die grootste risiko het en toetsing die meeste benodig, geprioritiseer word,” het Winde verduidelik. “Die agterstand is nou beduidend verminder en het Woensdag op ongeveer 3 700 toetse gestaan. Ons verwag dat dit ten volle opgelos sal word oor die volgende paar dae.”

Winde het gesê hy is bewus daarvan dat daar ʼn wêreldwye aanvraag is na toetsstelle en reageermiddels en beskikbaarheid van die voorraad is nie duidelik nie. “Ons sal dus steeds die situasie bly monitor en bepaal of die verhoogde kapasiteit volhoubaar is en seker maak dat ʼn nuwe agterstand nie vorm nie voor ʼn besluit geneem word om ons toetsstrategie weer te verander.”

Wydverspreide toetsing is ʼn belangrike instrument om die pandemie te monitor, te verstaan en te bestuur, het Winde gesê. “Dit is ook uiters belangrik dat dié uitslae so vinnig as moontlik ontvang word, veral vir gesondheidswerkers, diegene in hospitale en kwesbare groepe. Dit is hoekom ons dié groepe geprioritiseer het.”

Totdat alle stelsels vlot verloop en die provinsie meer toetse kan doen, raai die Wes-Kaapse regering almal jonger as 55 aan, wat dalk simptome beleef, om op te tree asof hulle positief getoets het vir Covid-19. “Dit sluit in dat jy self-isoleer vir ʼn periode van 14 dae. Tydens dié periode moet jy by die huis bly, en jouself afsonder van ander mense in die huis. As jy dit nie kan doen nie, kontak ons by 021 928 4102 sodat jy na ʼn isolasie- of kwarantynfasiliteit verwys kan word.”

Winde bedank Ramaphosa en Mkhize vir hul pogings en ingrypings om seker te maak dat die Wes-Kaap se besware getakel word en die nasionale laboratorium vir hul harde werk om die agterstand in te haal. “Ons waardeer hierdie samewerking om die Covid-19-pandemie te bekamp.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Althes ·

Die DA is absoluut op die bal in die Wes-Kaap. Ek wens die ander provinsies het so gelyk. Dis hoe ñ land eintlik regeer moet word. Dienslewering is ñ doenlike feit,nie net ñ mite nie

Jaco ·

Ongelukkig sien die ANC dit nie so nie. Hulle sien die DA as rassisties en “vol apartheid” en gaan nog die hoë Corona getalle in die Wes-Kaap téén die Wes-Kaap en die DA gebruik en die provinsie weer op vlak 4 of 5 van inperking sit.

katara ·

Beter afrikaans vir reageermiddels is reagense. Dis wat ons in die lab gebruik. Ek werk in ‘n patologie lab en ek is ‘n mediese tegnoloog.

4ntj13 ·

Die agterstand is verminder tot 3 700 toetse. Hoe is die dus “opgelos”?

Jack ·

Hoe het die laboratorium skielik en so vinnig ingehaal. Lyk my hulle het teveel gerus want die oplossing is nie verduidelik nie. Miskien is n klomp toetse eers in n laai gebere

Vranet ·

Daar word duisende mense se temperatuur elke dag by besighede geneem. Dit moet gedoen word volgende regulasie. Besighede moet uit hulle eie sak die termometers aankoop. Baie kan dit nie bekostig nie. Waarom word daar duisende Rand aan die toets van mense gedoen deur die regering? Gee termometers aan elke besigheid. Dan kan besighede mense met ‘n hoë temperatuur rapporteer en die mense kan getoets word, sonder om die laboratoriums nie oorlaai word met onnodige toetse nie. Maak die ekonomie oop en laat die ekonomie aan die gang kom sodat mense terug kan gaan en geld verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.