Covid-19: Verhoed só ‘vloedgolf’ virusgevalle

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Kenner in kliniese risikobestuur meen dit gaan ingrypende optrede van elke Suid-Afrikaner verg om te verhoed dat die hoogs aansteeklike Delta-variant veroorsaak dat die derde koronavirusvlaag eindelik in ’n vloedgolf ontaard.

“Hoewel daar beperkte inligting oor hierdie variant beskikbaar is, is daar aanduidings dat dit baie makliker kan versprei en 55% tot 97% meer oordraagbaar kan wees as die oorspronklike stam van die virus,” waarsku dr. Jacques Snyman, ʼn kenner in kliniese risikobestuur en mediese raadgewer vir die Health Squared-mediese fonds.

Maroela Media het vroeër berig die Delta-variant is in dié stadium die aansteeklikste van al die bestaande variante. Dit sluit in die Beta-variant van die koronavirus wat vroeër op tuisbodem opgemerk is.

Snyman sê die skerp toename in infeksies in Suid-Afrika en veral Gauteng word tans deur die Delta-variant gedryf.

“Die getal mense wat in ons land weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem word, neem vinnig toe en baie meer mense word siek ongeag watter variant hulle het. Ons moet almal stappe doen om onsself, ons geliefdes en Suid-Afrika te beskerm. Daar is baie op die spel en as ons nie nou optree nie, kan ons in die komende weke deur ʼn vloedgolf van infeksies in die gesig gestaar word,” waarsku hy.

Snyman sê voorts eenvoudige maatreëls kan in dié stadium lewens red.

Hy raai nou die publiek, veral jong mense, aan om nie byeenkomste by te woon nie.

“Dit is menslik dat ons fisiek naby aan ons geliefdes wil wees en tyd saam met ons vriende wil deurbring, maar dit is nie nou die tyd om sosiaal te verkeer nie.”

Dít veral nie weens die slakkepas waarteen Suid-Afrikaners ingeënt word nie.

Snyman sê jong mense voel onoorwinlik hoewel dit blyk dat jonger mense gedurende die derde virusvlaag ernstig siek word, “moontlik as gevolg van die Delta-variant”.

“Dit is belangrik om te verstaan ​​dat dit veral met die Delta-variant voorkom of die virale deeltjies ure lank in ʼn geslote ruimte – soos in ʼn kamer of voertuig – kan bly en moontlik iemand anders in daardie ruimte kan besmet.

“Daar word ook aangedui dat die hoeveelheid virale deeltjies waaraan ʼn persoon aanvanklik blootgestel word, moontlik ’n invloed het op die graad van die Covid-19-siekte wat hulle in sommige gevalle sal ontwikkel.”

Snyman sê voorts mense is geneig om in die winter binnenshuis met toe vensters te kuier. Dít skep egter die ideale toestande vir die verspreiding van Covid-19 aangesien goeie ventilasie uiters belangrik is in die bekamping van dié virus.

“Koue weer veroorsaak nie dat mense verkoue kry soos daar oor die algemeen geglo word nie. Of dit nou verkoue, griep of Covid-19 is, die virale deeltjies veroorsaak die siekte. Dit is baie meer waarskynlik dat jy gaan siek word in ʼn geslote ruimte en lug met ʼn hoë konsentrasie van hierdie kieme inasem.”

Snyman doen nou opnuut ’n beroep op Suid-Afrikaners om hul maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf.

“Ons in Suid-Afrika was een van die eerste lande om die dra van maskers in die openbaar te bepleit. Dit kan uiters effektief wees as ons almal dit maar net ten alle tye korrek doen.

“Ons moet regtig alle aspekte van ons daaglikse lewe in ag neem en kyk hoe ons as verantwoordelike individue die geleenthede vir die verspreiding van die virus prakties kan beperk,” beklemtoon Snyman.

“Plaaslike toetsvermoë mag nou beter wees as tydens die eerste virusvlaag wat beteken dat ʼn hoër persentasie van die gevalle opgespoor word. Dit maak egter nie die feit ongedaan dat die Delta-variant meer oordraagbaar is as die dominante stamme wat ons in die eerste twee virusvlae gehad het nie.

“Indien ons onmiddellik optree kan duisende lewens in die komende maande gered word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Aai ·

Hoe lank wil DR die brug he.Maskers dra in townships beteken niks en drank verkope gaan aan daar.

Samuel ·

Masker dra is alles goed en wel, maar sekere gedeeltes van die bevolking steur hulle beslis nie daaraan nie. Die wetstoepassers moet wakker word.

Cherokee ·

Waarom word ‘sekere mense’ in ‘n kodetaal bespreek? (duimaf nie myne nie) Kleure was nog nooit verbode taal nie.
Duimaffer, ek voel afgeskeep as jy my oorslaan. Ek sal dit haat om ies te sê waarmee jy saamstem.

Anel ·

As die dra van maskers so doeltreffend was, hoekom word die wat dit so getrou dra dan siek? En hoekom moet ons dit nog steeds dra!? 18 maande later? Dit is mos bewys dat die goed nie werk nie. Dis ‘n irritasie, dis vuil, mense vat die heeltyd daaraan, en veroorsake net ander siektes, soos permanente sinus en hoofpyn, party mense het al lingprobleme en ander ontwikkel wat direk te danke is aan die masker. En hou moet jy imuniteit opbou?

Catantho ·

Vir die 2e keer in 2 jaar nie griep, of pink eyes gekry nie. Want ek, en ander, dra maskers!

Cherokee ·

Onthou,
die dra van ‘n masker verhoed nie die opdoen van covid nie. Die beskerm niè die draer nie (alhoewel die redenasie is dat dit mense verhoed om aan hul gesigte te vat).
Dit verhoed slegs ‘n reeds siek mens om dit te versprei. Maar mense wat dit opgedoen het, is siek voor simptome verskyn, en daarom is die dra van maskers ‘n moet vir almal!

Esme ·

Ons moet ook ingedaggte hou dat mediese personeel tot op die uiterste beproef word. Ek was in Desember ‘n Covid pasient en op daardie stadium was daar min opgeleide personeel wat werklik in hospitaal pasiente se behoeftes kon voldoen.

Jan ·

Maskersdra en al die angsskepping, afsondering en isolering is wat die immuniteit aftakel en die golwe dryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.