Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het pres. Cyril Ramaphosa skriftelik genader oor die agterstand by die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) wat tot ʼn vertraging lei in die uitslag van toetse.
Die NHLS is die nasionale staatsinstansie wat alle regeringstoetse hanteer, ook op provinsiale vlak.
“Nomafrench Mbombo, die Wes-Kaapse minister van gesondheid, het ook ʼn skrywe gerig aan nasionale minister dr. Zweli Mkhize,” het Winde gesê.
“Oor die afgelope twee weke het die Wes-Kaap die getal toetse wat gedoen word, meer as verdubbel, as deel van ʼn geteikende toetsingstrategie om geografiese dele van besmetting te identifiseer. Ons begryp dat ʼn verhoging in toetsing deur die Wes-Kaap en ander provinsies ʼn las plaas op die NHLS en hul hulpbronne.”
Winde het bygevoeg van die probleme wat ervaar word, is ʼn tekort aan reageermiddels en toetsstelle wat van oorsee af ingevoer word. “Beleidsbesluite, soos die besluit deur die departement van arbeid dat ʼn persoon negatief moet toets voor hy kan terugkeer werk toe en ander staatsdepartemente wat vereis dat hul personeellede getoets moet word, plaas bykomende druk op die stelsel en vererger die probleem.”
Winde het die president versoek om dringend in te gryp om die NHLS te ondersteun en die nodige reageermiddels en toetsstelle te bekom en dat die kwessies in die beleidsruimte aangeroer word.
“Die Wes-Kaapse regering het, as ʼn korttermynoplossing, die privaat sektor genader om bykomende beskikbare kapasiteit te bekom. Dié laboratoriums is egter ook onder erge druk en kan nie enige realistiese korttermynverligting aanbied nie.”
Gegewe die agterstand en vertraging, is geteikende toetsing nou belangriker as ooit, omdat elke toets so doeltreffend as moontlik aangewend moet word, het Winde bygevoeg.
“Die lang vertraging lei daartoe dat persone tot sewe dae vir hul uitslag moet wag en dit plaas geweldige stres en druk op diegene wat vir hul uitslae wag. Gesondheidswerkers en hospitaalpersoneel kan nie bekostig om só lank te wag nie.”
Die vertraging in die uitslae lei ook tot ʼn vertraging om in verbinding te tree met persone wat dalk in kontak was met die besmette persoon.
“Ons doen ʼn beroep op diegene, wat vir die uitslag van hul toetse wag, om geduldig te wees en seker te maak dat hulle hulself in kwarantyn plaas om die verspreiding van die virus te bekamp. Dit is dieselfde protokol wat ons almal moet volg as ons in kontak was met iemand wat positief getoets het vir Covid-19 of as ons bietjie siek voel,” het Winde gesê.
Pres. Ramaphosa en minister Mkhize sal die Wes-Kaap volgende week besoek. “Ons sien uit daarna om hulle te verwelkom en ons sal ook die stappe deel wat ons gedoen het om voorbereiding te tref vir die kruin van die pandemie. Ons sien ook uit na die geleentheid om die NHLS-kwessie in persoon met hulle te bespreek om seker te maak die stelsel word verskerp om behoorlik van diens te wees vir alle provinsiale toetsing.”
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
Geskok , hartseer , teleurgesteld rympie het nou nog ‘ n woord bygekry ….bekommerd . Die land was op pad na ‘n gemors wat onmoontlik reggestel kon word . Die pandemie is ‘n fantastiese geleentheid om as verskoning te gebruik vir alles wat gaan volg . Totale ekonomiese en maatskaplike vernietiging , sonder enige blaam . Mnr winde moet die duidelike skrif op die muur lees .
Teen die trant wat hulle aangaan gaan ons oor 10 jaar nig geen vordering gemaak het nie. Ons gan net verder agteruit boer, as ons nog verder terug kan gaan. So siek daarvoor dat alles nou die virus se skuld is.
Net nog ‘n maner om statstiek te manipuleer. En net nog ‘n manier wat die land se mense in die steek gelaat word.
Voel partymaal of ons soos honde behandel word en tevrede moet wees met krummels wat van die oorvoede kaders se tafels afval.
Kan hulle maar net met die spoed optree waarmee omtrent alles verbied is.
Dit is hoe kommunisme werk, manupileer alles. Hierdeur kry ons nie die ware getalle nie. Ook opmerklik dat die Wes Kaap vinniger toets as die ajder provinsies en met n tekort sit.
Die ander ding wat my pla is dat Dlamini Zuma die verkoop van tabak stop omdat mense blykbaar zolle rol en dit deel. Dan moet sy mos die verkoop van mieliemeel ook stop want die mense deel dieselfde pot of bord waaruit hulle pap met hulle hande eet…….