Die Suid-Afrikaanse Covid-19-modelleringskonsortium (SACMC) meen die vierde vlaag van die Covid-19-pandemie kan moontlik nie so erg soos vorige vlae wees ten opsigte van die aantal hospitalisasies en sterftes nie.
Die SACMC het ʼn verslag uitgereik waarin moontlike scenario’s rakende ʼn vierde vlaag in Suid-Afrika uiteengesit word.
Die verslag fokus op projeksies van hospitaalopnames as die primêre uitkoms. Die aantal infeksies en opgespoorde gevalle kan vergelykbaar wees met vorige vlae, afhangende van die scenario, maar daar word egter verwag dat die verhouding van opnames en sterftes tot infeksies en gevalle aansienlik laer sal wees as in vorige vlae van die pandemie, as gevolg van die inentingsprogram, lui die verslag.
Die doel van die verslag is om scenario-projeksies te verskaf van die tydsberekening en grootte van ʼn potensiële vierde vlaag van Covid-19-gevalle in Suid-Afrika, met inagneming van die vordering van die inentingsprogram tot dusver, bevolkingsgedrag en ʼn hipotetiese nuwe variant van kommer.
Selfs in die hipotetiese scenario waar gesondheidsmaatreëls glad nie nagekom word nie, word daar geprojekteer dat die grootte van die vierde vlaag in terme van hospitaalopnames kleiner sal wees as tydens die derde vlaag, in die afwesigheid van ʼn nuwe variant.
Indien daar ʼn nuwe variant kom wat 25% meer doeltreffend is om nie beskerming te bied teen vorige infeksie en inenting nie, word verwag dat die gevolglike vlaag in hospitaalopnames hoër sal wees in vergelyking met die scenario’s waar daar nie ʼn nuwe variant is nie, hoewel entstowwe ʼn impak sal hê en moontlik die kwesbaarste van ernstige siekes sal kan beskerm.
Nuwe gevalle
Intussen is altesame 566 nuwe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika aangemeld.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is ʼn totaal van 2 926 914 bevestigde Covid-19-gevalle al in die land aangemeld en is die jongste positiwiteitskoers 1,6%.
Die meeste nuwe gevalle is in Gauteng (59%) aangemeld, gevolg deur die Wes-Kaap (8%), KwaZulu-Natal (7%) en Limpopo (7%). Die totale aktiewe gevalle is 16 885.
Die sterftesyfer weens Covid-19 staan nou op 89 515 nadat nog 11 sterftes aangemeld is. Tot dusver het 2 820 514 mense reeds van die virus herstel, ʼn herstelkoers van 96,4%.
Suid-Afrika het tot dusver 18 998 133 toetse vir Covid-19 gedoen, 35 327 sedert die vorige verslag.
Volgens Nios was daar in die afgelope 24 uur 48 hospitaalopnames. Daar is tans altesaam 3 597 mense wat in hospitale vir Covid-19 behandel word.
Meer as 24,3 miljoen inentings is tot dusver gedoen.
Provinsiale statistieke:
Provinsie | Nuwe gevalle | Aktiewe gevalle |
Oos-Kaap | 23 | 142 |
Vrystaat | 25 | 2 998 |
Gauteng | 332 | 1 015 |
KwaZulu-Natal | 37 | 3 052 |
Limpopo | 38 | 1 129 |
Mpumalanga | 15 | 204 |
Noordwes | 34 | 681 |
Noord-Kaap | 17 | 1 507 |
Wes-Kaap | 45 | 6 157 |
Totaal | 566 | 16 885 |
Sterftes en persone wat herstel het:
Provinsie | Sterftes | Herstel |
Oos-Kaap | 15 178 | 277 306 |
Vrystaat | 7 075 | 153 874 |
Gauteng | 19 641 | 900 712 |
KwaZulu-Natal | 14 779 | 498 469 |
Limpopo | 4 084 | 117 173 |
Mpumalanga | 2 011 | 150 074 |
Noordwes | 4 222 | 146 012 |
Noord-Kaap | 2 362 | 88 938 |
Wes-Kaap | 20 181 | 487 956 |
Totaal | 89 515 | 2 820 514 |



O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
31 Kommentare
Ek is siek en sat hiervan.
So maak hulle voorbrand vir die volgende lockdown.
Ek ook, dis regtig nou al so voorspelbaar… Hulle weet wansuis wanneer dit kom, laat mens dink….
Wat n geliegery net soos die ANC. Manupileer alles.
Goeie genade dit is die langste wat ‘n griep nog met die mensdom was, dit terwyl daar uiters doeltreffende medisyne daarvoor is. Hierdie voel soos n NetFlix series. Enige datums vir die vrystelling van die vierde en vyfde episodes?