Covid-19: Vlak 1 beteken nie pandemie ‘is verby’ – minister

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Terwyl die ekonomie vanaf Maandag – toe vlak 1 van die afsondering in werking getree het – selfs verder oopgestel is, het die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, gewaarsku dat Suid-Afrika nog nie buite gevaar is nie.

“Ons het steeds sowat 10 000 pasiënte per week en ons weet daar is selfs meer infeksies. Die syfer is veel hoër,” het Mkhize gesê.

“Ons soek nou na ʼn entstof. Voordat ons ʼn entstof kry, kan ons nie rus nie. Suid-Afrikaners moet besef dat vlak 1 nie beteken dat alles nou agter die rug is nie. Vlak 1 beteken net dat ons die ekonomie weer probeer herbou.”

Ingevolge vlak 1 van die afsonderingsregulasies mag begrafnisse voortaan deur tot 100 mense bygewoon word, of die helfte van die kapasiteit van die lokaal, watter een ook al minder is. Geloofsbyeenkomste kan voortaan deur 250 mense of die helfte van die lokaal se kapasiteit bygewoon word, wat ook al die minste is.

Alle Suid-Afrikaners moet steeds maskers dra sodra hulle die huis verlaat. Gimnasiums mag nie teen meer as die helfte van kapasiteit hul onderneming bedryf nie.

Van 1 Oktober af sal internasionale reise na en van oral in Afrika toegelaat word. Die agtien grensposte wat tot dusver vir vragvervoer oop was, sal nou ook vir toerisme en besoeke oopgestel word, maar die 35 kleiner grensposte wat gesluit was, bly toe.

Enigeen wat die land inkom of wil verlaat, moet bewys van ’n negatiewe Covid‑19-toets toon wat nie ouer as 72 uur is nie. Enigeen daarsonder sal op eie koste twee weke lank in kwarantyn geplaas word.

Drie lughawens – OR Tambo, King Shaka en Kaapstad – is oop vir internasionale vlugte. Alle handelshawens is oop vir almal buiten passasierskepe.

Die aandklokreël bly van krag van middernag tot vieruur in die oggend en geen nagwake, besoeke aan nagklubs, internasionale sport, toeskouers by sport of inisiasieskole word toegelaat nie.

Mkhize het gesê terwyl begin word om maatskaplike en geloofstradisies te hervat, moet Suid-Afrikaners besef dat daar ʼn voor-Covid-19- en ʼn na-Covid-19-wêreld is – en dat hulle aan dié sogenaamde nuwe normaal gewoond moet raak.

“Ons moet verseker ons tref voorsorgmaatreëls want ʼn tweede vlaag [van die virus] kan ons steeds tref. Ons kan nie selfvoldaan wees nie.

“Ons moet die stryd voortsit en daarom moet beheermaatreëls steeds geld,” het die minister gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Hou jou entstof dankie en daar sê jy self: die syfers is nie reg nie. Duh ons weet dit nog die hele tyd

Baardman ·

Raak jy maar gewoond aan die nuwe normaal. My normaal lyk soos dit voorheen was.

Piet ·

100% korrek, Daar is veel groter pandemie genaamd ANC, en daardie pandemie moet so gou moontlik gestop word, anders gaan baie meer mense sterf agv werkloosheid & hongersnood. Covid is vergelykend regtig niks nie.

donsie ·

Wil net graag weet, kan ons ‘n skou aanbied of is dit ook sport

Scalla ·

Sal graag Prof Gray se opinie wou hoor oor die aangeleentheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.