Covid-19: ‘Unieke’ 3D-gedrukte ventilators ontwerp

Die draagbare 3D-gedrukte ventilator en die Ingenieurspan van UJ. (Foto: Verskaf)

ʼn Ingenieurspan van die Universiteit van Johannesburg (UJ) het ʼn draagbare 3D-gedrukte ventilator ontwerp in ʼn poging om Suid-Afrika se tekort aan ventilators aan te vul.

Die ventilator, genaamd Aura Imprimere, kan danksy die batterystelsel op afgeleë gebiede gebruik word en tot een en ʼn half uur onafhanklik funksioneer indien daar kragonderbrekings is.

“Die komponente hiervan is so ontwerp dat dit maklik in stede, landelike of afgeleë gebiede saamgestel kan word,” sê prof. Tien-Chien Jen, UJ se departementshoof van meganiese ingenieurswetenskappe en die projekspanleier.

Volgens Jen is Aura Imprimere se basisplaat gebaseer op LEGO-ontwerpe, daarom kan die ontwerp volgens ʼn pasiënt se behoeftes aangepas word. “Die opblaassak of Ambu-sak is beskikbaar in verskillende groottes en die ventilatortoestel kan aangepas word volgens ʼn pasiënt se ouderdom, mediese toestand en asemhalingsbehoeftes.”

‘n Ambu-sak. (Foto: Paweł Czerwiński/Unsplash)

“Hierdie unieke 3D-gedrukte ventilators gebruik ʼn elektroniese mikrobeheerder wat die werking van die twee motors beheer,” sê Jen. “Deur die spoed en draairigting van die motors aan te pas, kan ʼn druktydprofiel verkry word wat dan respiratoriese hulp aan pasiënte bied.”

Die mikrobeheerder monitor ook die druk binne die Ambu-sak deur gebruik te maak van ʼn druksensor. “As die druksensor enige onreëlmatighede in druk waarneem, gryp die motorbeheerder in om die probleem reg te stel.”

Sensors wat die posisie van die ventilator se meganiese arms monitor, word ook gebruik om die arms te sinchroniseer sodat voldoende lug deur die Ambu-sak gestoot word, vertel Jen.

Die span beplan om die ontwerp en sagteware van die 3D-gedrukte aktiewe asemhalingskringstelsel vrylik beskikbaar te stel sodat dit wêreldwyd geproduseer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre ·

Miskien moet julle daardie 1½ uur bietjie langer maak. Raak weer loadshedding tyd.

Robert ·

Terwyl die nuutste inligting blyk dat ventilators die verkeerde protocol is in Covid gevalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.