Covid-19 vererger pandemie van mishandeling, uitbuiting teen vroue

Argieffoto: (Pixabay/Pexels)

Die Covid-19-pandemie is besig om ʼn geweld teen Christenvroue en -meisies, wat ontvoerings en gevalle van mensehandel insluit, wêreldwyd drasties te verhoog.

Dit is een van die bevindinge van ʼn nuwe verslag wat gedoen is in opdrag van Geopende Deure Internasionaal, ʼn bedieningsorganisasie wat vervolgde Christene ondersteun en versterk. Die verslag getiteld, Same faith, different persecution: WWR 2021 gender-specific religious persecution (GSRP), is kort voor Internasionale Vrouedag, wat op 8 Maart gevier is, gepubliseer.

Geopende Deure Suider-Afrika het dié naweek ’n aanlyn vrouegebedsgeleentheid aangebied om Internasionale Vrouedag te vier. Tydens hierdie geleentheid is getuienisse van vroue gedeel, wat vir Christus op sommige van die gevaarlikste plekke op aarde leef. Die sanger en kanaalregisseur van TBN Africa, Loyiso Bala, wat ook Geopende Deure se ambassadeur is, was die spesiale gas tydens die vrouegebedsgeleentheid.

Die kollig is tans op die lot van vroue en meisies – veral op die vasteland van Afrika – met die skokkende nuus dat ongeveer 279 meisies op Vrydag 26 Februarie uit ‘n skool in die noorde van Nigerië ontvoer is. Dit het gebeur net nege dae ná die ontvoering van 42 mense uit ‘n ander skool in dieselfde streek.

Luidens mediaberigte is al die meisies verlede week Dinsdag veilig aan hul families terugbesorg, na “berouvolle gevangenes” as tussengangers opgetree het en onderhandel het vir die meisies se vrylating.

Kwesbaarheid van Christenvroue en -meisies

Volgens die verslag maak die Covid-19-pandemie Christenvroue en -meisies veel meer kwesbaar as voorheen. Tydens afsondering staar hulle vervolging en opposisie in hul eie gesinne en gemeenskappe in die gesig – wat vyandig teenoor hul geloof is.

In die verslag word gekyk na die aard en omvang van geslagspesifieke godsdiensvervolging (GSRP) teenoor vroue en mans oor twaalf maande, wat die periode dek van Oktober 2019 tot September 2020. Dit fokus grotendeels op die 50 lande wat in Geopende Deure se jaarlikse Wêreldwaarnemingslys uitgelig word. Dit lys waar Christene die ergste vervolging en onderdrukking ervaar.

Van die belangrikste bevindings vir vroue is:

  • ‘n Groot toename in, grotendeels verborge, sielkundige en fisieke geweld teenoor bekeerlinge van Christene. Volgens die verslag is ’n groter risiko as kwesbare bekeerlinge afgesonder word in grendeltydperke met hul gesinne, wat hulle kan misbruik omdat hulle die godsdiens van die gesin of gemeenskap verlaat het om hulle tot die Christendom te bekeer.
  • ‘n Beduidende toename in die mensehandel van bekeerde vroue en meisies, wat hulle in huwelike of seksuele slawerny dwing. In Arabiese Golfstate, byvoorbeeld, “het inperking die aantal mense op straat verminder, wat dit makliker maak om Christelike vroue en meisies te teiken, en moeiliker om hulle te vind”.
  • ‘n Voortgesette toename in verkragting en ander seksuele geweld. In Sentraal-Amerika word hierdie geweld gebruik as ‘n wapen om Christenvroue kwesbaar te maak en ook die gemeenskap te traumatiseer.

Van die belangrikste vorms van vervolging vir mans is:

  • Christenmans ervaar meer ernstige fisieke skade of word selfs doodgemaak vir hul geloof. Kerkleiers word veral gebruik as voorbeelde om ander Christene te wys watter soort behandeling hulle kan verwag as hulle voortgaan met hul geloof.
  • Ekonomiese teistering of gevangenisstraf: Om mans se vermoë om te voorsien, te beperk, word die hele gesin kwesbaarder gemaak.
  • Krygsplig of militêre diensplig: Vir mans het die soort gedwonge diensplig in die weermag of milisies met 40% gestyg.

Gesinne onder aanval

Hajaratu, ‘n Christen-weduwee uit Noord-Nigerië, is ʼn slagoffer van vervolging weens haar geloof. Sy het haar babadogtertjie, wat in ‘n rivier verdrink het, tragies verloor toe sy moes vlug voor ‘n aanval deur militante van Fulani. (Foto: Geopende Deure)

Volgens die verslag verskil die drukpunte wat mans en vroue in die gesig staar, maar die doelwitte is dikwels dieselfde. Geopende Deure Internasionaal meen die idee van die gesin of familie word by implikasie aangeval en verswak om die geloofsgemeenskap by te kom.

Mensehandel en seksuele slawerny

Die vorms van die godsdiensvervolging verskil van streek tot streek:

  • Ekstremistiese groepe soos Boko Haram in die Midde-Ooste, Noord- en Suid van die Sahara gebruik “ideologies gemotiveerde versorging”, gedwonge huwelike en ontvoering as ‘n instrument om meisies en jong vroue vir Islam te verwerf en die Christelike gemeenskap te verklein.
  • In verskillende dele van Asië word meisies uit arm Christelike gemeenskappe uitgesonder en na China geneem en verkoop om in huwelike te tree, waar selektiewe aborsie gelei het tot ‘n tekort aan jong vroue.
  • Leiers van dwelmkartelle in Latyns-Amerika dreig om Christelike families dood te maak as hulle weier om hul dogters aan die bendes op te gee. Dit is ‘n manier om kerke en kerkleiers wat die effektiewe heerskappy van hierdie bendes oor hul dorpe uitdaag, stil te maak.

“Dit is tyd dat die geloofsfaktor erken word. Alhoewel ras en geslag as kwesbaarhede in konfliksones erken word, word geloof nie in die algemeen op dié wyse herken nie.

“Op Internasionale Vrouedag het ons beleidmakers nodig om die opposisie wat Christenvroue wêreldwyd in die gesig staar, te begryp, aangesien hulle probeer om hul gekose geloof vreedsaam uit te leef, ” het Helene Fisher, medeskrywer van die verslag, gesê.

Laai die volledige verslag hier af. Besoek www.opendoors.org.za om die volledige 2021 Wêreldwaarnemingslys te sien.

  • Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die uitdagings wat veral Christenvroue ervaar. Gouws vertel dat Paastyd ʼn tyd is waarin vervolgde Christene selfs meer vervolging vir hul geloof ervaar. Hy het ook die hartseer verhaal vertel van Hajaratu wat as slagoffer van dié soort vervolging was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Hierdie is inderdaad ‘n groot bekommernis en dankie aan die skrywer dat jy dit uitwys, maar dis glad nie net Christen vrouens nie – dis alle tipe vrouens. Meestal armer vrouens. Ons sit in SA met ‘n bloedstollende probleem, geweld teen vrouens, van alle agtergronde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.