Covid-19-toetse dalk nie so akkuraat

(Argieffoto ter illustrasie: Zhang Yuwei/Xinhua via AP)

Menige Suid-Afrikaner betwyfel die akkuraatheid van Covid-19-toetse nadat hulle aanvanklik positief getoets het vir die nuwe koronavirus, net om by ’n ander laboratorium negatief te toets.

Kenners gee toe dat ’n toetstoestel nie 100% akkuraat is nie en dat die foutiewe hantering van toetsmonsters die uitslag kan beïnvloed. Tog glo dié kenners daar is eerder meer as minder Covid-19-gevalle in Suid-Afrika as wat die statistieke aandui.

Linda Holder van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal vertel aan Maroela Media dat twee van haar kinders, Megan (19) en Bradwynne (17), in April vanjaar by ’n private laboratorium se deurry-diens verkeerdelik positief getoets het vir Covid-19. Ses dae later het sy by ’n ander laboratorium negatief getoets.

Hoewel nie Megan of Bradwynne simptome van Covid-19-gehad het nie, het die eerste toetsuitslae die Holder-gesin se lewe tot stilstand gebring, aangesien Megan aan ’n seldsame immuunsiekte ly. Covid-19 kon dus ’n doodsvonnis vir Megan beteken, verduidelik Holder nou.

Argieffoto (Foto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

“Ek vertrou nou glad nie die statistieke nie. Indien Megan Covid-19 gehad het, sou sy beslis dood gewees het. Ons glo ook nie dat sy in minder as ’n week kon herstel het nie.”

Berdine (56) van Pretoria, wat nie haar van wou noem nie, is ook skepties oor die statistiek. Dit nadat sy verlede maand aanvanklik by ’n private laboratorium se deurry-diens positief getoets en enkele dae later negatief by ’n ander private laboratorium getoets het.

Volgens Berdine het sy erge sinus gehad en weens voorsorg verlede maand besluit om haar vir Covid-19 te laat toets. Groot was haar skok toe sy positief getoets het vir die nuwe koronavirus.

Aangesien Berdine se man ’n diabeet is, moes dié ook inderhaas getoets word. Berdine het op versoek van haar werknemer besluit om weer saam met haar man getoets te word. Dié keer by ’n ander private laboratorium. Albei die egpaar se toetsuitslae het negatief teruggekom.

Berdine vertel dat dié laboratorium ’n monster uit haar neus geneem het, terwyl die eerste laboratorium ’n monster uit die keel geneem het.

Toetstegniek 

Foto: ‘n Persoon word getoets vir Covid-19. (AP Photo/Brian Inganga)

Dr. Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het aan Maroela Media verduidelik dat die beste manier van toets sal wees om ’n monster uit die neus te neem.

Volgens Coetzee het Suid-Afrika aanvanklik op dié manier getoets, maar baie laboratoriums neem nou monsters uit pasiënte se keel. Coetzee verduidelik dat die monster diep uit die keel geneem moet word om te verseker dat die regte monster geneem word.

Sy sê ook die tydsberekening is van uiterste belang wanneer ’n pasiënt vir Covid-19 getoets word. “Jy kan negatief toets al toets jy selfs een dag te vroeg.”

Pasiënte moet dus agt dae nadat hulle in aanraking gekom het met iemand wat simptome toon, hulself laat toets en ten minste drie van die vyf simptome van Covid-19 toon voordat hulle getoets word.

Dié simptome sluit in koors, hoes, asemhalingsprobleme, hoofpyn, seer keel en die verlies aan jou sintuie soos reuk of smaak.

Volgens Coetzee is ’n Covid-19-toetstoestel slegs 64% sensitief om die virus op te tel.

Die akkuraatheid van ’n toets hang boonop af van die vervoer van ’n monster na die laboratorium waar dit getoets gaan word. Coetzee verduidelik dat toetsmonsters dadelik in ’n houer onder baie koue temperatuur geplaas moet word. “Anders beteken die monster niks nie.”

Coetzee benadruk dat die groot agterstand in toetse boonop daartoe kan lei dat ’n monster se uitslae verkeerd terugkom. “’n Monster is nie meer so akkuraat wanneer dit vir meer as vyf of ses dae in ’n laboratorium lê sonder om getoets te word nie.”

