Covid-19 tot pandemie verklaar

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus. (Foto: Salvatore Di Nolfi/Keystone via AP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Covid-19 tot ʼn pandemie verklaar.

Die aantal Covid-19-gevalle buite China het die afgelope twee weke 13-voudig toegeneem en die lande wat geraak word, het verdriedubbel.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het gesê daar is nou meer as 118 000 gevalle in 114 lande en 4 291 mense is reeds dood. “Nog duisende mense veg om hul lewe in hospitale. Ons verwag dat die aantal gevalle, die aantal sterftes en die aantal lande wat geraak word in die dae en weke wat voorlê selfs hoër gaan styg.”

Volgens Ghebreyesus is die WGO bekommerd oor die vlakke van verspreiding en die erns daarvan asook die kommerwekkende vlakke van gebrek aan optrede.

“Pandemie is nie ʼn woord wat ligtelik of roekeloos gebruik moet word nie. Ons het nog nooit ʼn pandemie gesien wat deur ʼn koronavirus veroorsaak is nie. En ons het nog nooit ʼn pandemie gesien wat terselfdertyd beheer kan word nie.”

Pres. Donald Trump. Foto: (Doug Mills/The New York Times via AP, Pool)

Meer as 90% van die 118 000 gevalle wêreldwyd is in net vier lande aangemeld. Altesaam 81 lande het nog geen gevalle aangemeld nie en 57 lande het 10 gevalle of minder aangemeld.

“Dit is nie net ʼn openbare gesondheidskrisis nie, dit is ʼn krisis wat elke sektor sal raak – so elke sektor en elke individu moet betrokke raak in die stryd,” het Ghebreyesus gesê.

Pres. Donald Trump het intussen aangekondig dat reise van 26 Europese lande na Amerika drasties beperk sal word. Volgens Trump sal die maand lange beperking op reise Vrydag begin, maar nie vir die Verenigde Koninkryk geld nie.

Die Amerikaanse staatsdepartement het ook ʼn buitengewone wêreldwye gesondheidskennisgewing uitgereik waarin Amerikaanse burgers gewaarsku word om reise na die buiteland te heroorweeg weens die virus. Daar is reeds meer as 1 000 bevestigde gevalle van Covid-19 in Amerika.

Tom Hanks en Rita Wilson. Foto: (Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Die Oscar-bekroonde akteur Tom Hanks het bekend gemaak dat hy en sy vrou, die aktrise Rita Wilson, albei positief getoets het vir Covid-19 in Australië waar Hanks tans aan ʼn rolprent werk.

Vir die meeste mense veroorsaak die nuwe koronavirus slegs ligte tot matige simptome, soos koors en hoes. Vir sommige, veral ouer volwassenes en mense met bestaande gesondheidsprobleme, kan dit ernstige siektes veroorsaak, waaronder longontsteking.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michael ·

Hoekom is daar nie lankal n verbod op mense wat die land inkom vanaf lande waar die virus reeds versprei het nie ?

Gato ·

Mense regte sal geskend word en dit is mos die heel belangrikste ding deesdae.

Chantel ·

DIT is en dit is nie net in SA nie. Die hele wêreld het dit belangriker geword.

Nell ·

Ek dink omdat dit almal aanvanklik onkant gevang het in die sin dat niemand verwag het ‘n COVID-tipe virus sal so vinnig en wyd versprei en ooit in ‘n pandemie ontaard nie.

E ·

Dit voel vir my nog steeds soos ‘n onwerklike droom. Net ongelooflik.

Sean ·

Almal wat posetief getoets is kom van buite af Hulle gaan nou baie begin inkom omdat hulle hospitale vol raak

Lorna ·

Sean volgens my is hul van hier hul het fakansie en besigheid gaan doen

Gail ·

Almal sê, moenie paniekerig word nie. Hulle sê dit is ook nie so erg nie…
Rerig mense? Ek moet hulle glo.
Dit terwyl Suid-Afrika Government alles geheim hou van ons mense.
Ek glo hierdie gaan groter word as wat ons dink. Dit gaan nie lank vat voordat SA ‘n lockdown toepas nie.
Ek glo nie dat die mense in rural areas weet eers van die Coronavirus nie.
HIV status is ook geheim. Maw dit gaan behoorlik chaos wees as dit hand uitruk hier in ons land.
Julle moet net voorberei, en genoeg kos koop, en stoor, vir net ingeval dat dit erger raak waar ons nie uit ons huise mag gaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.