Covid-19: Tygerberg-hospitaal digitaliseer intensiewesorgeenheid

Tygerberg-hospitaal (Foto: Knut Dalen, Kopiereg 2006)

Die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) en die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het ʼn digitaliseringsprojek van stapel gestuur wat die sorg van Covid-19-pasiënte sal verbeter en die risiko van besmetting van hospitaalpersoneel verminder.

Die digitalisering van die hospitaal se Covid-19-intensiewesorgeenheid (ISE) behels dat gedrukte pasiëntrekords vervang word deur ʼn digitale stelsel wat van kameras, rekenaartablette en stem- en elektroniese notas gebruik maak. Dit stel personeel in staat om pasiënte se lewensfunksie van ʼn afstand te monitor. Medici wat in selfisolasie is, sal dus pasiënte se vordering kan nagaan en pasiënte kan selfs só met geliefdes in verbinding tree.

“Deur die papierwerk te verminder sal verpleegkundiges daarop kan fokus om sorg van hoë gehalte aan pasiënte te verskaf,” sê dr. Brian Allwood, ʼn IS-spesialis wat in die Tygerberg-hospitaal se Covid-19-kritiekesorgeenhede werk en ook een van die leiers van die digitaliseringsprojek is. “Na raming sal personeelbesmettingsbeheer met tot 50% verbeter as papier deur digitale rekordhouding vervang word.”

ʼn Hospitaalpersoneellid ontsmet haar hande by die Tygerberg-hospitaal. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Met hierdie tegnologie kan IS-spesialiste pasiënte van die huis af monitor terwyl hulle selfisoleer en afgetrede dokters kan aangestel word om pasiënte en ventilatorlesings te monitor.

Die installering van kameras by Covid-19-ISE-beddens maak dit ook moontlik vir pasiënte om video-oproepe te maak. “Pasiënte in Covid-19-sale is heeltemal van hul geliefdes afgesonder en hulle kan baie eensaam raak,” sê Allwood. “Video-oproepe met vriende en familie wanneer pasiënte stabiel en op die herstelpad is, kan ʼn groot hupstoot vir hul welstand en veggees wees.”

Die Tygerberg-hospitaal het onlangs twee “infeksiebestande robotverpleegkundiges” aangeskaf, genaamd Quintin en Salma. Dié robotte help reeds IS-spesialiste met saalrondtes in die Covid-19-waakeenheid. Volgens die US sal die digitaliseringsprojek ʼn uitbreiding van Quintin en Salma se werk wees. Dit sal die risiko van infeksie verder verminder en die doeltreffendheid van mediese en verpleegpersoneel verhoog.

“Covid-19 het ʼn mediese noodtoestand geskep wat van gesondheidsorginstellings vereis om vinnig nuwe en innoverende maniere te ontwikkel om hulle personeel, pasiënte en families veilig te hou,” sê dr. Thashlin Govender, programdirekteur van die Michael & Susan Dell-stigting Suid-Afrika.

Die Michael & Susan Dell-stigting het ʼn skenking van R1,8 miljoen aan dié digitaliseringsprojek gemaak. Benewens dié skenking beloop die projek se koste ʼn verdere R2,9 miljoen vir die tegnologiese opgradering in die saal en die geïntegreerde platform vir afstandsonderrig en -leer.

“Dit is ʼn belegging waarvan die voordele sal voortduur lank nadat die huidige pandemie bedaar het,” sê prof. Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die US.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sonia ·

Ag dis wonderlik veral dat pasiënte met geliefdes kan video oproepe maak – ek het een week gelede ‘n dierbare broer verloor – dikwels teësinnig in die hospitaal omdat hy so eensaam gevoel het vandat die inperkings ingetree het. Ons as familie sou so bitter graag met hom op dié Video oproep wou kommunikeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.