Sy waarsku indien ’n pasiënt positief en dae later negatief toets vir Covid-19, beteken dit nié noodwendig die eerste toets was foutief nie, aangesien die pasiënt bloot kon herstel het. “’n Pasiënt kon op dag 14 vir die eerste keer getoets word en daarna herstel en dus negatief toets.”

Akkuraatheid van statistiek 

(Foto: Vincent Ghilione)

Berdine wil egter nou weet of haar aanvanklike positiewe toets by die betrokke dag se statistieke aangeteken is en of dié fout toe reggestel is of steeds op die statistieke reflekteer.

“Het hulle my nou as positief of negatief aangemeld? Of het hulle my by die herstelsyfer bygevoeg?” wil Berdine weet.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê aan Maroela Media dit is nie in dié stadium duidelik wat in só ʼn geval met die statistiek gebeur nie, maar dat dit moontlik is dat die foutiewe positiewe geval nie verander word op die statistieke nie, aangesien die departement onder soveel druk verkeer.

Van Staden is egter nog meer bekommerd oor die toetsuitslae wat onbeslis terugkom.

Hy was daarop dat die land se staatslaboratoriums teen 10 Junie reeds 1 171 onbesliste toetsuitslae aangemeld het. ’n Toets kos die staat R507 stuk om in dié laboratoriums te toets. “Dit kom dus neer op ’n vermorsing van meer as R593 000 van die belastingbetaler se geld.

“Dit gaan veroorsaak dat al minder Suid-Afrikaners gaan toets. Indien die eerste toets, wat gratis is, onbeslis terugkom, gaan mense nie betaal om ’n tweede keer te toets nie.”

(Argieffoto: Engin Akyurt/Pixabay)

Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by die burgerregteorganisasie AfriForum, is weer bekommerd oor die aantal toetse wat in Suid-Afrika gedoen word, aangesien dit óók ’n invloed het op die akkuraatheid van die statistieke.

Volgens Uys voer Suid-Afrika steeds nie genoeg toetse uit nie. Om sake te vererger glip daar boonop foute in by die bekendmaking van die regering se inligting aan die publiek. “Die departement se statistiek het net vandeesweek nie ooreengestem met inligting wat die Wes-Kaapse wetgewer bekend gemaak het nie.”

Hy wys ook daarop dat slegs 23% van staatshospitale inligting rakende Covid-19-hospitalisasies by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) indien. Dié verslag is dus ook nie ’n akkurate voorstelling van die statistieke nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Piet ·

Ons weet dit almal al vanie begin af,, dis net ñ ‘thumb suck’ getal,,, Soos hierie Government van ons,,,,

Juffrou ·

Maak nie saak wat die oorsaak van dood is nie. Alles selfs motorongeluk, is nou skielik covid.

Johann ·

Rerig? So asof IETS akuraat of waar in RSA is? Met n ANC regering wat lieg as n standaard…die dag VOOR Covid….die dag daarna en almal wat nog kom. Eerlik en bevoegd en bekwaam is NIE deel van die anargiste se plan nie.

Adriaan ·

Ek weet van n bejaarde vrou wat oorlede is na n beroerte. Haar familie het BAIE moeite gehad om te keer dat die oorsaak van haar sterfte aangeteken is as Covid-19.

chrismar ·

Aangesien dit so ‘n pandemie is hoekom word daar nie van ‘n onafhanklike betroubare bron gebruik gemaak om die statistieke op ‘n deursigtige manier te hanteer nie?Byv.Vorige jaar/jare se sterftes vir dieselfde tydperk ,huidige jaar per maand en jaar tot datum van alle verwante siektes byv.griep,verkoue,longontsteking ens en vergelyk appels met appels en nie net covid vewant nie,want dit is misleidend en daarop gemik om vrees en angs in te boesem.Ek lees vanoggend dat as jy herstel het van verkoue of griep of verwante siekte sal die teenliggaampie nog steeds in jou liggaam wees wat nou getel word as covid.19.Dit is tyd dat iemand onafhanklik en betroubaar instap en hierdie syfers verifieer en korrek weergee!

