Covid-19: Veel meer sterf dalk reeds in Oos-Kaap

(Foto: Moira Dillon/Unsplash)

Mense in die Oos-Kaap sterf dalk in veel groter getalle tydens die Covid-19-pandemie as wat aanvanklik gedink is.

Oortollige sterftes (“excess deaths”) in die provinsie tussen Junie en Julie skets ʼn droewige prentjie van moontlike groot onderrapportering van Covid-19-sterftes en daar is byna vier keer meer oortollige sterftes as die amptelike Covid-19-totaal, het Jane Cowley, die DA-woordvoerder oor gesondheid in die Oos-Kaap, gesê.

Oortollige sterftes word beskryf as die aantal sterftes wat aansienlik meer is as die voorspelde getal sterftes vir ʼn spesifieke tydperk.

“As dié sterftes wel Covid-19-verwant is, kan dit die provinsie se sterftesyfer op meer as 8 000 te staan bring,” het Cowley gesê.

Teen Maandagaand het die getal Covid-19-sterftes in die Oos-Kaap op 2 266 gestaan en altesaam 82 578 gevalle is bevestig.

Volgens die Mediese Navorsingsraad (MNR) was daar tussen 6 Junie en 28 Julie egter 7 597 oortollige sterftes in die provinsie. In Nelson Mandelabaai was daar 1 481 oortollige sterftes en in die Buffalo City-metrogebied was daar 949.

Weens die groot getalle oortollige syfers, wat bes moontlik regstreeks aan Covid-19 toegeskryf kan word, het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, nou opdrag gegee dat almal wat skielik sterf, of by die huis sterf, ook vir Covid-19 getoets word.

“As die meerderheid van dié oortollige sterftes aan Covid-19 toegeskryf word, gaan dit ons provinsiale syfers beduidend verander en die ware uitwerking van die pandemie gaan duidelik word,” het Cowley gesê.

Cowley sê sy gaan nou aan die LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, Sindiswa Gomba, skryf om vas te stel of die minster se besluit om nadoodse toetse te doen oral in die provinsie in werking gestel is.

“Ek gaan voorts vra dat die betrokke provinsie se statistieke bygewerk word om meer akkurate sterftesyfers in te sluit.”

Die DA het al herhaaldelik gevra dat data soortgelyk aan dié wat die Wes-Kaap op ʼn gereelde grondslag vrystel, ook deur ander provinsies vrygestel word sodat mense maklik toegang daartoe het. “Dit sal beteken ons burgers is beter ingelig en bemagtig om besluite oor hul veiligheid en gesondheid tydens die Covid-19-pandemie te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Ons almal weet mos nie al die sterftes is covid nie. Die ANC het net die syfers op geblaas om geld geleen te kry so dat hulle kan plunder dit is al.

Francois Le Cochon ·

Die syfers kom van die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes, nie van die ANC nie.

Dries ·

Praat bietjie met mediese personeel en lykbesorgers in die Oos-Kaap, hulle sal jou dalk anders laat dink.

Wonder net ·

Baie confusing. Een berig voor hierdie word daar berig dat “ons oor die ergste” is en die sterftesyfer daagliks begin afneem???

Mariana ·

Is daar iemand in hierdie land wat die werklike covid syfers het, die regtes. Want die regering het nie ‘n idee wat die is nie. Hulle lieg en bedrieg links en regs. Hoe oneerlik en onderduims om met mense se lewens te speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.