Covid-19: Virussiekte eis regter

(Foto: @MolotoMothapo/Twitter)

Die regterpresident van die Oos-Kaap, Selby Mbenenge, het sy medelye namens die regsgemeenskap betuig met die familie van regter Patrick Jajj wat Sondag weens Covid-19 dood is.

Die regters en personeel van die Oos-Kaapse afdeling is geskok deur die skielike en ontydige dood van regter Jajj. Hy het positief vir Covid-19 getoets en was in die hospitaal, het die kantoor van die hoofregter in ʼn verklaring gesê.

“Die uitwerking van die Covid-19-pandemie het die regbank nou op ʼn baie werklike en hartseer manier getref. Regter Jajj was ʼn toegewyde steunpilaar van die Grondwet en die handhawing van die wet. Sy ontydige dood beroof ons van die geleentheid om te baat by sy verdere bydrae tot die regbank,” het Mbenenge gesê.

Jajj is in 2018 as hooggeregshofregter aangestel en het tussen 1996 en 2010 as prokureur gepraktiseer.

“Die regbank betuig sy innige medelye met sy vrou, kinders, familie en vriende. Mag sy siel in vrede rus.”

Kaapstad heropen parke

Ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor gewysigde afsonderingsregulasies Sondagaand, het Kaapstad Maandag dadelik sy parke vir oefening heropen.

Ramaphosa het aangekondig dat drankverkope dadelik opgeskort en ʼn aandklokreël weer ingestel word, maar ook dat parke minstens vir oefening mag heropen.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad het gesê inwoners van Kaapstad gaan nou baat by bykomende aktiwiteite danksy toegang tot parke. “Dit gaan help om daaglikse oefening moontlik te maak om geestelike en liggaamlike welstand tydens dié uitdagende tyd te verbeter,” het hy gesê.

Die stad het die afgelope twee weke voorbereidings getref om parke veilig te heropen en te verseker daar word aan alle regulasies voldoen.

Onderwysvakbond vergader oor skerp styging

Die onderwysvakbond Sadtu vergader Dinsdag om ʼn plan te bedink in reaksie op die skerp styging in Covid-19-gevalle landwyd.

Die vakbond sê hy kan nie langer “voortgaan om boodskappe van medelye te stuur aan die families van lede” wat weens die virus dood is nie.

Die vakbond het gevra vir ʼn dringende vergadering met die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, maar het nog geen terugvoer oor sy versoek gekry nie. Nomusa Cembi, woordvoerder van Sadtu, het gesê die vakbond wil die kommerwekkende toename in infeksies met die minister bespreek.

Suid-Afrika is oënskynlik besig om die kruin van Covid-19-infeksies te nader en die getal bevestigde Covid-19-gevalle staan in hierdie stadium op meer as 276 000. Meer as 4 000 sterftes is aangemeld.

Bykomende bron: African News Agency

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.