Estelle ·

My man het ook positief getoets – dit was deur n monster uit sy keel geneem. Nooit simptome gekry nie. Toe ek en hy na 2 weke weer teruggaan na Somerset Wes mediclinic, het hul met n stokkie hier voor in ons neuse, net bokant ons neusgate, gekrap. Toe was ons albei negatief. Blykbaar is dit nie korrek nie, die stokkie moet diep in die neus ingedruk word. Wel oor die R3000 later, weet ons nou nie of hy dit ooit gehad het nie.

marius ·

Maar , maar , hulle volg dan alles presies wat die wgo se .

Anel ·

Ek sal maar erder niks sê nie. As dit nie so tragies was nie kon dit dalk snaaks gewees het!

Elize ·

My ma in die ouetehuis is positief getoets, en n tweede toets is gedoen drie weke daarna wat nog steeds positief gewys het. Is dit moontlik dat sy na meer as drie weke nogsteeds positief kan toets.

Marius ·

Liewe maroela het my kommentaar geblok oor dit sal weer probeer dis n pot snot wat hulle ons voer

Jacobus ·

Is dit onakkuraat of is die toets meganisme met opset bekook om doelwitte te bereik. Onthou die bok en papaja toets. Nog ‘n vraag – kan toetsstokkies meehelp om virus te versprei. Skrikwekkend – speel met land se voortbestaan en mense se lewens. Gegewe die narre wat die situasie hanteer – ook skrikwekkend. Gegewe die virus wel bestaan – krimineel.

DieKriek ·

Iewers het n kundige gesê hulle doen, om tyd en grondstowwe te spaar, n toets op 10 mense se gemengde monsters. As dit negatief is, dan is almal negatief. As dit positief is, dan moet hulle die toetse een vir een doen. Dit maak sin maar mense is vreeslik lui deesdae.

Raakvatter ·

Weer ‘n duimpie af?? DieKriek, het selfde iewers gelees. Tog wel slim plan. as almal negatief is, cool. As die 10 monsters positief is, toets een vir een.

Susan ·

Dieselfde het met my gebeur. Ek is getoets vir covid omdat ek n operasie sou ondergaan. Positief! die dag vd uitslag het ek gegaan vir 2de toets, 3 dae later negatief. N maand later weer negatief. (al 3 toetse is deur dieselfde laboratorium gedltoets) – net verskillende areas. Laaste sms wat ek ontvang het het gekom v gesondheidsdiente in die weskaap. Ek woon in Gauteng. Ek glo nie die land se statistieke nie

Vanessa ·

Ek het al lankal gesê, inligting word weerhou van die publiek. Met die sterftes waarvan ek hoor, is ons syfers te laag. Waarom word so baie grafte gegrou? Hulle is bang om die ware syfers deur te gee.

Hulle jok net soos hulle jok oor rokers wat die hospitaalbeddens gaan volmaak. Ek ken ‘n hele paar rokers wat positief getoets is en ligte simptome soos die verloor van reuk ens gehad hetwat baie vinnig herstel het. Dit was nie eers nodig om hospitaal toe te gaan nie. Nou hoe nou. Hou op om vir ons te lieg, ons is nie stupid nie!!!!!

Magda ·

Wat het ons anders verwag – my dogter het 24 Junie na Pta Wes Hospitaal gegaan vir n Covid19 toets, WAG NOU NOG VIR DIE UITSLAE. Moes dit op die ou einde Privaat laat doen (R850.00) later sodat ons kon terug keer werk toe. NEGATIEF – so ja wat het ons verwag van so onbevoegde Regering. KAn ook NIKS vertrou wat hulle se nie.

Daizee ·

Soos ek verstaan het is dié toetse net 30% akkuraat. Dan wil ek graag weet, as dit ‘n paar dae neem om die uitslae te kry hoe op deeske aarde kan daar elke oggend verklaar word hoeveel oornag siek geword het?!

Eugene ·

Die FDA in Amerika het miljoene “test kits” terug gestuur na China omdat dit vasgestel is dat dit net 47% akkuraat is. Waar dink julle het dit daarna beland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.